Ramaphosa voorsien groter mededinging by hawens, spoorlyne

Die vraghouerterminaal by die Durbanse hawe. (Foto: Transnet)

Terwyl pres. Cyril Ramaphosa in sy weeklikse nuusbrief sê sake by die sukkelende Transnet is gaandeweg besig om te verbeter, waarsku kenners egter dat die geploeter met die nasionale spoornetwerk die land sowat R1 miljard per dag kos, terwyl die ondoeltreffendheid van hawens – weens welke rede ook al – die ekonomie elk dag nagenoeg R200 miljoen kos.

Ramaphosa sê by die Kaapstadse hawe, wat nou voorberei vir die vrugteseisoen, het Transnet ʼn nuwe bestuurspan ontplooi en word verskeie maatreëls ingestel om op die kort termyn verligting vir probleme te bied. By die Durbanse hawe, waar reuse-agterstande die afgelope paar maande ondervind is, is die agterstand van meer as 60 skepe in die middel van November tot 12 skepe teen die einde van Januarie verminder.

“Benewens die korttermynmaatreëls sluit die padkaart vir vraglogistiek ook verreikende hervorming in om ons logistieke stelsel te moderniseer en groter belegging in infrastruktuur moontlik te maak,” sê Ramaphosa.

“Die hervormings gaan belegging uit die private sektor, sowel as mededinging by hawe- en spoorbedrywighede vestig, wat doeltreffendheid gaan verbeter en pryse gaan laat daal, terwyl daar verseker word dat infrastruktuur steeds in die staat se besit bly.”

Een van die sleutelmylpale in dié hervorming sal wees die inwerkingstelling van sogenaamde oop toegang tot die spoorvragnetwerk. Dit gaan private spooroperateurs toelaat om vir die eerste keer gelyklopend met Transnet-spoorvrag beleggings te doen.

Nog ʼn stap is die bekendstelling van strategiese vennootskappe by vraghouerterminale, wat nuwe beleggings gaan ontsluit om hawe-kapasiteit uit te brei en toerusting op te knap.

“Die hervormingsproses vat tyd en daar is geen kitsoplossing vir die probleme by Transnet nie. Nietemin sal die stappe wat nou gedoen word nie net prestasie dadelik verbeter nie, maar ook ʼn werklik mededingende en doeltreffende stelsel in die toekoms skep,” sê Ramaphosa.

Die president sê namate al hoe meer Suid-Afrikaanse produkte uitgevoer word, hetsy na die res van die vasteland of die res van die wêreld, gaan meer ondernemings floreer, meer belegging gaan gedoen word en meer en meer werkgeleenthede geskep word.

Ramaphosa voorsien spoedige hervorming, maar dr. Juanita Maree, hoof van die Suid-Afrikaanse vereniging van vragversenders (Saaff), maan dat skokkende bedrae geld verlore gaan weens die voortslepende probleme. Sy sê die logistieke krisis in die land is ʼn perfekte storm wat die private sektor en handelsbedrywighede wurg.

Maree sê egter ook sy hoop ook dat dit nie te laat is om regstellings te doen en die logistieke netwerk weer op te bou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Luckykat ·

Hoekom vra die mense hom sulke vrae, wat gee jul die idee hy het die vaagste benul wat aangaan? Ek verlang na Zuma, mens kon ten minste lag vir hom.

Henker ·

Ramaphosa praat asof dit n prestasie is om net korrek te funksioneer. Dit is veronderstel om so te wees vanuit die staanspoor. Die nuwe bestuurspan wat na rondte 2 ingespan is, moes by default in rondte 1 ingespan gewees het

Andre ·

…blote verkiesingspraatjies.
Daar is nie geld vir enige opbou nie: nie hawens , nie transnet, nie grensposte, nie lugdiens . Niks nie.

Jakes ·

Ramaphosa is n genie as dit by lee beloftes en liegstories kom. Mense wat hom glo moet eerder n kopdokter besoek.

Republikein in die Wes Kaap ·

Breek staatsentiteite af. Dan kan die kaders se besighede die werk oorneem, teen ‘n hoër prys.

Shakespeare ·

Hierdie drommelaar kan nie eers agter hom en om hom sien nie nevermind “voor” sien.

Samuel ·

Ja kyk, wanneer Ramaphosa se lippe roer, lieg hy. Niks gaan regkom nie en die SP en sy regering het nie die vermoë om enigiets reg te ruk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.