Regering skerm oor pasella dienste vir ministers

Die DA vra dat die ministeriële handboek heeltemal geskrap word. (Argieffoto: DA/Twitter)

Terwyl die regering vure doodslaan oor ministers en adjunkministers wat nie eens self vir kragrekeninge by hul ampswonings hoef op te dok nie, eis die DA dat die ministeriële handboek – waarin hierdie voordele vervat word – heeltemal geskrap word.

Maroela Media het die naweek berig ingevolge wysigings aan die handboek word ministers en adjunkministers toegelaat om ʼn onbeperkte bedrag – waarvoor belastingbetalers opdok – vir hul water-en-ligte-rekeninge te gebruik. Dit ten spyte van hul reeds ruim voordele.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê die party gaan ʼn klagte by die Openbare Beskermer (OB) indien sodat daar heeltemal met die ministeriële handboek weggedoen kan word.

“Om Suid-Afrikaners te dwing om die private water-en-kragrekeninge vir dieselfde ministers te betaal wat burgers beroof het van toegang tot hierdie noodsaaklike dienste, is ʼn klap in die gesig wat mense net nie gaan aanvaar nie,” sê Schreiber.

Hy sê die regering het dit egter duidelik gemaak dat hy hom nie gaan steur aan oproepe om die voorwaardes te laat skrap nie. Schreiber sê as pres. Cyril Ramaphosa dit dan nie self wil doen nie, sal die DA dit namens hom doen.

“Nie net betwis ons die jongste pasellas vir ANC-kaders nie, ons klagte by die OB betwis ook die wetlikheid van die ministeriële handboek in die geheel. Ons regsnavorsing dui daarop dat geen wet voorsiening maak vir die handboek om selfs te bestaan nie.”

Volgens Schreiber is daar geen voorsiening in die etiekkode vir die uitvoerende gesag, of enige ander wetgewing, wat die president diktatoriale magte gee om belastingbetalers te dwing om vir die voordele van kabinetslede te betaal nie. Hy sê dit lyk of die handboek dus buite die raamwerk van die Grondwet en wetgewing val.

“Dit is om hierdie rede dat die president die handboek in April in die geheim kon wysig sonder om eens die moeite te doen om die parlement in te lig.”

Die parlement het geen oorsig oor die inhoud daarvan nie en die president is ook aan niemand aanspreeklik vir die manier “waarop hy belastingbetalers dwing om die ANC-soustrein te finansier nie”, sê Schreiber.

Hy meen die parlement moet besluit oor bepaalde voordele, soos veiligheidsmaatreëls of vervoer, vir amptelike pligte.

“Sou die OB bevestig dat die ministeriële handboek inderdaad in die geheel onreëlmatig is, sal dit beteken dat Ramaphosa en al sy ANC-voorgangers dekades lank onwettig honderde miljoene rande van belastingbetalers gevat het om die luukse leefstyle van multimiljoen-kaders te finansier.”

Intussen probeer die departement van staatsdiens en administrasie oënskynlik vure doodslaan oor ministers en hul adjunkte wat van die gewraakte beurtkragstelsel vrygestel word. Moses Mushi, departementele woordvoerder, het aan Newzroom Afrika gesê net soos wat die president se ampswoning ʼn nasionale sleutelpunt is, is dit ook die geval vir lede van die uitvoerende gesag.

Hy sê ministers kry steeds beurtkrag by hul private wonings, waar dit ook al geleë mag wees.

Mushi sê ook dit is waar dat ministers en hul adjunkte nie self vir nutsdiensterekeninge hoef te betaal nie. Want, sê hy: “Ons verwag van hulle om 24 uur per dag, sonder enige steurnis of verskonings, beskikbaar te wees om na gemeenskappe te gaan.”

Luidens ʼn verklaring van die regering vorm die bepalings deel van ʼn pakket vir lede van die uitvoerende gesag “terwyl hulle in diens van die staat in huise woon wat aan die staat behoort”.

In die verklaring vra die regering ook gewone verbruikers om aan te hou betaal vir die dienste wat hulle ontvang, sodat munisipaliteite hul inkomste kan invorder, hul skuldverpligtinge kan nakom en kan voortgaan om gehalte dienste aan mense te lewer.

