Ramaphosa kom in Rusland aan

Pres. Cyril Ramaphosa was Vrydag (16 Junie 2023) in Oekraïne om met pres. Wolodimir Zelenski te vergader. (Foto: Presidency/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Saterdagmiddag in St. Petersburg, Rusland, aangekom vir die tweede been van sy en sy Afrika-bondgenote se vredesending.

Vincent Magwenya, Ramaphosa se woordvoerder, sê sy aankoms in Rusland se kulturele hoofstad volg ná “konstruktiewe gesprekke met pres. Wolodimir Zelenski van Oekraïne” gister.

Dié gesprekke was egter nie sonder haakplekke nie.

Daar was Woensdag en Donderdag groot drama op ʼn Poolse lughawe in Warschau waar bykomende veiligheids- en ondersteuningspersoneel sowel as joernaliste vir ure lank oor onder meer vuurwapenpermitte gestrand was.

Tydens die vredesending se uiteindelike aankoms in Oekraïne was daar boonop lugaanvalsirenes wat afgegaan het, wat die afvaardiging gedwing het om in die hoofstad Kiëf te skuil.

Zelenski het ook vir die Afrika-vredesending gesê dat die uitkoms van sogenaamde vredegesprekke skraal lyk.

Desnieteenstaande is Ramaphosa en sy bondgenote van Zambië, die Comore-eilande en Senegal, asook die verteenwoordigers van die Kongo, Egipte en Uganda van plan om later vandag met Rusland se pres. Wladimir Poetin te vergader.

“Saam sal hulle ʼn pad na vrede soek vir die 16 maande lange konflik tussen Rusland en Oekraïne wat ʼn verwoestende impak op die wêreld se ekonomie het en talle lewensverliese tot gevolg het,” sê Magwenya.

Ramaphosa word deur dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, vergesel en sal na verwagting Sondag terugkeer na Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.