Regering gedagvaar oor ‘entstof-besering’

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: GCIS)

ʼn Man van Mbombela in Mpumalanga het ʼn siviele eis teen die departement van gesondheid en Pfizer ingedien nadat die Covid-19-entstof hom verlam gelaat het.

Desmond Milligan (41) eis nou meer as R31 miljoen (geraam R31 485 056) in skadevergoeding van dié verweerders. Dit sluit in hospitaal- en mediese onkoste, uitgawes wat hy aangegaan het om met sy daaglikse funksionering te help, inkomsteverlies en algemene skade.

“Die gevolge van die inenting het my en my familie se lewens heeltemal verwoes. Alles het verander. Ek kan nie meer die goed doen wat ek voorheen geniet het nie,” sê Milligan in die stukke wat by die hof ingedien is.

Rente op die bedrag is tempore morae tot die datum van betaling teen die wetlik voorgeskrewe rentekoers.

Milligan het op 20 Julie 2021 die Pfizer-entstof by ʼn apteek in Mbombela (Nelspruit) ontvang. Hy het daarna verskeie simptome begin ervaar en ʼn seldsame inflammasie van die rugmurg is dae later by hom  gediagnoseer.

Milligan moes ʼn rolstoel kry en is in Desember 2021 medies ongeskik verklaar om verder te werk. Hy was ʼn bestuurder by die Home of Living Brands- handelaar in Mbombela, ʼn tak van Bidvest. Omdat dit ʼn fisieke werk was waar hy met kliënte gewerk het, kon hy nie terugkeer werk toe nie.

Milligan ervaar ook chroniese pyn, slapeloosheid, swelling van die limfknope, perifere vaskulêre siekte, herhalende nierinfeksies, onstabiele bloeddruk, hoë bloedsuiker, depressie en angs.

Hy voer aan sy lewe het dramaties verander. Sy vrou is nou die broodwinner van die huis en moet vir hom en die egpaar se twee seuns, onderskeidelik 10 en 14 jaar oud, sorg.

Hy kan ook nie meer sy stokperdjies beoefen nie. Dit sluit in doen-dit-self-take in en rondom die huis, bergfiets ry, aksiekrieket, visvang en stap.

“Ek kan nie eens meer ʼn voertuig bestuur nie. Ek het teruggetrokke geraak teenoor meeste mense. Ek bring die meeste van die tyd met my direkte familie deur. Ek het nie kontak met my vriende nie. Ek is ʼn kluisenaar in my huis,” lui die hofstukke.

Mediese verslag

ʼn Neurochirurg, dr. HJ Edeling, het in sy mediese verslag bevestig dat Milligan se besering deur die Pfizer-Covid-19-inenting veroorsaak is.

“Dit is omdat die simptome sistematies en in minder as 24 uur ná die inenting ontwikkel het. Die simptome het ook binne twee tot vier dae ná die inenting vererger,” het Edeling bevind.

Volgens die verslag was Milligan net voor die inenting gesond, met geen fisieke, geestelike of sielkundige uitdagings nie.

“Milligan is nie voor die inenting deur die suster of enigiemand anders in die apteek van enige potensiële risiko’s met betrekking tot die inenting ingelig nie.”

Ure ná die inenting het die arm waarin hy ingeënt is, begin seer word en opgeswel, waarna hy sistematies simptome van kopsere en moegheid ontwikkel het.

Twee dae ná die inenting het Milligan se kopsere vererger en dit het met dowwe sig, pynlike oogkasse, erge moegheid en nekpyn gepaard gegaan. Hy kon weens dié toestande nie werk toe gaan nie en is deur sy werkgewer siek afgeboek.

Hy het in die volgende twee dae stuiptrekkings gekry, erge borspyne ervaar en was kort van asem. Hy het ook lae rugpyn ontwikkel, waarna transversale miëlitis (inflammasie van die rugmurg) en verlamming van die onderlyf gediagnoseer is. Hy het ook bloedklonte in sy longe, brein en bene ontwikkel en nierinfeksies opgedoen.

