Ramaphosa-toekoms steeds in weegskaal

ANC-se-vlag-deur-ANA

(Argieffoto: ANA)

Die politieke toekoms van pres. Cyril Ramaphosa is steeds op ʼn mespunt gebalanseer, terwyl Suid-Afrikaners steeds geen aanduiding het of hy aan die mag gaan vashou of gaan bedank oor bewerings dat hy ʼn diefstal op sy plaas Phala Phala probeer toesmeer het nie.

Donderdag was die oorwegende gevoel dat die 70-jarige staatshoof gaan bedank te midde van oproepe dat hy die tuig moet neerlê, maar teen vroeg Vrydag het dit gelyk of die pendulum geswaai en sy bondgenote hom aangemoedig het om aan te hou baklei vir sy politieke oorlewing.

Die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het Vrydagmiddag byeengekom, maar die vergadering is verdaag sodat die ANC se topleiers en die ANC se nasionale werkkomitee die paneel se verslag kan bestudeer.

Zizi Kodwa, ʼn senior ANC-lid en adjunkminister van staatsveiligheid, het vanmiddag gesê die ANC het nog nooit voor ʼn probleem te staan gekom waarvoor hy nie ʼn oplossing kon vind nie.

Die rand het intussen effens herstel teen die dollar ná ʼn skerp daling Donderdag nadat die artikel 89-paneel se verdoemende bevindings teen Ramaphosa bekend gemaak is.

Ramaphosa is sedert Junie in die spervuur toe Arthur Fraser, ʼn voormalige spioenbaas, klagte by die polisie aanhangig gemaak het dat Ramaphosa die diefstal van Amerikaanse dollar op sy plaas in Limpopo probeer wegsteek het.

Pleks van die owerhede inlig, het Ramaphosa glo gereël dat die rowers ontvoer en hul stilte gekoop word.

Ramaphosa ontken dat hy enigiets verkeerd gedoen het.

“Daar is geen feitelike of wetlike grondslag [vir Ramaphosa om te bedank] nie,” het Mathole Motshekga, ʼn ANC-LP en Ramaphosa-bondgenoot, vandag gesê. Nog ʼn senior ANC-lid sê ook “top‑ANC-mense wil nie hê hy moet gaan nie”.

Die invloedryke hoof van die Anglikaanse Kerk het ook by Ramaphosa gepleit om nie sy amp neer te lê nie.

“Niemand moet bo die reg verhewe wees nie, maar om ʼn oordeel te fel oor iemand op grond van wat ʼn voorlopige ondersoek is, wat nog nie ʼn finale bepaling van die feite gedoen het nie, kan tot wetteloosheid in Suid-Afrika lei,” het aartsbiskop Thabo Makgoba gesê.

Kontant onder die kussings

Vincent Magwenya, Ramaphosa se woordvoerder, het laat gistermiddag gesê die president oorweeg al die opsies – en dit sal in belang van die land en die bestendigheid van die regering gedoen word.

Die president sê die beskuldigings teen hom is sonder meriete, maar hy het erken dat $580 000 in kontant – betaling vir buffels van ʼn Soedannese burger –van onder die kussings op ʼn rusbank in sy private woning op Phala Phala gesteel is.

Die groot bedrag geld het ʼn lang skadu gewerp oor Ramaphosa se pogings om homself as korrupsievry uit te beeld na die korrupsiegeteisterde Zuma-era.

Woensdag het die paneel van drie lede wat die ondersoek gedoen het, hul verslag aan die parlement oorhandig. Hulle het tot die slotsom gekom dat Ramaphosa hom moontlik skuldig gemaak het aan skendings van die Grondwet, asook wangedrag, deurdat hy die diefstal nie direk by die polisie aangemeld het nie en boonop die hulp van sy Namibiese eweknie ingeroep het om die boewe aan te keer.

Corruption Watch het vroeër gesê sou Ramaphosa bedank, moet sy “bedanking ter wille van aanspreeklikheid en demokratiese regeringsbeginsels wees”.

Die parlement sal die verslag na verwagting Dinsdag bespreek en die debat kan lei tot ʼn stem om hom uit sy amp te verwyder. Vir die mosie om te slaag, moet minstens tweederdes van LP’s dit steun.

Lewe gaan aan

Motshekga sê egter die ANC gaan “net die verslag verwerp en die lewe gaan aan”.

Die skandaal kon nie op ʼn slegter tyd vir Ramaphosa gekom het nie. Hy hoop om vir ʼn tweede termyn as ANC-president verkies te word, ʼn tree nader aan ʼn tweede termyn as president van die land.

Die ANC, ná 28 jaar aan bewind, se steun taan steeds en ʼn nuwe leierskap sal na verwagting op 16 Desember verkies word.

Ramaphosa het in 2018 die leisels van Afrika se mees geïndustrialiseerde ekonomie oorgeneem en het onderneem om korrupsie, veral waar die tentakels diep in staatsinstellings ingeslaan is, uit te roei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.