Raswetgewing stuit ekonomiese groei

(Argieffoto)

Die voorgestelde wysigings op die Wet op Diensbillikheid is nie net ongrondwetlik en immoreel nie, maar sal ook geweldig skadelik vir die wankelrige Suid-Afrikaanse ekonomie wees.

So voer Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke (SBA) aan in sy kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Diensbillikheid en sy Konsepregulasies oor Diensbillikheid van 2018. Die wysigingswetsontwerp is verlede Maandag in die Staatskoerant aangekondig.

Solidariteit sê hierdie wetgewing, wat die ekonomies aktiewe bevolking (EAB) as maatstaf vir indiensnemings wil gebruik, sal ekonomiese groei smoor en bydra tot die verdere uittog van kapitaal en toename in werkloosheid. Die DA het ook vroeër gesê dit gaan Suid-Afrika se reeds sukkelende ekonomie in ʼn wurggreep beetkry.

Die wysigingswetsontwerp is verlede jaar uitgereik en stel numeriese sektor-spesifieke indiensnemingsteikens om diegene wat steeds onderverteenwoordig in die werkplek is – swart mense, vroue en mense met gestremdhede – in diens te neem.

Solidariteit meen dat rasvoorskrifte vir verteenwoordiging in die arbeidsmark juis die teenoorgestelde uitwerking op die ekonomie en werkloosheidsyfer het as wat die regering se oënskynlike doel daarmee is.

Morné Malan, strategiese spesialis by Solidariteit, voer aan die ekonomie, wat reeds voor die Covid-19-pandemie onder groot druk was, word nou onder hewiger druk geplaas weens regulasies wat handel en ander ekonomiese aktiwiteite gedurende die afsondering tot stilstand dwing.

“Die regering is besig om al hoe meer skuld aan te gaan, wat deur ons krimpende ekonomie gediens moet word. Hierdie wetgewing is fataal; dit stel eintlik maar net sy eie vorm van inperkings daar om sakelui en entrepreneurs van die vryheid te ontneem om hulle eie risiko’s te bestuur deur sélf te besluit wie hulle wil aanstel,” meen Malan.

“Die regering behoort eerder te kyk hoe hy groei in die finansiële resultate in maatskappye se jaarverslae kan bevorder as om te probeer seker maak dat die bestuur op die foto’s swart is.”

Volgens Malan is Solidariteit daartoe verbind om voort te gaan met sy pogings om die regering se inmenging by die indiensnemingsbesluite van private ondernemings te stuit.

“Die regering wil hê dat daar in Suid-Afrika belê moet word, maar hoe verwag hulle dat enigiemand in ons land sal belê as daar vir hulle voorgeskryf word oor wie hulle mag aanstel, hoe hulle verskaffers moet lyk en met wie hulle sake mag doen? Die regering vra mense om risiko’s te neem om hier te belê, maar wil dan voorskryf hoe hulle te werk mag gaan.

“In belang van die ekonomie in die geheel moet ons dit aan die regering duidelik stel dat hulle nie bloot met getalle op ʼn sigblad te make het nie; hulle is besig om die regte van mense te skend en ons ekonomie in die afgrond in te beheer,” sê Malan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Willem ·

Wat gee daai klomp in parlement om. Hul verdien mos ń vet salaris

AndréS ·

Dit is tyd dat alle rasgebaseerde wetgewing geskrap word anders gaan hierdie land tot niet

Jaco ·

Aangesien die ANC nie van wit mense hou nie, aangesien ons belastinggeld nie belangrik of nodig is nie aangesien die ANC wit mense se rol in die ekonomie wil stop, kan hulle mos al SA se wit mense deporteer na Europa, Amerika, Kanada en Australië.

annie ·

Wie probeer Jaco beìndruk of gee hy ons minister van handel dalk nog ‘n blink idee vir werkskepping; die bou van rubberbote uit ou swart sakke. Lees gerus die artikel: ‘We’re running out of whites’ (Zinhle Mapumulu & Johan Eybers, City Press, 6 Aug 2017 & News24) met ‘n grafiek van SA se bevolkingsgroei sedert 1916.

Jaco ·

So jy wil maar hier bly en alles verloor? Werk, huis kar? En jy wil seker in ‘n konsentrasiekamp eindig. Moenie dink dit kan nie gebeur nie. Die sogenaamde “beskaafde” en hoogs ontwikkelde Duitsland het dit met 6 miljoen Jode gedoen.

Oujongvrou ·

Die land is klaar tot niet. Ons het 6 kinders. Almal ouer as 40, geleerd , en het geen vooruitsigte hier gehad nie. En almal is weg, almal behalwe 1 nog in hierdie verfoeilike land. Die regering jaag mense wat ander in diens kon neem weg. Slim. Dis nou €££¥¥@ slim.

Persheks Adri ·

Ons geld is goed genoeg om HULLE mense aan die lewe te hou, maar verder beteken ons sweet blow niks! Klomp narre en ja eintlik wil ek meer sê, maar dan sit ek met my gat in die tronk…

Johannes Andries ·

Kyk hulle nie nuus hoe die Swart vroue eskom probeer verneuk met hulle olie deal nie. Miskien is daar te veel lees en verstand gestremdes in die regerender party om die dwaase implikasies van hulle wette raak te sien.

Villie ·

Hierdie land van ons is seker een van die min, of selfs dalk die enigste land, waar die meerderheid deur wetgewing teen die minderheid “beskerm” moet word. Dit kan tog nie sin maak nie …

Kokerboom ·

In die land moet ‘n totale gesindheidsverandering plaasvind. Die ongesonde blaamspel gaan ons nerens bring en lei tot ‘n drastiese vernietiging van land. Nugtere realisme is NOU nodig. Die land moet vanaf ‘n nulbasis begin, politiekery stop en die landsbestuur oorlaat aan toegewyde bevoegde(ongeag kleur/ras) persone wat ‘n passie en deursigtige visie het vir red van land. Dit mag wensdenkery wees maar die alternatief is katastrofies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.