Regering vorder met kragplan

Argieffoto (Foto: Du Preez de Villiers)

Die Nasionale Energiekrisiskomitee (Necom) het ʼn ses-maande-vorderingsverslag oor die implementering van Suid-Afrika se energie-aksieplan uitgereik.

Dié verslag maak melding van belangrike stappe wat gedoen is om te verseker dat Suid-Afrika se kragkrisis opgelos word. Dit sluit in die invoer van krag van buurlande af, asook die skrap van onnodige regulatoriese prosesse vir die private opwekking van krag. Eskom sal ook binne die volgende paar weke begin met die proses om bykomende krag van maatskappye aan te koop.

Die aankondig volg na drie weke van konstante beurtkrag, waartydens fase 6 amper deurlopend toegepas is.

“Suid-Afrika het nie enige nuwe planne nodig nie. Die energie-aksieplan bevat ʼn duidelike padkaart om uit die krisis te kom,” het pres. Cyril Ramaphosa Saterdag by monde van sy woordvoerder, Vincent Magwenya, gesê.

Hy sê die onvermoë van Eskom se huidige opwekkingsinfrastruktuur om voldoende krag te voorsien, is die gevolg van historiese onderbelegging in instandhouding en bates, asook foute in die ontwerp van nuwe kragsentrales die afgelope dekade.

“Suid-Afrikaners het ʼn reg om onmiddellike optrede te eis om die vernietigende uitwerking van beurtkrag op ons ekonomie en ons samelewing op te los. Ons onmiddellike fokus is om hierdie plan so gou en so doeltreffend moontlik te implementeer.”

Die komitee het ses kragsentrales geïdentifiseer waarop hulle in die komende maande besonderse fokus sal plaas deur middel van ʼn omvattende opwekkingherwinningsplan. ʼn Span onafhanklike kenners sal nou met hierdie kragsentrales saamwerk om te bepaal wat die redes vir swak prestasie is en hoe om die gehalte van kragopwekking hier te verbeter.

(Foto: Du Preez de Villiers)

Die president het ook wetstoepassingsowerhede opdrag gegee om ʼn hernude poging aan te wend om elektrisiteitsinfrastruktuur te beskerm.

Die energie-aksieplan is ʼn reeks maatreëls wat ná indringende samesprekings met energiekenners ontwikkel is om die negatiewe gevolge van beurtkrag op huishoudings, klein sakeondernemings en die ekonomie te versag. Ramaphosa het die aksieplan in Julie verlede jaar bekendgestel en Necom is intussen getaak om vinnige inwerkingstelling van die maatreëls te verseker.

Die jongste vorderingsverslag dui op belangrike stappe wat gedoen is om die aksieplan te implementeer. Dit sluit in:

  • Bylae 2 van die Wet op Elektrisiteitregulering is aangepas om lisensievereistes vir opwekkingsprojekte te verwyder, wat private belegging aansienlik sal versnel.
  • Meer as 100 private opwekkingsprojekte, van meer as 9 000 MW se kapasiteit, is tans in die ontwikkelingsfase. Die eerste van hierdie groot projekte sal na verwagting aan die einde van die jaar aan die stelsel gekoppel word.
  • Necom het staatsdepartemente opdrag gegee om weg te doen met onnodige rompslomp en regulatoriese prosesse om opwekkingsprojekte meer vaartbelyn te maak. Dit sluit in dat die registrasieproses van vier maande tot ʼn paar weke verkort word en dat goedkeuring om aan die stelsel te koppel, binne ses maande gegee word.
  • ʼn Bykomende 300 MW is reeds deur die Suider-Afrikaanse energiepoel ingevoer, en onderhandelinge is aan die gang om binne die volgende jaar nóg sowat 1 000 MW van buurlande af in te voer.
  • Eskom het ʼn program ontwikkel waarvolgens krag van maatskappye met beskikbare opwekkingskapasiteit aangekoop kan word. Die eerste kontrakte sal na verwagting in die volgende paar weke onderteken word.

“Hoewel krag nog in die nabye toekoms beperk is, sal hierdie maatreëls die gereeldheid en intensiteit van beurtkrag verminder soos nuwe kapasiteit aanlyn gebring word,” het Ramaphosa verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Netcom en netgaan en so loop die tyd aan… En dit is die gevolge van dwase besluite wat drie dekades gelede geneem is. Selfs ‘n stoere rigiede konserwatiewe ou dominee sal teen dié tyd al gesê het: Broer en suster spaar jul kindertjies en kleinkindertjies en bure en die polisie en vir my dit, en skei asb!

Nie Verbaas ·

Blah blah blah. Wanneer is die kommitee al gestig? Siestog. Hier sal niks van kom nie.

domheks ·

Sedert 2007 kon die ‘oorlog kamer’ niks regkry nie. Hoe dink hulle nou na al die mense wat lekker skep intussen om te ‘beplan’ gaan hulle iets POSITIEFS regkry.
Droom maar voort.
NS: Ek sien geen vaste datums nie – soos gewoonlik lippe taal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.