Reën vertraag opruimingswerk ná treine ontspoor

Twee Transnet-steenkooltreine het op 14 Januarie 2024 by Elubana naby Richardsbaai gebots en ontspoor. (Foto: X / Traffic SA)

Aanhoudende reën in KwaZulu-Natal het Transnet-spoorvragvervoer (TFR) se opruiming- en herstelpogings naby Richardsbaai vertraag waar twee van sy steenkooltreine Sondag by Elubana gebots en ontspoor het.

TFR het Donderdag gesê goeie vordering is egter gemaak en dat die laaste puin na verwagting Donderdagaand verwyder sal word. Spoorlyn 2 behoort voor Donderdag om middernag weer in bedryf te wees, terwyl spoorlyn 1 na verwagting Saterdag weer in werking sal wees.

Die ongeluk het groot vertragings veroorsaak vir groot uitvoerders wat op die betrokke steenkoollyn staatmaak om hul kommoditeite na die hawe te vervoer.

Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie, hoewel daar luidens plaaslike mediaberigte vermoed word dat ʼn kragonderbreking dalk aanleiding tot die voorval gegee het.

Die ongeluk is intussen by die Spoorwegveiligheidsreguleerder aangemeld terwyl ʼn interne ondersoek ook onderweg is.

Maroela Media het vroeër berig dat die DA ʼn “noukeurige en deursigtige” ondersoek van die TFR eis.

Mimmy Gondwe, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê dit is boonop noodsaaklik dat TFR die volledige ongeluksverslag openbaar maak. Sy meen die ongeluk kon maklik vermy gewees het as TFR nie voete gesleep het wat betref die digitalisering van die stelsel wat die skedulering en monitering van sy vragspoorlyn hanteer nie.

“Die impak van hierdie jongste ongeluk vereis nou van die TFR om gedetailleerde redes te verskaf vir die vertraging in die implementering van ʼn gedigitaliseerde stelsel. ʼn Tender is reeds in 2022 uitgereik vir só ʼn stelsel,” het Gondwe vroeër gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.