Hy is weens hierdie simptome verskeie kere in die hospitaal opgeneem en deur verskeie dokters behandel. Hy kon glad nie terugkeer werk toe nie.

Volgens die verslag ly Milligan aan erge chroniese en emosionele stres en trauma weens sy siektetoestand.

Aanspreeklikheid

Milligan hou nou die departement van gesondheid en Pfizer aanspreeklik vir sy sogenaamde entstof-beserings en die invloed wat dié beserings op sy en sy gesin se lewe het.

Volgens die hofstukke word die verweerders ingevolge artikel 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming aanspreeklik gehou vir enige skade wat geheel of gedeeltelik veroorsaak is as gevolg van die inenting wat “onveilig, foutief en gevaarlik” was.

Hulle word ook volgens die wet aanspreeklik gehou omdat hulle geen voldoende instruksies of waarskuwings – met betrekking tot die gevaar wat ontstaan of geassosieer word met die entstof – verskaf het nie.

Die hofstukke sit uiteen dat die departement van gesondheid en Pfizer hul plig versuim het om behoorlike navorsing oor die moontlike newe-effekte van die entstof te doen en nalatig was om die publiek van hierdie moontlike newe-effekte in te lig.

Die eiser voer aan dat die departement ʼn grondwetlike plig het om die gesondheid van sy burgers te beskerm, bevorder, verbeter en te onderhou.

“Volgens die Grondwet het die eiser die reg op liggaamlike en sielkundige integriteit, wat sy reg insluit om nie aan mediese of wetenskaplike eksperimente onderwerp te word sonder die eiser se toestemming nie,” lui die hofstukke.

Die enigste finansiële hulp tot Milligan se beskikking is die vergoedingskema vir Covid-19-entstofbeserings.

Die doel van die skema is om vinnige en maklike toegang tot vergoeding te bied vir persone wat ʼn entstof-besering opgedoen het. Die beserings wat deur die skema gespesifiseer word, is tot ernstige beserings beperk, wat kan lei tot permanente fisieke of geestelike gestremdhede, tydelike fisieke of geestelike gestremdhede of die dood.

In terme van die skema is ʼn eiser met ʼn 90% permanente gestremdheid wat deur ʼn entstof-besering veroorsaak is geregtig op ʼn maksimum bedrag van R262 500.

Weens die aard en omvang van die skade wat Milligan gely het, was die skema nie die gepaste en effektiewe finansiële hulpmiddel vir Milligan nie en daarom het hy hom eerder tot die hof gewend.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marina ·

Dit is so hartseer om te hoor wat die jab aan seker mense gedoen het. Alle sterkte en mag jy die saak loshande wen!!!!

Chantelle ·

Dit was en is nog steeds ‘n proeflopie (trial). Die hele wêreld is proefkonyne. In die begin het hulle verwys ‘n proewe. Helfte van die kandidate het het nie entstof ontvang nie maar saline.

Truman Burbank ·

Klaarblyklik. Maar ek word horibaal siek by mense wat die jab gekry het. Hoe verduidelik jy dit? Gelukkig gaan dit weg sodra ek weg beweeg van hulle

kragaap ·

Ek word uiters siek van anti vax spookstories. Sodra die tipe mense en lagwekkende teoriee uit my omgewing is voel ek onmiddelik beter.

Truman Burbank ·

Tog is daar baie realiteit daaraan. Maar jy is welkom om anderkant toe te kyk. Dit is blykbaar buitendien te laat vir jou.

kragaap ·

Te laat vir wat ? 5 bn inentings en daar is nog die wat glo dit werk nie of dit gaan skielik eendag biljoene doodmaak. Middeleeue het met die Renaissance verbygegaan.

Vettiemaragartos ·

Net die feit dat daar ‘n vergoedingsskema is vir Covid 19 entstofbeserings laat al die hare op my lyf regop staan. Is dit nie ‘n indirekte erkenning van skuld vanaf die regering nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.