Ramaphosa kom in Nieu-Delhi aan vir G20-beraad

Pres. Cyril Ramaphosa kom in Nieu-Delhi aan vir die G20-beraad (Foto: GCIS)

President Cyril Ramaphosa het Vrydag in Nieu-Delhi, Indië, aangekom om deel te neem aan die G20-leiersberaad wat oor die naweek plaasvind.

Die nuwe Delhi G20-beraad word aangebied onder die tema “Een Aarde, een familie, een toekoms”.

Die president sal Saterdag aan verskillende werksessies deelneem en Sondag by ander staatshoofde aansluit by die kransleggingseremonie by die Rajghat-gedenkplek.

Vincent Magwenya, woordvoerder van die president, sê Ramaphosa sal aan die kantlyn van die beraad ook bilaterale gesprekke voer met staatshoofde en regerings om Suid-Afrika se diplomatieke, ekonomiese en kulturele bande te versterk.

Die Nieu-Delhi-beraad fokus op die sleutelpilare van die Indiese G20-presidensie, waaronder versnelde, inklusiewe volhoubare en weerstandige groei; versnelde vordering oor volhoubare ontwikkelingsdoelwitte; hoofstroom-leefstyl vir omgewingsake (LiFE); multilaterale instansies vir die 21ste eeu; tegnologiese transformasie en openbare infrastruktuur; die bou van digitale openbare infrastruktuur; die versekering van internasionale vrede en harmonie; en die skep van ʼn meer inklusiewe wêreld, geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue.

Die groep van twintig (G20), ʼn groep van die 20 voorste nywerheids- en ontwikkelende lande, is ʼn informele vereniging wat uit die Europese Unie en 19 ander lidstate bestaan. Die G20 is as ‘n belangrike internasionale forum, ten opsigte van samewerking en wedersydse raadpleging en konsultasie in verband met kwessies wat die internasionale finansiële stelsel raak, gestig.

Indië hou die presidensie van die G20 van 1 Desember 2022 tot 30 November 2023. Die G20-beraad word jaarliks aangebied onder die leierskap van die roterende presidensie.

Suid-Afrika neem die G20-presidensie in 2025 oor.

Ramaphosa word in Indië ondersteun deur die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, dr. Naledi Pandor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Hierdie siel vlieg baie rond, maar bereik niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.