Renosterstroper loop uiteindelik rieme styf

Argieffoto

’n Renosterstroper wat by drie verskillende geleenthede en elke keer met verskillende medepligtiges in die Krugerwildtuin in hegtenis geneem is, is Donderdag tot effektief 32 jaar tronkstraf in die Skukuza-streekhof gevonnis.

Forster Lubisi (43) is skuldig bevind aan drie aanklagte van onwettige betreding, twee aanklagte van die besit van ’n verbode vuurwapen met ’n reeksnommer wat uitgewis is, die besit van ammunisie, die besit van ’n gevaarlike wapen, die stroop van ’n renoster en die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen.

Hy het skuld beken op ál die misdade, sê Monica Nyuswa, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Lubisi is aanvanklik in April 2015 in hegtenis geneem nadat veldwagters op patrollie in Skukuza geweerskote gehoor en spore gevolg het. Lubisi is kort daarna saam met sy medebeskuldigde, Nelson Ndlovu, in besit van ’n vuurwapen, ammunisie en ’n byl aangetref.

’n Renosterkarkas is later gevind.

Lubisi en Ndlovu is destyds op borgtog vrygelaat.

Lubisi is in Julie 2018 wéér in hegtenis geneem – dié keer met ’n ander medepligtige, Een Sihlangu, nadat hulle in besit van ’n jaggeweer en ammunisie betrap is. Hy is egter weer op borgtog vrygelaat.

In April 2021 is Lubisi vir ’n derde keer in hegtenis geneem nadat hy en ’n ander medepligtige die Krugerwildtuin onwettig binnegegaan het en later in besit van ’n jaggeweer, ammunisie en drie messe gevind is.

Lubisi is ná die inhegtenisneming eindelik borgtog geweier en die drie sake is later in die hof saamgevoeg.

Nyuswa sê die staatsaanklaer in die saak het ter verswaring van vonnis positiewe DNS-resultate ingehandig wat Lubisi met die oortredings verbind. “Dit sluit in ’n ballistiese verslag wat die vuurwapen wat tydens die pleeg van die misdryf gebruik is, uitwys as dieselfde wapen wat in sy besit gevind is.”

Die verhoor van twee van Lubisi se medebeskuldigdes word op 2 Februarie 2023 in die Skukuza-streekhof hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Frank ·

Tyd dat die Regstelsel (sien ook landroste) begin verantwoording doen

Nie Verbaas ·

En dit mense is n bewys van ons patetiese, kader belaaide, onbevoegde en ondoeltreffende regstelsel. Viva julle slim cANCers!!!

Samuel ·

Effektief tot 32 jaar tronkstraf gevonnis maar oor 5-jaar loop hy seker weer vry rond?

Nie Verbaas ·

Na 5 jaar eers? Môre trek hy n Zuma en word dan vrygelaat as gevolg van mediese redes.

Vonkprop ·

Borgtog is nie ‘n afskrikmiddel nie. Enigste salf wat werk is lewenslank sonder parool.

Casper ·

Vonkprop,borg is nie veronderstel om as afskrikmiddel te dien nie maar om die beskuldigdes se teenwoordigheid in die hof te verseker.Hy moet tweederdes van sy vonnis effektief uitdien voor hy oorweeg sal word vir parool.

Niklaas ·

Dis een gewoonte misdadiger en verdwyn met elke borg wat toegestaan word. Swak vervolgings aksies hierdie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.