Ramaphosa-planne gaan staatskapers nié afskrik

Pres. Cyril Ramaphosa tydens Sondagaand se aankondiging. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die DA het pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand oor stappe wat gedoen word in die stryd teen korrupsie, as ʼn “ontleding” van die Zondo-kommissie na staatskaping se verslag bestempel, pleks van ʼn plan oor wat die uitvoerende gesag gaan doen om die staat teen diefstal op so ʼn omvattende skaal te beskerm.

Ramaphosa het gisteraand gesê dat Suid-Afrika nou ʼn nuwe blaadjie gaan omslaan in die stryd teen korrupsie.

Die president het die regering se reaksie op die aanbevelings in die Zondo-verslag by die parlement ingedien. Stappe wat gedoen word, sluit in die omskakeling van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se onafhanklike ondersoekdirektoraat (OD) in ʼn permanente eenheid en veranderings wat binne die staatsdiens sal plaasvind.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê Suid-Afrikaners se hoop dat Ramaphosa die Zondo-kommissie se verslag gaan gebruik as ʼn manier om korrupsie en bedrog in die staat vas te vat, is “op tipiese Ramaphosa-wyse verydel”.

“Die president het mooi woorde gebruik, maar in werklikheid voor die handliggende beginsels van goeie regering uitgelig. Dié beginsels moes nog altyd in Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie gegeld het.

“Die president het ook baie stappe herhaal wat hy reeds in 2018 aangekondig en ingestel het. Dié stappe het egter gefaal om korrupsie tydens die Covid-19-pandemie te voorkom. Die president het tewens sover gegaan as om te sê hy alleen het die finale besluit oor die uitvoering van enige aanbeveling van die Zondo-verslag,” sê Groenewald.

“Daarbenewens sal enige optrede teen ʼn lid van die uitvoerende gesag by die parlement berus wat beteken alle lede van die kabinet sal steeds die volle beskerming van die ANC geniet.

“Die president het geen besluit geneem of stap aangekondig wat ’n enkele staatskaper onrustig gaan laat slaap nie. Dit is uiters teleurstellend.”

Siviwe Gwarube, DA-hoofsweep, sê ook talle van die president se aankondigings was werk wat reeds deur wetstoepassingsagentskappe gedoen word. Ramaphosa het nie uitgebrei oor hoe hierdie agentskappe versterk gaan word sodat diegene wat die staatskoffers geplunder het, daarvoor kan boet nie.

Net soos Groenewald sê Gwarube ook Ramaphosa het dit vermy om enige aankondigings te doen oor kabinetsministers wat by staatskaping betrek is en hoe hy hulle verantwoordelik gaan hou.

Gwarube sê ten spyte van die sowat R1 miljard wat bestee is in die jare waartydens die kommissie sy ondersoek gedoen het, gaan weinig optrede volg en daarom moet die parlement as laaste linie van verdediging ingryp.

Sy sê die parlement doen nie genoeg om die uitvoerende gesag verantwoordelik te hou nie, terwyl die ANC sy getalle gebruik om die werk van die parlement te ontspoor.

Die IVP sê ook dit lyk of die aanbevelings onbelangrike betrokkenes gaan teiken en dat die aankondigings nie veel vertroue skep nie.

Die party stem saam dat slegs wanneer diegene in die Ramaphosa-binnekring – wat by staatskaping betrek word – gevolge in die gesig begin staar, die ANC enige hoop kan hê om Suid-Afrikaners te oortuig dat hy ʼn gebroke land kan red.

Wat betref stappe teen prominente ANC-lede in gesagposisies, lui die verslag dat die president die kommissie se bevindings, aanbevelings en waarnemings oor sekere individue oorweeg.

Die IVP sê die feit dat dit ses jaar geduur het vir die land om hierdie punt te bereik, is niks om te vier nie.

Volgens die party gaan die NVG boonop moet pa staan vir heelwat van die verantwoordelikheid rakende aanspreeklikheid en gevolge. Dit sluit in 202 aanbevelings oor strafregtelike ondersoeke en die moontlike vervolging van invididue, entiteite en groepe mense.

Die NVG het egter heeltemal te min hulpbronne en steier om net sy bestaande werk gedoen te kry, sê die IVP.

Die party sê ook daar is ʼn behoefte aan ʼn parlementêre portefeuljekomitee om ʼn oorsigrol oor die presidensie te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

domheks ·

Korrupte ondersoek en beskerm die korrupte. Korrupte kaders kan maar voortgaan om die stoele warm te sit met hulle vet basse! R1 miljard in die drein af. ONS SOEK DIE GEMORS AGTER TRALIES!

Daniel ·

Korrek, die tronk is waar hulle hoort, anders is al wat ‘n komissie is bloot ‘n mors van tyd en geld!

Kokerboom ·

Ons het geleer om NIKS ernstigs op te neem van die korrupte ANC kaders behalwe wanneer ons vryhede bedreig word. Sprekende voorbeeld is Zuma wat sekerlik die argitek van staatskaping beskou kan word maar vry rondloop en siek siniese opmerkinge maak!As dit nie so ernstig was kon mens dit as lagwekkekkend beskou!!

Papsak ·

Ek stem soek hole lot agter tralies waar hulle hoort skelms

Republikein in die Wes Kaap ·

Kyk, Zuma is ‘n eerlike skelm, maar hierdie perd is ‘n skelm skelm.

Koos 100 ·

Eskom het my sy toespraak gespaar.
Ek het werklik verwag om te lees van ‘n nuwe kommissie van ondersoek, om te bepaal of Zondo reg was. Dan nog ‘n kommissie om te ondersoek of daar korupsie wel plaas gevind het. Dan nog een om die Guptas op te sproor. Dis mos al wat hy kan doen. Kommissies aanstel, weerlig aflei, lieg en ontken.

Morné ·

Ramaphosa se toespraak was gemik om die internasionale beleggers te beindruk. Dit is soos Dr. Piet Groenewald genoem het, die president sal nie sy kabinet ontbloot nie. Dit was ‘n mooi heuning om die mond poging wat al die partye wat hy moet tevrede hou kon paai

Republikein in die Wes Kaap ·

Internasional beleggers is darem nie idiote nie.

PieterJ ·

Was daar rêrig enigiemand wat gedink het daar gaan iets aan korrupsie gedoen word?

My siening ·

Cyrel jy bly n grap soos die res van die kaders, julle het nog nooit iets opgelos nie, statistieke bewys julle is aasvoels wat toe sak op geld geleentheid dis hoekom alles in die land in reünies verval. As daar niks oor is dan sal apartheid die skuld kry. Daar is nie n medisyne vir domgeid nie!

goodCOP ·

Hy kan nie te hard optree teen sy vriende as dit juis hulle is wat die einde van die jaar hom in sy posisie moet verkies nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.