Reis na VSA, Australië ook van die baan

(Argieffoto)

Die VSA, Kanada, Brasilië, Saoedi-Arabië, Switserland, Guatemala en Australië het ook nou hul landsgrense vir Suid-Afrika gesluit nadat die kommerwekkende nuwe variant, genaamd B.1.1.529, hier bevestig is. Die variant het intussen die naam Omikron gekry.

Hierdie lande volg kort op die hakke van Brittanje, Duitsland, Nederland, Denemarke, Filippyne, Israel, Italië, Japan, Singapoer, Skotland, Spanje, Taiwan, Oostenryk, die Tsjeggiese Republiek en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).

Lidlande van die Europese Unie (EU) het reisbeperkings ingestel op alle reise vanuit sewe lande in Suider-Afrika, waaronder Botswana, Suid-Afrika, Eswatini, Lesotho, Mosambiek, Namibië en Zimbabwe.

Die eerste bevestigde geval van die nuwe virus is in België aangemeld nadat ’n ongeënte persoon via Turkye uit Egipte teruggekeer het. Israel het ook reeds drie mense in kwarantyn geplaas, een van hulle iemand wat pas van Malawi teruggekeer het.

Japan het gesê dat hy ʼn kwarantynperiode van tien dae sal vereis vir reisigers uit Suider-Afrika.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het aangedui hy is bekommerd oor die nuwe variant omdat dit lyk asof dit meer aansteeklik as die hoogs oordraagbare Delta-virus is. Dit is nog te vroeg om te sê of die variant dodeliker is en of die entstof doeltreffend teen dié variant is.

Wetenskaplikes werk onverpoos om die bedreiging wat die nuwe sterk gemuteerde stam moontlik inhou te bepaal, en of die huidige Covid-19-entstowwe aangepas moet word.

Die WGO het gesê dit kan ʼn paar weke neem om vas te stel hoe die variant gaan vertoon. Die organisasie het lande afgeraai om nie reisbeperkings in te stel terwyl daar nog min wetenskaplike bewyse is nie.

Angstige toeriste, markte daal

Angstige toeriste in Johannesburg het hulle Vrydag na die lughawe gehaas om ʼn laaste vlug te haal toe lande regoor die wêreld hul grense begin sluit het.

Markte het wêreldwyd begin daal toe die nuus van die jongste terugslag in die stryd teen die pandemie ingesink het.

Europese markte het met byna 3% gedaal, met veral lugredery-aandele. Tokio se markte het met 2,53% gesluit.

Die nuwe variant het veroorsaak dat aandele op Wall Street Vrydag ná die Amerikaanse vakansiedag (Dankseggingsdag) gedaal het, met die Dow Jones-indeks wat sy ergste verlies van die jaar gely het toe dit met 2,5 % gedaal het.

Volgende week se ministeriële konferensie van die Wêreldhandelsorganisasie, die wêreldhandelliggaam se grootste byeenkoms in vier jaar, is Vrydag op die laaste oomblik afgestel weens die nuwe variant.

Die Amerikaanse president Joe Biden het gesê lande moet meer Covid-19-entstowwe skenk en intellektuele eiendomsbeskerming prysgee om meer dosisse wêreldwyd te vervaardig om die verspreiding van die virus te stuit.

“Die nuus oor hierdie nuwe variant behoort duideliker as ooit te wees dat hierdie pandemie nie sal eindig totdat die wêreld ingeënt is nie,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Adriaan ·

Probeer die VSA as n toeris met n paspoort binnegaan en jy word toegang geweier. Steek hulle suidelike grens oor as n “ongedokumenteerde immigrant” en jy word met ope arms verwelkom.

Delene ·

Muishond van die Wêreld sal ons bly! Maak nie saak wat nie!

Blomme ·

Is dit regtig inenting wat die pandemie gaan stuit? Regtig Mnr Biden? Dis vreemd.. Hoekom word ingeëntes dan nog siek. As die entstof keer dat jy siek word.. dan eers is dit mos doeltreffend of hoe?

Drico ·

Die oorspronklike idee van n inenting/vaccine is om te keer dat jy glad nie siek word nie. Nou word mense gepaai met nie so erg siek nie. Feit bly, jy word nogsteeds siek en steek nogsteeds ander mense aan. Daar is GEEN verskil nie.

piet ·

Dis nie ‘n kwessie van paai nie, dis statisties bewys. Ek sou se as meer mense ernstig siek word en doodgaan is daar wel ‘n groot verskil maar duidelik beskou jy nie dit as belangrik nie.

KB ·

Sy eie persoonlike vise-president, Kamala Harris, sê dan dat die grootste hoeveelheid Covid-19 sterftes id VSA, Covid-19 ingeënte gehospitaliseerdes was!
Julle Demokrate se koppies raas.

Kompas ·

Weet ook nie hoekom al die mutasies hier in ons land ontstaan nie?

Drico ·

Want ons het n Jan van Riebeeck gehad en dis alles sy skuld…

Pieter ·

Dit het toe vinniger gebeur as wat julle gedink het. Die “arm” mense wat hulle vakansie huise wil besoek se strande sal seker ook gesluit word.

Pietertjie ·

Lyk my die virus versprei reg rondom die aardbol binne ‘n oogwink. Wat is die nut dan om internasionale reis te verbied? Die virus is dan klaar die wêreld vol, of is dit om die huidige ekonomie te vernietig om plek te maak vir ‘n nuwe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.