Ramaphosa betuig ook medelye met Abe se afsterwe

Pres. Cyril Ramaphosa en Shinzo Abe, Japan se eerste minister, poseer vir ‘n foto. (Foto: Elmond jiyane, GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sê hy neem met skok en hartseer kennis van die afsterwe van Japan se voormalige premier Shinzo Abe.

Maroela Media het vroeër berig Abe (67) is Vrydagmiddag in ʼn hospitaal dood verklaar nadat hy vroeër dieselfde dag tydens ʼn verkiesingsveldtog geskiet is. Hy was besig om ʼn toespraak te lewer toe die voorval plaasgevind het. Hy het skietwonde aan sy nek en bors opgedoen, terwyl een koeël deur sy linkerskouer gegaan het.

“Namens die regering en die mense van Suid-Afrika betuig ek my innige meegevoel met sy familie, vriende en kollegas, asook die regering en mense van Japan. Hy was ʼn nabye en spesiale vennoot van ons land.”

Ramaphosa sê die geweld wat Abe se lewe geëis het, is ʼn oproep tot ʼn strewe na nie-gewelddadigheid, vrede en verdraagsaamheid wêreldwyd.

“Ek het die voorreg gehad om ʼn noue vennootskap met eerste minister Abe te hê tydens my termyn as adjunkpresident en president van die Republiek. Ek onthou vriendelike en produktiewe interaksies met eerste minister Abe tydens my besoek in Augustus 2015 aan Japan. Ons het beduidende vordering gemaak in die verstewiging van bilaterale betrekkinge, veral in die ekonomiese sfeer, asook Suid-Afrika se samewerking met Japan om kwessies op die internasionale agenda aan te roer.”

Hy dink ook terug aan sy deelname as president in die sewende internasionale konferensie oor Afrika-ontwikkeling in Jokohama in Tokio in Augustus 2019.

“Kort daarna het ek die plesier gehad om na Japan terug te keer toe eerste minister Abe en die regering en die mense van Japan mense van reg oor die wêreld verwelkom het vir die 2019-Rugbywêreldbeker. Vir die eindstryd op 2 November 2019 het ek saam met eerste minister Abe gesien hoe die Springbokke as wêreldkampioene uit die stryd tree. Sy omhelsing en bladskud toe die eindfluitjie geblaas het, was ʼn teken van die verhouding tussen ons twee lande.”

Ramaphosa sê hy hoop dat die mense van Japan en Suid-Afrika berusting sal vind in die nalatenskap van Abe – in Japan, wêreldwyd en in die diepte van betrekkinge tussen Suid-Afrika en Japan. “Mag hy in vrede rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Delia ·

Jinne Mnr Ramaphosa, ek het nog nooit gehoor of gelees dat jy medelye betoon met vermoorde boere se familie nie. Jy sê Abe was n nabye en spesiale vennoot van ons land. Wat is die boere anders as ook vennote van ons land wat kos op ons tafels sit?

Delia ·

Jy hoop ons kan berusting vind in Mnr Abe se moord. Mnr Ramaphosa, ons sukkel om berusting te vind met al die moorde in ons eie land. Spreek u asb hieroor ook uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.