Regering gryp in met akkreditasie van mediese graad

Studente dokters aan die Walter Sisulu-universiteit in Oos-Londen. (Foto: Facebook/ Walter Sisulu University)

Die departement van gesondheid het onderneem om te verseker dat die Walter Sisulu‑universiteit (WSU) se meestersgraad in medisyne (MMed) – in bepaalde spesialisvelde – dringend geakkrediteer word.

Die akkreditasie van verskeie spesialisrigtings by die Raad op Hoër Onderwys (RHO) sloer nou al amper twee jaar lank. Mediese studente wat wil spesialiseer, vrees nou dat jare se harde werk vergeefs was. Volgens die DA se skaduminister van gesondheid, Madeleine Hicklin, is hierdie studente voorwaardelik geregistreer, met die belofte dat die kursusse wel gekrediteer sal word.

Dokters wat spesialiseer in narkose, interne medikasie, oftalmologie en oor, neus en keel verlaat nou staatshospitale in die Oos-Kaap, met die gevolg dat ʼn reeds sukkelende gesondheidstelsel verder onder druk geplaas word.

Die DA het op 7 Desember aan die minister van gesondheid, Joe Phaahla, geskryf en sy kommer oor die registrasieproses uitgespreek. “Dit het die potensiaal om ʼn hewige impak op hierdie mediese velde in die Oos-Kaap te hê, wat reeds ʼn tekort aan hierdie dokters ervaar. Opleiding wat dokters die afgelope twee jaar ontvang het, kan dalk ook nie erken word nie, wat beteken dat jare se harde werk vermors sal wees,” lui die brief.

Teen dié tyd het die Suid-Afrikaanse Vereniging van Narkotiseurs ook al vir die RHO én Nzimande geskryf en gevra om in te gryp, met geen sukses nie. In dié brief skryf dr. Caroline Corbett dat die voortslepende vertraging in akkreditasie ʼn diepgaande uitwerking op mediese studente wat wil spesialiseer sowel as die Oos-Kaapse gesondheidstelsel het. “Baie openbare poste sal gevries bly totdat akkreditasie geskied, wat die druk op ʼn reeds sukkelende gesondheidstelsel vererger. Dit veroorsaak dat pasiënte langer moet wag om gehelp te word en moeiliker toegang het tot gespesialiseerde mediese hulp.” Groot gedeeltes van die brief is in Daily Maverick gepubliseer.

In sy brief vra die DA dat Phaahla dringend met die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, in gesprek tree om die probleem nog voor die einde van die jaar op te los.

Die departement van gesondheid het aan Maroela Media bevestig hulle is in gesprek met alle rolspelers, om te verseker dat die saak “so spoedig moontlik” opgelos word. “Studente dokters speel ‘n baie belangrike rol in die lewer van gesondheidsdienste in hospitale. Niemand kan permanent deur die staat aangestel word, of in die privaatsektor werk indien hulle nie behoorlik opgelei en ‘n geakkrediteerde kursus geslaag het nie,” het Foster Mohale, woordvoerder van die departement van gesondheid, gesê.

Die WSU het egter Dinsdag in antwoord op Maroela Media se navraag gesê “geen studente is geraak nie, aangesien niemand nog vir dié spesialisvelde geregistreer kon word nie”. Hicklin sê dít is nonsens. Die universiteit het alle verdere navrae na die RHO verwys. Die departement van hoër onderwys en opleiding, waaronder die RHO val, het egter weer alle navrae na die Suid-Afrikaanse kwalifikasiebeheerliggaam (SAQA) verwys.

  • Die  berig is bygewerk sedert dit die eerste keer gepubliseer is – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Dis maklik. Al wat die ANC hoor is “gryp”. En dan volg die “in” ons vreet krippe.

skurweberg ·

Kwallfiseer Al hierdie mense regtig om ‘n mediese beroep te gaan beoefen Is my bekommernis

Jan Jacobs ·

As jy nooit aan towenaars geglo het nie, nou is die tyd, as die anc aan iets raak verander dit na drek.

minnie muis ·

dis weer eens bewys jy kan nie n ongekwaliseerde aanstel in hoe pos nie, anc het dit bewys in laaste 29 jaar , en tog dink hulle dat hul gelyk is aan mense met nodige kwalifikasie

Liewe Lisa ·

So wat is die werklike rede hoekom hulle nie die Meestersgraad van hierdie Universiteit wil (of kan) akkrediteer nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.