Ramaphosa moenie bedank (as hy onskuldig is)

Pres. Cyril Ramaphosa wil glo die artikel 89-paneel se bevindings laat hersien. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa moet hom nie in ʼn bedanking laat inboelie óf oorweeg om te bedank op grond van ongetoetse bevindings van die artikel 89-paneel nie.

“Die onafhanklike paneel het Ramaphosa nie aan enigiets skuldig bevind nie. Die paneel het eerder ʼn voorlopige bepaling gedoen en self gesê hy het bevindings gemaak met beperkte feite tot sy beskikking. Daar is aanbeveel dat die president ʼn prima facie-saak het waarop hy moet antwoord,” sê Brett Herron, LP en sekretaris-generaal van GOOD.

Ramaphosa was ná die bekendmaking van die paneel se verslag glo op die punt om te bedank, maar sy bondgenote het hom klaarblyklik oortuig om aan te hou baklei.

Saterdagoggend het News24 berig dat die president sy regspan opdrag gegee het om ʼn proses van stapel te stuur om die artikel 89-paneelverslag op hersiening te neem.

Herron sê indien die president nou bedank, sal dit die land in ʼn leierskapskrisis dompel met moontlike verwoestende gevolge vir korttermynbestendigheid en sosio-ekonomiese gevolge.

“Hoewe dit ʼn nuwe, prysenswaardige en uiters hoë standaard vir die beginsels van aanspreeklikheid sal stel, moet die president – indien hy nie skuldig aan enige misdade is nie en soos hy tot dusver volgehou het – in sy pos bly en sy naam in ere herstel,” sê Herron.

“Dit sal in die beste belang van die land wees.”

Volgens GOOD moet Ramaphosa die kans gegun word om sy saak te stel, eers tydens die parlementêre proses as hy in ʼn staat van beskuldiging geplaas word en dan moontlik in die hof.

“Die land se politieke leierskap en ekonomiese rigting kan nie deur opportunisme, verneukery, onbewese bewerings en Stalingrad-verdedigingstaktieke voorgeskryf word nie.”

Of hy nou die ANC se leiersverkiesing oorleef of nie, is Ramaphosa se posisie in ʼn tyd van geweldige sosio-ekonomiese druk en politieke gevegte té belangrik om bepaal te word deur die hiënas by die deur, sê Herron.

“Indien hy enige wetgewing oortree het, moet hy die wetlike en grondwetlike gevolge dra.”

Herman Mashaba, president van Action SA, sê die president se stilte is oorverdowend. (Foto: Action SA)

ActionSA het Ramaphosa intussen gekap vir sy “oorverdowende stilte” en sê enige leier met murg in sy pype sou óf bedank het, óf die land op hoogte gebring het van sy posisie oor die verslag.

Herman Mashaba, president van ActionSA, sê die land het duidelikheid van sy president nodig en die ekonomie en die land se geldeenheid, wat weens die onsekerheid reeds steier, het dit ook nodig.

Mashaba sê Suid-Afrikaners is uiters onseker omdat hulle nie weet hoe hul land, hul lewe en hul sakeondernemings geraak gaan word indien nog ʼn ANC-president moet bedank nie.

“Ramaphosa tree op soos ʼn beskuldigde wat sy reg uitoefen om homself nie te inkrimineer nie, terwyl hy terselfdertyd die interne oorwegings van die ANC en sy NUK-vergadering prioritiseer. Dit lyk nie of dit êrens in die president se gedagtegang opkom dat Suid-Afrika en sy ekonomie, wat ʼn behoefte aan duidelikheid het, bo sy persoonlike en politieke oorwegings gestel moet word nie.”

Suid-Afrika moes oor die laaste dekade probeer vrede maak met politieke leiers wat veg teen strafklagte teen hulle en skendings van die Grondwet. “Dit lyk of dit die leiers besig hou, terwyl die land desperaat op soek is na doeltreffende en etiese leierskap,” sê Mashaba.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tredoux ·

Geen ANC lid is onskuldig nie. Die bewys is die land se toestand.

SjN ·

Hond eet hond, fluitjie blaser het sy hou ingekry, hy is reeds skuldig deur nie die regte prosedures en wyse te volg met die aanmelding en verklaring van valuta regulasies, ens nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.