Radelose boere versper Vrystaat-pad

Boere versper die S86 naby Allanridge in die Vrystaat. (Foto: Vrystaat Landbou)

Boere in die Allanridge-omgewing het vanoggend die S86 met bakkies en sleepwaens versper om hul misnoeë met die departement van paaie te demonstreer, weens sy onvermoë om die R30-pad te herstel.

Maroela Media het by Uys van Heerden, die paaieverteenwoordiger van die Allanridge Boerevereniging, gaan uitvind hoe sake tot by hierdie punt gekom het.

“Die grond in ons omgewing se watertafel is baie vlak en met die baie reën dreineer die water na die panne toe en nou het dit opgestoot na die R30 toe. Die departement het toe 300 m van die pad met grond gelig sodat die ryvlak bo die water uitsteek.

“Ongelukkig skrik motoriste wat veral in die donker teen ʼn hoë spoed van die teer na die grond oorgaan en dan gooi hulle hul voertuie om,” sê hy. “Die panne langs die pad is tot twee meter diep en die insittendes verdrink dan as hul voertuie in die water beland. Sedert die reënseisoen begin het, het daar al ongeveer 25 mense gesterf.”

Intussen is daar borde opgesit en verkeerskonstabels aan weerskante van die opgeboude pad ontplooi, maar in ʼn onlangse geval het ʼn voertuig net hul waarskuwingsligte geïgnoreer en ook in die water beland.

Volgens gerugte is 80% van die noodlottige gevalle weens dronkbestuur veroorsaak.

‘n Sleepwa verwoord boere se misnoeë. (Foto: Vrystaat Landbou)

“Tans het die departement die pad gesluit omdat daar te veel lewens verloor is en daar is nou ʼn stootskraper besig om hoë walle te stoot om die pad af te sper. “

Van Heerden sê daar is eintlik ʼn goedkoop en eenvoudige oplossing, “maar dit kom voor asof die departement nie eers geld daarvoor het nie, want die verteenwoordiger het gesê die kwotasie is te hoog. Die departement hoef net dreunstroke op die teer aan weerskante van die opgeboude pad aan te bring sodat die motoriste gewaarsku kan word en stadiger ry. Ek het nou al voorgestel om self die teer te skenk om die dreunstroke aan te bring, maar ek wag nog vir ʼn antwoord.”

Die verkeer van die R30 word nou na die S86 herlei en dit hou nie net ’n gevaar vir die publiek in nie, maar ook vir die boere en hul werkers, sê Rudi Jansen van Vuuren, ’n boer van die omgewing.

“Bowendien is dit nou strooptyd en daar beweeg trekkers en stropers op die pad. Sekere motoriste ry baie onverskillig en ons wil verhoed dat iemand seerkry. Dit maak ook nie sin dat die departement mense op ’n 18 km-ompadroete forseer terwyl hulle slegs die 300 m-stuk kan herstel nie.”

Verkeer hoop op nadat boere die S-86 versper het. (Foto: Vrystaat Landbou)

Die S86 loop naby Van Heerden se huis verby en hy sê dié sekondêre pad kan glad nie die verkeer hanteer nie. “Tydens Paasnaweek het daar tussen 400 en 500 voertuie per uur verbygekom.”

Intussen sê dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), dat die organisasie al geruime tyd poog om met die Vrystaatse premier oor die paaiekwessie in die provinsie te vergader, maar dat daar net geen reaksie of terugvoer ontvang word nie.

Volgens Van Heerden is daar onlangs ʼn skaap of bok in die water verdrink om die “bose geeste” wat die sterftes veroorsaak, te verdryf.

Uit radeloosheid het ʼn groep boere vanoggend die S86 afgesper. “Die ouens het vir ʼn uur die pad toegemaak wat ontwrigting veroorsaak het. Baie van die motoriste was egter simpatiek teenoor ons aksie, want hulle weet dat dit op die lang duur vir hulle tot voordeel sal wees. Indien ons nie reaksie kry nie, sal ons volgende keer die pad langer toemaak,” sê Van Heerden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek ken die gevoel om vasgevang te wees in ‘n land waar idiote regeer en intelligente mense moet daaronder ly,sterkte met julle verset.

Laksman ·

Ek kan nie onthou dat ek iewers iets van die voorvalle gelees het nie (25!!)………klink erger as Voelklip. Ek glo dit sou beslis meer dekking gekry het?

Piet 6 ·

Dit was oral in die nuus, radio, TV, koerante, sosiale media en so kan ek aangaan.

Kobus ·

Jy het seker nog nie die R30 pad gery nie.Daar was so paar weke terug ‘n berig in die koerant oor mense wat in die bus vasgevang was.

Frank John ·

Waar lees jy nuus of lees jy nie. Die nuus het dit uit basein.

Althes ·

Fikile Mabula gryp in dat daardie paaie herstel word, sodat lewens gered kan word. Vergeet nou eers van die magsgeding van treinvervoer in die Weskaap waaroor jy jou opgeruk het.

Corne123 ·

Mooi so boere kom ons staan saam en wys die ANC ons is gatvol vir geen diens maar moet betaal vir n diens

Di ·

Daar is SO baie probleme LANDWYD op die paaie dat die regering soos afkop hoenders rondskarrel en GEEN idee het hoe om hierdie JARELANGE skade wat aangerig is weens nie-instandhouding, reg te stel. Onevoegde Ministers sit in poste en verdien vet salarisse, intussen verval als in die land tot rommelstatus .

Andrew ·

Die een groot geveg wat moet gebeur is om die paaie onder n boom te kan sit soos in buurte, self die paaie te ondehou, en dan n munisipale rebat te ontvang vir die kostes en vir die wat help betaal om die paaie te ondehou. Die paaie is reeds almal onder private cctv. waar die gemeenskap saamwerk

Pierre ·

en volgende keer sal daar honderde verkeer en polisie beamptes wees om die pad oop te forseer en mense in die straat af pardeer hof saal toe.

Lillian ·

Ja wat, ons volkie protesteer om ‘n menslike manier, ander brand als af …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.