Rand Water hof toe gesleep oor waterverminderings

Argieffoto van Rand Water. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ʼn dringende aansoek in die hof teen Rand Water gebring ná die waterverskaffer se besluit om watertoevoer na verskeie munisipaliteite te verminder. In sy hofaansoek versoek AfriForum ʼn interdik wat Rand Water verplig om volle watervoorsiening na die betrokke munisipaliteite te herstel.

Rand Water het dié besluit geneem weens die betrokke munisipaliteite se skuldrekening, wat saam sowat R3 miljard beloop.

AfriForum se regspan het verlede week ʼn aanmaning aan Rand Water gestuur het waarin vereis word dat watervoorsiening ten volle herstel word na ses munisipaliteite, insluited Emfuleni- plaaslike munisiplaiteit, Rand West- plaaslike munisipaliteit en Merafong City- plaaslike munisipaliteit in Gauteng; die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit in die Vrystaat en die Govan Mbeki- plaaslike munisipaliteit in Mpumalanga.

Die organisasie meen toegang tot skoon water is ʼn basiese mensereg; dit is noodsaaklik vir gesondheid, sanitasie en algehele lewensgehalte. AfriForum sê ook in die meeste gevalle betaal inwoners boonop getrou hul waterrekeninge aan die munisipaliteite, maar dié plaaslike owerhede versuim om dit aan Rand Water oor te betaal.

“Die besluit om watervoorsiening te verminder – al is dit dalk gedryf deur operasionele of finansiële beperkings – het verreikende implikasies vir die geaffekteerde gemeenskappe, veral vir die kwesbaarstes. Rand Water het ʼn onnodige las op die reeds kwesbare gemeenskappe geplaas, wat bestaande sosio-ekonomiese uitdagings vererger,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslike regeringsake.

“Terwyl ons die uitdagings erken wat waterverskaffers in die gesig staar, glo ons dat sulke besluite met sorgvuldige oorweging geneem moet word vir die welstand van die gemeenskappe wat hulle dien. Samewerking tussen waterverskaffers, regeringsowerhede en burgerlike samelewingsorganisasies is noodsaaklik om volhoubare oplossings vir uitdagings met watervoorsiening te vind,” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

Het ‘n goeie plan – laat die munisipaliteite wat nie Rand water betaal nie – ALLE SALARISSE STOP! Dan sal jy sien hoe spring hulle, want salarisse moet eerste betaal word daarna die uitstaande rekeninge AS DAAR GELD OOR IS!

Casper ·

Domheks,ek stem met jou saam.’n Burgemeester wat in 2022 ‘n splinternuwe ampsmotor gekry het soek nou ‘n nuwe motor want die huidige een het nie aan haar standaarde voldoen nie en toe maak sy van huurmotors gebruik.Bethal se burgermeester soek ook ‘n nuwe motor van R700.000 toe het Afriforum vir hom ‘n speelgoed scooter gekoop en toevallig is sy van Zuma.

koos ·

Ja né, nou dans die poppe! Die huidige regime het hulle voters mos aangemoedig om nie voorheen vir dienste te betaal, nou leer hulle ‘n dure les. Dis nou as hulle 2-sel brein iets kan leer.

Janine ·

Dis vir my so onregverdig dat betalende verbruikers gestraf word omdat die munisipaliteit nie hul skuld betaal nie.

Papsak ·

Ek stem nou word ons wat ons water betaal ook daar deur getrek maar hulle wat nie betaal nie kry alles wat n gemors !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.