Regsaksie oorweeg teen diegene wat skole ontwrig

Angie Motshekga. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die raad van onderwysministers het sy kommer uitgespreek oor pogings deur sekere politieke en burgerlike organisasies om onderrig by sekere skole in die land te ontwrig.

Die raad, onder leiding van Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Vrydagoggend vergader oor die jongste verwikkelinge nadat die tweede groep leerders Maandag teruggekeer het skool toe.

Daar is ʼn beroep gedoen op politieke en burgerlike organisasies wat nie gelukkig is met die stand van sake nie om eerder met hul politieke eweknieë en die owerhede in verbinding te tree en sodoende hul griewe te lig.

“Hierdie organisasies het onderwysers en leerders gedreig, ander het hof toe gegaan en daarin misluk om die heropening van skole te keer en is nou vasbeslote om hulle tot dreigemente en ontwrigting te wend om hul beoogde doelwitte te bereik.”

Die raad het gesê dit is betreurenswaardig dat die partye skole gebruik om ʼn politieke spel te speel.

“Indien hierdie betreurenswaardige optrede nie gestaak word nie, sal ons geen ander keuse hê nie as om ons opsies ingevolge die bepalings van die Skolewet uit te oefen om seker te maak ons beskerm ons skole, opvoeders, leerders en die regte en die belange van ouers wat hul kinders wil terugneem skool toe,” het Motshekga gesê.

Die minister het gesê dat van die organisasies wat onsuksesvol in die hof was hulle nou tot ontwrigtende optrede wend.

“Ons is teleurgesteld en ontsteld oor die feit dat hierdie organisasies versuim het om erkenning te gee aan die pogings van die departement om alternatiewe te bied aan ouers wat weens angs en vrees nie hul kinders terug wil stuur skool toe nie.

“Sommige ouers wil nie hul kinders terugstuur skool toe nie omdat hul kinders onderliggende siektoestande het en die departement verstaan dit.” Volgens Motshekga is daar voorsiening gemaak vir hierdie ouers en kan hulle vir tuisonderrig registreer.

Die minister het gesê die raad sluit ook nie die moontlikheid uit om hof toe te gaan en beskerming te vra teen diegene wat onderrig in die wiele probeer ry nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel ·

Daar word nooit opgetree teen enige mense wat ontwrigting veroorsaak nie, hoekom nou.

Corne123 ·

Ja ek stem 100% saam ons begin sommer by Angie en dan die depratament kom ons kyk of julle nog wil voortgaan dan

Hano ·

Dit moet tog n gegewe wees dat die wat skole ontwrig gearresteer moet word.

Cielie ·

Die syfer styg mense raak meer siek maar kinders moet skooltoe.. Ek het al hoeveel briewe en email gestuur maar hulle sntwoord jou eenvoudig nie.. nou wonder ek vir wie is homeschooling gereel en wie ni. Nee kyk ek weet nie… soos Corne gese het ons begin sommer by haar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.