R80 miljoen se buit teruggevind

Die gebuite goedere. (Foto: Verskaf)

Vermoedelik gesteelde goedere ter waarde van R80 miljoen is Woensdag in ʼn pakhuis in Bloemfontein gevind nadat dit glo van ʼn gekaapte vragmotor gebuit is.

ʼn 44-jarige man, wat nie ʼn Suid-Afrikaanse burger is nie, is in hegtenis geneem nadat daar verneem is dat dié goedere onwettig in sy besit is.

Sers. Malomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die Vrystaatse provinsiale georganiseerde misdaadeenheid, die Bloemfonteinse taktiese reaksiespan en plaaslike misdaadrekordsentrum het Woensdag op ʼn pakhuis toegeslaan wat moontlik gebruik word om goedere van gekaapte vragmotors te stoor.

Die lede het die eienaar van die pakhuis, wat in die East End-sakepark geleë is, asook die verdagte in die pakhuis aangetref.

Talle bokse is in die pakhuis aangetref. (Foto: Verskaf)

Altesaam 1 680 bokse met dieselenjin-katalisators ter waarde van miljoene rande was in die pakhuis gestoor. Die beweerde eienaar van die bokse kon egter nie die nodige dokumente of fakture lewer wat die eienaarskap van die voorraad bevestig nie.

Hy is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van gesteelde goedere en sal na verwagting eersdaags in die hof verskyn.

Verdere ondersoek deur die span het aan die lig gebring dat die gesteelde goedere glo van ʼn vragmotor afkomstig is wat in Mei tussen die Oos-Kaap en Gauteng gekaap is.

“Die betrokke vragmotorbestuurder is glo op die dag deur ʼn groep onbekende mans in ʼn bakkie aangeval nadat hy langs die pad naby Venterstad in die Oos-Kaap stilgehou het,” sê Kareli.

“Die verdagtes het die bestuurder in hul voertuig gedwing en na Bloemfontein toe gery om glo die besending in die pakhuis af te laai.”

Die vragmotor is later sonder sy vrag aan die bestuurder, wat ongedeerd is, teruggegee.

Die polisie is kort ná die voorval hieroor in kennis gestel.

Volgens Kareli volg die span speurders tans leidrade op wat moontlik tot verdere inhegtenisnemings kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Henry ·

Dit is baie mooi. Dalk begin die polisie nou hulle werk doen. Nie soos toe hulle onskuldige mense op die stande gevang het nie. Dit is mos sagte teikens gewees.

Kiepie ·

So die kapers ry met die bestuurder tot in Bloemfontein, laai die vrag af by die pakhuis, gee dan sy vragmotor vir hom terug en hy gaan gee dit nie by die polisie aan en gaan wys vir hulle die pakhuis uit nie? Okey!

Miena ·

Iets maak nie sin nie – Venterstad en Bloemfontein distansie is 2H30min se ry. Al daai tyd ry om n vrag af te laai en dan (weer) n (lee) trok terug te gee aan die bestuurder? In my kennis van hierdie tipe sake verdwyn die rowers / kapers met die trok en die vrag binne in en gee nie die voertuig weer terug nie… 1 en 1 maak 11 hierso – nie 2 nie…

marius ·

Die grootkoppe ry nooit aan die pen nie , want hulle geniet die beskerming van die regeerders van elke hool .

Watsenaam ·

Deporteer hom onmiddelik. Moet hom nie toesluit nie want elke ou in die tronk kos ons geld.

gpsa ·

Voertuig gekaap en terug gegee, wat ‘n grap. ondervra maar die drywer ook, seker hulle het al.

Renier ·

Met n 80 mil vrag behoort die trok mos opsporing stelsel te gehad het. Hoe kry hulle nou eers die goed?
Slang in die gras? versekering saak?

Hennie ·

Dat loop daar amptenare rond wat ook nie bewyse kan toon van hul $4miljoen banke nie.

Jacobus ·

Neen die vragmotor bestuurder ook inhegtenis. Is seker hy sal kan help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.