Ramaphosa swyg oor Brics-lande se ‘vergrype’

Die ANC-geleide regering se goedkeuring van Brics-uitbreiding toon ʼn gebrek aan deursigtigheid in kriteria om toelating, sê die DA. (Argieffoto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die ANC-geleide regering se goedkeuring van Brics-uitbreiding toon ʼn gebrek aan deursigtigheid in kriteria om toelating. Suid-Afrika het boonop ʼn morele verpligting om op te staan teen ongeregtigheid in die internasionale samelewing.

“Die skerp teenstrydigheid tussen Suid-Afrika se gekoesterde grondwetlike waardes en die land se steun vir Brics-lidmaatskap deur aansoekerlande soos Saoedi-Arabië, Iran, Kuba en Belarus, is ʼn kommerwekkende herinnering aan ʼn koerslose skip op stormwater,” sê Emma Louise Powell, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking.

Powell sê pres. Cyril Ramaphosa se opmerkings voor die Brics-beraad wat Dinsdag begin, benadruk opnuut die onenigheid in die ANC se aanbod oor buitelandse beleid. Sy sê Ramaphosa het ook versuim om enige bewyse te lewer van tasbare maatreëls wat sy regering ingestel het om vryheid, vrede en sekuriteit in die wêreld te bevorder.

“As voorsitter van die Afrika-unie (AU) het Ramaphosa versuim om sinvolle stappe te doen om menseregte en die oppergesag van die reg op die vasteland te bevorder. Die ANC-geleide regering hou hom deurlopend blind vir die manipulasie van kiesersuitslae in buurland Zimbabwe en het geweier om die deurvoer van dodelike teen-LGBTQI+-wetgewing in Uganda te veroordeel.

“Weinig is gedoen om oplossings te vind vir voortgesette geweld in Afrika-lande soos Soedan en, meer onlangs, Niger,” sê Powell.

Sy sê Ramaphosa “swyg ook oor die menseregtevergrype van ander Brics-lidlande teen etniese en geloofsminderhede”, terwyl die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee wapens en ammunisie lewer aan skelm rolspelers.

Dít, sê Powell, is verraad van die einste beginsels wat die ANC aanvoer hy heilig hou.

“Deur nuwe vennootskappe aan te gaan met despotiese lande soos Iran, is nie net verraad van Suid-Afrika se grondwetlike beginsels nie, maar stel ook ons land se diplomatieke integriteit in gevaar. Die ANC se onverskillige houding jeens menseregteskendings – deur dit te verruil vir korttermyn‑ ekonomiese belange – benadruk die beleidteenstrydigheid.”

Maroela Media het vroeër berig daar is groeiende belangstelling in Brics; minstens 40 lande het al aangedui dat hulle belangstel om aan te sluit en 23 hiervan het al formeel aansoeke ingedien om Brics-lede te word.

Die DA bly ook steeds bekommerd oor die bondgenootskap tussen Suid-Afrika en Rusland wat moontlik ʼn bedreiging vir Suid-Afrika se voortgesette proses van demokratiese konsolidasie kan inhou.

“Namate die Brics-beraad vorder, moet alle Suid-Afrikaners ons leiers vra om die soort wêreld wat hulle wil skep, te definieer en te verseker dat só ʼn visie strook met ons demokratiese waardes as ʼn land,” sê Powell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Anel ·

Die anc het geen belang by demokrasie nie. Al waarin hulle belang stel is hoeveel geld hulle uit die ooreenkomste kan maak. Nie om die burgers van die land te bevoordeel nie, maar vir eie gewin. Geen mens kan hulle geensins vertrou nie!!!!

annie ·

Die DA draai ok maar sy manteltjie na die wind met die 2024 verkiesing om die draai. Watter land in die Weste kan praat van edele denke en -dade. Die VSA streef na mag en beheer en onderdanigheid. Gelukkig kan on DA en VF+ daarvoor handopsteek.

Marthinus W ·

Niger het die grootste Amerikaanse militere basis in Afrika; dit het biljoene gekos. En van daar af word missies gedoen, waartydens mense gedood word. Die offisier wat die staatsgreep gelei het, is in Amerika opgelei. [Amerika weier om te erken dit was n staatsgreep] Die DA is baie selektief in hulle argwaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.