Rentekoers bly weer onveranderd

Die Suid Afrikaanse Reserwebank (Foto: AP)

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het Donderdag besluit om die rentekoers onveranderd op 3,5% te laat.

Dié besluit was eenparig en in ooreenstemming met ekonome se vooruitskattings.

Die prima rentekoers van banke staan dus steeds op 7%.

Volgens Lesetja Kganyago, president van die bank, word twee rentekoersverhogings wel later vanjaar verwag.

Die Reserwebank raam dat inflasie vanjaar 4,2% sal beloop. Dit is effens laer as die aanvanklike vooruitskatting van 4,3%.

Dit word verder verwag dat inflasie volgende jaar en 2023 onveranderd op 4,4% en 4,5% onderskeidelik sal bly.

Kganyago sê die vooruitskatting van toekomstige inflasie het in die algemeen op ongeveer 4,0% vir vanjaar en 4,2% vir volgende jaar gestabiliseer.

Die Reserwebank verwag dat die ekonomie in die eerste kwartaal met 2,7% sal groei. Dit is veel beter as die 0,2%-inkrimping wat tydens die monetêre beleidskomitee se vergadering in Maart verwag is.

Kganyago sê voorts die ekonomie sal vanjaar na verwagting met 4,2% teenoor die aanvanklik verwagte 3,8% groei.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (Foto; Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die bruto binnelandse produk (BBP) sal volgens vooruitskattings volgende jaar met 2,3% en 2,4% in 2023 groei. Dié vooruitskattings het nie juis verander sedert die komitee se vorige vergadering in Maart nie.

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se April-voorspelling wat vanjaar se wêreldwye BBP betref, is hersien tot 6,0%.

Die Reserwebank se voorspelling vir wêreldwye groei vanjaar beloop nou ook 6,0%. Die Reserwebank verwag volgende jaar ’n wêreldwye groei van ongeveer 3,8%.

Kganyago sê baie lande se bestendige inentingskoers het die voorspellings vir wêreldwye ekonomiese groei aansienlik verhoog. Nie alle lande se inentingsprogramme verloop egter so glad nie en baie opkomende en ontwikkelende lande het agterweë gebly wat inentings betref.

“Hierdie oneweredige toediening van inentings sal swaarder weeg by sommige lande as ander en ekonomiese aktiwiteite in sektore wat meer afhanklik is van noue kontak soos reis, toerisme, gasvryheid en ontspanning, sal swaarder trek,” het Kganyago bygevoeg.

Die vakbond Uasa het die onveranderde koers verwelkom, hoewel hy glo dat ’n daling van 50 of selfs 25 basispunte effense verligting aan Suid-Afrikaanse huishoudings en sukkelende maatskappye sou bied.

Die Reserwebank sê egter huishoudelike besteding sal na verwagting vanjaar “gesond” wees in ooreenstemming met die verslapping van die afsonderingsregulasies en lae rentekoerse.

Uasa sê voorts ekonome is dit eens dat die rentekoers later vanjaar of volgende jaar sal styg.

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee vergader weer in Julie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

Die rente wat ons kry is nou laer as die amptelike inflasiekoers. Daar is geen aanmoediging om te spaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.