Ramaphosa ‘tevrede met vlak van verbintenisse by klimaatberaad’

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Saterdag sy amptelike besoek aan Dubai afgesluit nadat hy vandeesweek Suid-Afrika se deelname by die VN se COP28-klimaatberaad, gelei het.

Maroela Media het vroeër berig Sultan Ahmed al-Djaber, COP28 se president, het dié beraad as die belangrikste klimaatberaad nóg – sedert die Parys-ooreenkoms in 2015 by die 21ste internasionale klimaatberaad (COP21) onderteken is –bestempel.

Ramaphosa sê hy is tevrede met die vlak van verbintenisse wat by COP28 gemaak is, insluitend die besluit om ʼn verlies-en-skadefonds te stig.

“Suid-Afrika verwelkom die deurslaggewende besluit van COP28 om ʼn nuwe fonds teen verlies en skade operasioneel te begin, en ons verwelkom ook al die beloftes wat reeds gemaak is.

“Ons hoop om die fonds te sien groei en te sien hoe alle ander verpligtinge wat tot dusver aangegaan is, nagekom word.”

Ramaphosa het ook Suid-Afrika se implementeringsplan, die Just Energy Transition (JET)-beleggingsplan, aan die VN se sekretaris-generaal, Antonio Guterres, voorgelê. Die plan is met sommige van die JET-vennote gedeel wat soveel as $8,5 miljard geoormerk het met die oog op ʼn koolstofvrye ekonomie in Suid-Afrika en om die uitwerking van klimaatsverandering te help teëwerk.

(Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ramaphosa het ook ʼn beroep op ander lande gedoen om deel te neem aan pogings om die uitwerking van klimaatsverandering in ontwikkelende lande te beveg.

“Ons regverdige energie-oorgangsplan benodig baie meer finansiering sodat ons ʼn meer effektiewe en positiewe oorgang moontlik kan maak. Veral met betrekking tot gemeenskappe wat geraak gaan word as ons van fossielbrandstowwe na hernubare energie oorgaan.”

Hy sê hy sal graag in die volgende twee weke – terwyl die klimaatberaad voortduur – ʼn groter fokus op ontwikkelde ekonomieë wil sien en dat hulle hul Parys-verpligtinge nakom.

“Ons verwag steeds dat die $100 miljard, wat beloof is, beskikbaar gestel sal word om lande te ondersteun wat die minste verantwoordelik is vir die skade wat aan die klimaat aangerig word, sodat hulle die uitwerking van klimaatsverandering kan bestuur.”

Die president het die rol van multilateralisme en solidariteit as sentraal tot wêreldwye klimaataksie bestempel.

Die konferensie wat op 12 Desember eindig, bring wêreldleiers byeen om vordering en ambisie te bespreek in verband met pogings om klimaatsverandering te beveg.

Barbara Creecy, die minister van bosbou, visserye en omgewing, sal die land se deelname vir die res van die konferensie lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Schalk ·

Ek kan nie help om te wonder waarvoor die $100miljard waarvoor die bakhand bende wag, aangewend gaan word nie. Dit is duidelik dat hulle geen pogings aanwend om die krag krissis in die land aan te pak nie. Maar oral waar ramaphosa kan bedel, daar is hy en sy trawante.

Michael ·

Sy ore tuit as hy die woord fondse,geld of finansiële hulp hoor.

Anel ·

Klimaatsverandering? Asseblief! Hy het gehoor hy gaan geld kry en het seker klaar besluit vir eie hy hoeveel gaan gee. Soos wat dit nou aan gaan, sal ons oor 10 jaar weer permanent terug wees op waskerse en parafienlampe. Grondpaaie en handgeskrewe briewe want krag vir tegnologie sal daar nie meer wees nie. Moet nooit geld in die teenwoordigheid van die anc noem nie. Dit is al hoekom hulle sulke berade bywoon, om te aas. Wat se positiewe bydra kan hulle tog maak?

hpven ·

Hy is ook tevrede met die ANC se plundering asook verval van van sy land!

annie ·

‘n Ewig-ontwikkelende land is ons ook. En dan vlieg ons arm president met sy fancy vliegtuig en entourage teen duisende per kop om by kongresse te gaan snik vir nog van die beste. Deesdae word Dubai en Arabiese lande gekies om daar aan die voorspene te gaan suig en ‘n draai saam met die eiendomsagente te maak vir ontwikkelende potensiaal. Snik!

kaplyn ·

Dit is tyd dat die politieke partye aandring dat die anc ‘n verslag moet beskikbaar stel van wat se werk gedoen is met al daardie miljarde rande wat die anc regering reeds ontvang het van die ontwikkelde lande. As hulle weier dan moet die saak by die internasionale geregshof ingedien word om hulle te dwing om dit beskikbaar te maak. (Dit help nie om dit deur die howe in SA te doen nie, want dan word daar net weer vir jare lank geappelleer.) Ons wil ook sommer weet wat het die anc gedoen met al die miljarde rande belasting geld. Maar sal ons ooit regtig weet???

Jacobus ·

Terwyl El Bufo groot woorde spreek en dan in een van die 1000 “omgewings vriendelike” vliegtuie te klim, breek sy kaders by Bayshill lugmag gedenkteken in om die ANC plundertog voort te sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.