Ramaphosa rol nie rond oor persvryheid

(Foto: Siyabulela Duda)

Mediavryheid is nie iets waaroor pres. Cyril Ramaphosa snags rondrol nie.

Ramaphosa sê in sy jongste nuusbrief, wat Maandagoggend uitgegee is, Suid-Afrikaanse joernaliste geniet daagliks mediavryheid en word nie soos in ander dele van die wêreld vanweë die uitvoer van hul pligte vermoor nie.

Ramaphosa is wel bekommerd oor die aanlyn en ander vorme van mishandeling wat Suid-Afrikaanse joernaliste moet verduur.

“Die mishandeling van joernaliste wat in soveel wêrelddele plaasvind, is nie iets wat in Suid-Afrika toegelaat mag word nie. Die media speel ’n ongeëwenaarde rol om te verseker dat daar aanspreeklikheid in ons demokratiese bestel is, ons moet dus almal vasskop teen enige pogings om joernaliste te intimideer of stil te maak.”

Ramaphosa wys in sy jongste nuusbrief, wat handel oor Mediavryheidsdag, ook bekend as Swart Woensdag, wat vandeesweek op Woensdag (19 Oktober) herdenk word, daarop dat 45 joernaliste en vier mediawerkers vanjaar alleen oor die wêreld heen tydens die uitvoer van hul pligte vermoor is.

Altesame 207 joernaliste en sewe mediawerkers is ook vanjaar reg oor die wêreld gevangene geneem.

“Geen joernaliste is in 2022 in Suid-Afrika onder omstandighede wat verband hou met hul werk vermoor nie en niemand is in die tronk gestop nie. Dit was ook die geval verlede jaar, die jaar voor dit en die jare wat dit voorafgegaan het.

“Dit is ’n aanduiding van nie net ʼn sterk, gesonde media nie, maar ook van ʼn sterk, gesonde demokrasie,” meen Ramaphosa.

“Dat joernaliste vry is om hul werk te beoefen sonder vrees vir vergelding, is iets waarop ons uiters trots kan wees. In Suid-Afrika kan media vrylik publiseer en uitsaai, en die media reguleer homself deur verskeie meganismes soos die Perskode.”

Wat dan van Maughan?

Ramaphosa het egter nagelaat om in sy nuusbrief te noem dat oudpres. Jacob Zuma onlangs private vervolging teen onder meer ’n verslaggewer ingestel het vir haar bekendmaking van besonderhede rakende sy gesondheid.

Maroela Media het vroeër berig die oudpresident beskuldig adv. Billy Downer daarvan dat hy die Nasionale Vervolgingswet oortree het deur beëdigde verklarings met inligting oor sy gesondheid aan Karyn Maughan, ’n verslaggewer van News24, te laat uitlek.

Die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) sê egter die inligting wat deur Maughan gepubliseer is, is openbare rekord en nie vertroulik nie.

Sanef het dié private vervolging van Maughan verlede maand as “ʼn duidelike geval van intimidasie wat uitsluitlik bedoel is om haar stil te maak”, bestempel.

Ramaphosa ken kritiek

Ramaphosa sê ook in sy nuusbrief hy is deeglik bewus daarvan dat hy as staatshoof byna daagliks aan fel kritiek onderwerp word. Hy sal egter voortgaan om dit moedig te verdra.

“Sowel die regering as die private sektor word versoek om hul rol te speel in die ondersteuning van die vrye pers deur die volhoubaarheid daarvan te verseker deur middel van advertensies, inhoudsvennootskappe en ander modelle.

“Die enigste teenvoeter teen die verspreiding van disinformasie, is die groei en uitbreiding van geloofwaardige nuusmedia. Die enigste teenvoeter teen slegte joernalistiek vol politieke agendas en ‘suiwerende kruistogte’, is geloofwaardige, goed opgeleide joernaliste wie se enigste doel is om die publiek op te voed en in te lig.

“Terwyl ons Mediavryheidsdag herdenk, salueer ons ons land se hardwerkende joernaliste, redakteurs en ander mediawerkers wat voortgaan om hul belangrike rol in diens van demokrasie te vervul.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anel ·

Ek weet nou nie of my geheue ny in die steek laat nie, maar is daar nie so ‘n ruk terug ‘n klomp journalisteberoof van hul toeristing nie? Terwyl hulle met opnames besig was nie? As ek verkeer is, verwyder maar. Dan weet ek.

Althes ·

Jy is reg, maar dit is ñ rooftog.
Die EFF ek dink dit was Floyd Shivambu wie ñ joernalis aangerand het. Ek dink hy het skotvry daarvan afgekom as ek my nie misgis nie

domheks ·

Nou hoekom dagvaar ou zupta ‘n joernalis – en jy laat dit toe???

Piet 6 ·

President Ramaphosa mag nie vervolging stop nie, geen president wêreldwyd is veronderstel om vervolging te stop nie. Dit sal beteken ń president meng in in die verloop van die regstelsel.

Hoe sal jy voel as hy sommer Jacob Zuma se vevolging stop?

Vexed ·

Ja nee wat, ek glo nie daar is kommer oor pers vryheid in SA nie, solank hulle na die regering se pype dans natuurlik…

Oosie ·

En daar praat jy waar.. geen berugte van die man en vrou op straat teenoor omstandighede in die land.. ons kan net koment en hul sien dit nie..

Andre ·

Persvryheid beteken net hoofstroom media wat baie kieskeurig is oor wat hulle wil bekend maak.

Manie ·

Korrek, sommige media geniet hopeloos te veel persvryheid. Wat van die mediahuis wat saamspan om Ramaphosa te ontsetel, dis orals nuus en word toegelaat.

Owlie ·

Persvryheid?????
Bestaan daar dsn nog iets soos VRYHEID in SA
Of jy nou pink, pers, groen, oranje of watter kleur of taal is vryheid is daar beslis nie vir diegene wat hulself as trots hardwerkende Suid Afrikaners wil sien nie. Hierdie berig is die voorbeeld dat die een persoon wat n stop tot die vervolging van media en regters kan sit, n stop tot al hierdie tyd en geld mors kan dit noem dit nie eens in n nuusbrief nie
Wees die leier en stop sl hierdie absurd tyd en geld mors dinge

boerie ·

“Hy sal egter voortgaan om dit moedig te verdra.” Hy lieg , hy is net plein dikvellig.

Nico ·

Die sogenaamde media is besig om saam met die president te werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.