Zwelinzima Vavi, sekretaris-generaal van die SA Federation of Trade Unions (Saftu), het aan eNCA gesê nie net sê die regering in sy verklaring dat hy gratis water en krag aan die ministers gee nie, die regering sê sommer ook dat hy dit voorsien, terwyl ministers gratis verblyf nog ook kry. En die regering sien klaarblyklik ook niks verkeerd met hierdie situasie nie, sê Vavi.

Vavi sê dit is “belaglik” en “uiters arrogant” van die regering om in dieselfde asem te eis dat gewone Suid-Afrikaners aanhou om vir dienste te betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

SjN ·

Kan die mense op voetsoolvlak wat vir hul stem nie besef dat hul niks voel nie en hulself net verryk.

B-Man ·

Nee, want baie van hulle kan nie eers lees nie en dit pas die ANC baie goed. Hoe meer ongeskoold en oningelig die massas is hoe beter kan hulle aan die mag vasklou.

Republikein in die Wes Kaap ·

Met amper 30 miljoen wat SASSA toelaes ontvang sal dit nie gou gebeur nie. Dan ontvang meer as 800 000 studente studie toelaes.

Antie Sarie ·

2024 is reeds getel. En dalk het NDZ reeds gewen. Die kristal bal is nie aan ons kant nie.

Peter ·

Dis om van naar te word. Patetiese kriminaliteit, wat nooit gewoond was om iets te waardeer en te verdien nie. Gimme gimme gimme

Jaco ·

Net voordat almal nou kwaad word vir slegs ANC-ministers; onthou tog net:
ALLE parlementslede, nasionaal en provinsiaal, en elke munisipale raadslede van ALLE politieke partye kry:
-Reusagtige salarisse (meer as R1miljoen per jaar vir ‘n nasionale parlementslid)
-Vet petroltoelae
-Vlieg verniet
-Lekker luukse motors
-Vet onthaaltoelae
So hulle swem maar almal lekker in die geld: ANC, EFF, DA, IVP, VF-PLUS, ACDP ens ens.

Alta Alleman ·

Nie net betwis ons die jongste pasellas vir ANC-kaders nie, ons klagte by die OB betwis ook die wetlikheid van die ministeriële handboek in die geheel

Dit geld slegs vir ANC kaders.

Bart-Man ·

En so vat hulle ons belastinggeld om in weelde te lewe. Terwyl ons agteroor buig om net n lewe te maak. Die wet moet wees dat net belasting betalers die reg mag hê om te stem.

Snowball ·

Dieselfde moet geld vir al die ‘konings’ wat ook so onderhou word met belastinggeld – laat die Zoeloes belasting betaal vir hulle koning, die Vendas vir hulle s’n, ens. Hierdie is ook net nog ‘n manier om stemme te koop.

John ·

Tot ñ mate verstaan Ek die verniet vlug AS DIT AMPTELIK IS, Moet ek byvoeg, maar verniet krag. Wys my een minister wat 24/7 beskikbaar is. En Al is hulle 24 uur beskikbaar, hoekom Kan hulle Nie hulle die skuld betaal Nie. Daar is mense wat skofte werk wat Alle ure van die dag of nag Moet rond ry en hulle betaal self. Al verdien hulle Nie eers ñ kwart van die ministers sê salaris nie

Papsak ·

Moenie verder vir die boewe en crooks stem nie asb dink mooi voor julle stem

Mariana ·

Hulle skep net en belastingbetalers betaal net. Magtig dis lekker.

Vonkprop ·

Mense wanneer gaan ons almal begin besef die regering steur hulle nie aan enigiemand nie, nie aan reëls nie en nog minder aan die grondwet. Dit gaan net oor hulle en niemand anders nie. Hulle sal mekaar uithaal om nog meer vir hulleself te kry. Ons moet begin betalings weerhou en hulle slaan waar dit seermaak, geld. Hulle lewer in elk geval nie ‘n diens nie so hoekom moet ons hulle betaal en nog steeds vir privaat mense om dienste te lewer.

Hasie ·

Animal farm 2 de uitgawe geskryf deur Ramaphosa ( die moderne weergawe ).

Fran ·

“Ons verwag van hulle om 24 uur per dag, sonder enige steurnis of verskonings, beskikbaar te wees om na gemeenskappe te gaan.” Watter gemeenskappe???? Ha ha ha hoe lekker lag ek nou!! Nog ‘n siek grap van ‘n siek regering!

snaaks ·

Al die ANC lede sal mos weer vir hulle stem vir hulle gee. Met stem tyd kom daar duisende van ander lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.