Reën oor groot dele van die land verwag

Argieffoto (Foto: freeimages.com)

Suid-Afrikaners kan ʼn reënerige paar dae verwag, wat volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ietwat verligting van die verswelgende hitte die afgelope tyd sal bring. Die gure weer hou egter volgens die weerdiens nie verband met die tropiese storm wat tans oor Mosambiek beweeg nie.

Volgens Venetia Phakula, ʼn weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, word daar vir die res van die week reën- en donderbuie oor die hele land verwag, met gebiede wat ʼn paar dae blaaskans tussenin sal kry.

Vanaf Woensdag is daar ʼn 60%-kans op reën vir groot gedeeltes van KwaZulu-Natal en die Vrystaat wat dan ook na Gauteng, Noordwes en Mpumalanga sal oorspoel.

“Hierdie provinsies sal gedeeltelik bewolk en koel bly met die meeste reën- en donderbuie wat in die oggend en middag verwag kan word,” sê sy.

Die westelike dele van KwaZulu-Natal kan geïsoleerde reënbuie en koeler weer verwag, terwyl dele langs die kus na verwagting steeds warm gaan wees. ʼn Minimum temperatuur van 13 °C en ʼn maksimum van 20 °C word vandag in Underberg verwag, terwyl Durban ʼn warm 21 °C en 26 °C sal wees.

Dele van die Vrystaat en Noordwes sal aanvanklik bewolk wees, maar wolke sal eindelik padgee vir warmer temperature en verspreide donderbuie.

Dít terwyl Pretoria en Johannesburg in Gauteng maksimum temperature van 23   ̊C en  25 °C kan verwag.

“Dit sal ietwat koeler as normaalweg in Gauteng wees weens die reusewolk wat tans oor die provinsies hang,” sê Phakula.

Die noorde van Mpumalanga gaan ook gedeeltelik bewolk met enkele reën- en donderbuie wees.

Die reën sal teen die naweek grotendeels in hierdie provinsies opklaar, maar nie voordat temperature na ʼn koeler maksimum temperatuur van tussen 24 °C en 26 °C daal nie.

Reënbuie sal weer vroeg volgende week in die provinsies hervat, wat glo nog koeler temperature tot gevolg sal hê.

“Met die reën wat weer Maandag in Gauteng, Noordwes, KwaZulu-Natal en die Vrystaat verwag word, sal dié provinsies behoorlik afkoel met temperature wat tot tussen 2 °C en 3 °C daal,” sê Phakula.

Dele van Limpopo en langs die Kaapse kus kan egter ʼn droër week verwag, gevolg deur ʼn nat naweek met verspreide reën- en donderbuie oor die provinsies. Reën sal later die week oor die Noord-, Wes- en Oos-Kaap beweeg wat hierdie gebiede ook sal afkoel.

Die weerdiens het vroeër aan Maroela Media gesê die tropiese storm Gombe, wat Mosambiek binnekort sal tref, hou nie ʼn direkte bedreiging vir Suid-Afrika in nie.

Phakula het ook Woensdag gesê dat die jongste reën- en donderbuie oor die land nie direk verband hou met die tropiese storm nie.

Die weerdiens het vroeër gesê die somerreënseisoen sal na verwagting teen Maart opklaar en volgens Phakula hou die weerdiens steeds hierby.

“Ons kan sien dat die hoeveelheid reënval geleidelik begin afneem in vergelyking met die reënval in Januarie,” sê sy.

“Hoewel ons nie kan verseker dat daar geen verdere reën in Maart sal wees nie, is dit wel besig om af te plat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sylvia ·

Seker nie alle Suid-Afrikaners nie! Ons is besig om een hittegolf na die ander te kry, en nou met beurtkrag word jy tot ontneem om jou beskeie waaier te kan gebruik …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.