Regstreeks: Solidariteit help reeds duisende met krisisfonds

(Foto: Helpende Hand/Facebook)

Die Solidariteit Beweging se krisisfonds wat vroeër vanjaar met die instel van die algehele landwye afsondering op die been gebring is, het reeds meer as R16,3 miljoen ingesamel. Hiervan is sowat R9,7 miljoen bestee om in maatskaplike nood gedurende die afsonderingstydperk te voorsien en altesaam 14 581 gesinne en 996 instansies is reeds bygestaan.

Dié gesinne is tussen 11 April en 19 Junie deur Helpende Hand se nege streke met kontant of produkte bygestaan. Sowat R1,9 miljoen is ook opsy gesit om Wolkskool se opleiding uit te brei en vir ʼn bepaalde tydperk gratis aan leerders te verskaf.

Die beweging sê egter die nood is veel groter.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, is die nood nog lank nie verby nie en word gemeenskappe genoodsaak om mekaar in hierdie tyd by te staan. “Die regering het dit baie duidelik gestel dat raswette sal geld by die hulpverlening wat deur die staat aangebied word en derhalwe het ons as ’n beweging geen ander keuse as om self ons gemeenskappe te bemagtig om mekaar te help nie,” het Buys gesê.

(Grafika verskaf deur Francois Redelinghuys, Solidariteit Beweging)

Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, het gesê hoewel die ondersteuning wat die krisisfonds tot op hede ontvang het ’n riem onder die hart is, die nood veel groter is. “Ons kan sien hoe gesinne, wat voorheen nie hulpbehoewend was nie, al hoe meer deur die maatskaplike kwessies getref word,” het hy verduidelik.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, behoort die krag wat gemeenskapsinstellings oor die afgelope paar maande gewys het, nou as motivering te dien vir die verdere uitbou van gemeenskapsinisiatiewe waar die gemeenskap self vir mekaar omsien en sorg sonder om van die staat afhanklik te wees.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê op sy beurt dat plaaslike sakeondernemings ook in hierdie tyd ʼn omvattende netwerk gevorm het om saam die krisis te oorkom. “Plaaslike besigheidseienaars is hard deur die afsonderingstydperk getref. Hierdie besighede is egter die hart van ’n plaaslike ekonomie en moet staande bly,” het Kriel verduidelik.

Uitgebreide planne vir die noodfonds is Woensdagoggend gedurende ’n gesamentlike mediakonferensie bekendgemaak.

Kyk hier na die mediakonferensie:

Kom ons help mekaar

Die inperkingtydperk het geweldige druk op ons gemeenskappe geplaas. Voorts sê die regering duidelik dat ons op ons eie is. Die groot nood is egter nog nie verby nie en in die toekoms gaan ons moet saamstaam om mekaar te help. Die Solidariteit Beweging maak verdere planne bekend om sy ondersteuners en gemeenskappe in hierdie tyd by te staan.

Posted by Solidariteit on Wednesday, June 24, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Mag Solidariteit dit doen? Daar was dan allerhande reëls en gerugte dat wit mense nie mag hulp kry nie; selfs nie net toebroodjies nie. polisie het selfs plekke dopgehou wat kos uitdeel. Solidariteit moet dus maar net seker maak dat alles “legal and above board” is. Twee stelle reëls gebaseer op die “regte” en die “verkeerde” velkleur geld mos maar vir alles in SA.

Pieter ·

Daar was verskeie hofsake in hierdie verband. Hulle kan maar rustig aangaan. Die wette word deur rassiste, korruptes en naam Christene opgestel om ‘n sekere ideologie te bevoordeel. Sulke wette behoort vertrap te word. Volg God se Wette en jy is op die regte pad. Iewers moet jou gewete die pad kies.

lodewyk ·

Jaco lees die nuus-en ja ons werk om dit -Minister L Z het nou al haar 2de keer haar allie in die hof gesien -ek is n aktiewe lid van Sol en ja ons werk saam -ons het ook n sterk regs span -enigge welsyns organisasie mag kos versprei-die regering het hier n bloed neus gekry- wit besighede en boere sukkel om nog hulp te kry oor die rasse kriteria -maar dus nou tyd dat hulle begin blanke mense aanstel want wat beteken BBE ens nou?? -die proses is klaar besig om vlam te vat

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.