Raad werk hard aan sake oor behandeling van ‘skaars siektes’

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Die Raad op Mediese Skemas (RMS) sê hy neem kennis van groeiende kommer oor die behandeling van skaars siektes en hanteer die kwessie met die erns wat dit verdien.

Maroela Media het vroeër berig mediese fondse gebruik glo vertragingstaktiek as ʼn manier op nie te betaal vir die behandeling van pasiënte met skaars siektes nie. Weens die koste verbonde aan die behandeling van skaars siektes, skop mediese fondse vas teen betaling daarvan.

Daar is ook berig oor regstappe wat teen die mediese skema Medihelp gebring is weens sy voortgesette weiering om vir die behandeling van ʼn kleuter met só ʼn skaars siekte te betaal. RDSA het vroeër gesê hy pleit al maande lank by Medihelp om die behandeling goed te keur wat klein Zachary de Wet nodig het om sy skaars toestand as deel van voorgeskrewe minimum voordele te behandel.

Volgens die raad word sommige skaars siektes, soos Gaucher se siekte, gedek ingevolge voorgeskrewe minimum voordele by mediese fondse. “Die lys van siektes en toestande wat as skaars geklassifiseer word, is egter nie klinkklaar nie,” sê Zongezile Baloyi, woordvoerder van die RMS.

ʼn Skaarssiekte-werkgroep vergader maandeliks en bestaan uit onder andere verteenwoordigers van die RMS, mediese fondse, administrateurs, akademici en kliniese kenners, asook die bewusmakingsorganisasie Rare Diseases South Africa (RDSA).

Die groep het verskeie doelwitte. Dit sluit in die klassifisering van siektes as “skaars”, die omvang van finansiering van behandeling van die siektes en die beskikbaarheid van fasiliteite om die siektes in Suid-Afrika te diagnoseer en te behandel.

Die RMS sal eindelik ʼn voorlegging vir goedkeuring oor die status en finansiering van behandeling van skaars siektes aan die nasionale departement van gesondheid doen.

Die RMS sê mediese skemas oorweeg die meriete van elke geval, byvoorbeeld of die behandeling vir die siekte in die openbare gesondheidsorgsektor beskikbaar is, en of die behandeling vervat word in voorgeskewe minimum voordele. Mediese fondse kan lede ook op ʼn humanitêre grondslag help, maar die RMS sê mediesefondslede moet besef wat hul mediesefonds-opsie dek gegrond op die premie wat hulle betaal, sowel as die konsep om beskikbare hulpbronne te rantsoeneer.

Mediesefondslede kan teen ʼn besluit appelleer. Die RMS sê hy kan egter nie een besluit deur die appèlraad op elke ander geval van toepassing maak nie, omdat die meriete van die sake kan verskil.

Baloyi sê ʼn appèlaansoek behoort 90 dae te duur van wanneer die lid of die mediese fonds appèl aanteken nadat die aanvanklike klagteproses afgehandel is. “Ten spyte hiervan probeer die RMS sy beste om sake oor skaars siektes te bespoedig sodra dit ontvang word.”

Lang vertragings

Kelly du Plessis, woordvoerder van RDSA, het vroeër gesê een van die organisasie se groot besware is dat die RMS nie die hulpbronne het om uitsprake tydig te lewer nie en ook nie die gesag het om dit af te dwing nie. Gevolglik word mediese fondse beboet en betaal hulle hierdie boetes glo eerder as die veel duurder behandeling wat nodig is.

Baloyi sê daar is dikwels tussentydse kwessies wat tussen partye ontstaan wat beteken die proses duur soms langer. Soms verskyn ʼn pasiënt voor die appèlkomitee, maar moet ʼn saak uitgestel word sodat ʼn kundige se mening ingewin kan word.

“Selfs in gevalle waar die RMS probeer om die saak te prioritiseer, veroorsaak die inwin van hierdie menings vertragings. In sommige gevalle neem die partye self maande lank om voorleggings voor te berei.”

Die RMS, wat die belange van mediesefondslede moet beskerm, is nietemin bekommerd oor die lang omkeertye en ook die uitwerking daarvan op mense se gesondheid. In ʼn poging om die tyd te verminder, vergader die komitee nou meer gereeld.

Volgens die raad was daar die afgelope vyf jaar minder as 20 gevalle waar appèl aangeteken is teen besluite om nie vir die behandeling van ʼn skaars siekte te betaal nie. In die meeste gevalle waar appèl aangeteken is, is daar in die guns van pasiënte beslis omdat die staat behandeling in die meeste van die gevalle verskaf. Sommige mediese fondse het met die staat onderhandel om weens die koste die aangewese diensverskaffer van behandeling te wees. Heelwat van die kundigheid om die siektes te bestuur word dikwels ook in die staat of by universiteite gevind.

Baloyi sê mediese fondse tref soms ʼn reëling met die staat om die behandeling te hanteer en in sommige gevalle word die behandelingsdienste deur die openbare en private sektor gedeel. Dit word op ʼn individuele grondslag benader en sake word op meriete beoordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Noem dit eerder eksperimentele siektes, dan sal almal dit seker behandel.

Samuel ·

Die geloofwaardigheid van baie mediese fondse word dikwels in twyfel getrek. Mediese fondse is ‘n groot besigheid en daar word soms na hul eie sakke gekyk ipv die lid se werklike behoeftes.

Marcello ·

Ja, dit sal gaaf wees as mediese fondse ook kan aandag skenk aan ADHD, want hulle redenasie is dit is verbeelding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.