Rentekoers: Oorlog teen inflasie nog lank nie verby

inflasie

(Foto: Pixabay.com)

Die oorlog teen inflasie is nog lank nie verby nie en in afwagting op nog ʼn aankondiging oor die repokoers kan Suid-Afrikaners hulle maar staal vir nóg ʼn verhoging.

Prof. André Roux, ekonoom by die Stellenbosch Sakeskool, sê die Reserwebank se aankondiging twee maande gelede het die tafel reeds vir ʼn verdere styging gedek.

En dit is presies wat Roux vir Donderdag voorspel: ʼn repokoersverhoging van tot 50 basispunte.

“Verdere [inflasie-]stygings in die VSA en Europa wys dat die oorlog teen inflasie nog nie verby is nie. Die bekendmaking dat die regering se verwagte 2022-’23- primêre begrotingsurplus nie bereik gaan word nie, dui boonop op groter inflasiedruk.

“Dit word vererger deur die aankondiging dat staatsamptenare se loonverhogings hoër gaan wees as waarvoor begroot is,” sê Roux.

“Intussen sal minimum lone teen ʼn koers styg wat hooflyninflasie oorskry. Dít beteken dat die eenheidskoste van arbeid vinniger gaan styg as wat arbeidsproduktiwiteit toeneem. Dit sal inflasie aan die verskaffingskant van die ekonomie aanwakker.”

Volgens Roux het die uitwerking van die beweerde wapentransaksie tussen Suid-Afrika en Rusland op die reeds beleërde rand verder sout in die wonde gevryf.

“Met inagneming van die Reserwebank se grondwetlike mandaat het die Monetêre Beleidskomitee (MBK) geen ander keuse as om Donderdag ʼn verdere verhoging in die repokoers aan te kondig nie.

“Tot ʼn paar dae gelede sou baie mense gehoop het dat ʼn verhoging van 25 basispunte voldoende sou wees – veral in die lig van swak of stagnante ekonomiese groeiprestasie, die voortslepende hoë werkloosheidsyfer, die daling in kleinhandelverkope en die oënskynlik nimmereindigende ellende wat deur beurtkrag meegebring word.”

Roux verwag egter ʼn verhoging van 50 basispunte. Dit sal waarskynlik ook nie tot ʼn versterking van die rand lei nie, maar kan dalk verdere verswakking stuit.

“Die Reserwebank – asook sy kritici én ondersteuners – behoort ook bewus te wees van die feit dat monetêre beleid slegs ʼn werklike uitwerking op die algemene prysvlak kan hê deur sy invloed op verskeie monetêre samevoegings, wat op hul beurt bepalers van die algehele vraag is.

“Op die oomblik val ʼn aantal bepalings wat inflasie aanwakker buite die bestek van monetêre verskynsels. Dit sluit in fiskale laksheid, die internasionale prys (dollar) van olie, onderbrekings in die voorsieningsketting, hoë energiepryse, stygende arbeidskoste, stygende voedselpryse en stygings in ander administratiewe pryse.

“Wanneer bereik ons ʼn punt waar enige verdere rentekoersverhogings geensins inflasie stuit nie en net nog meer ekonomiese ellende skep?”

Roux sê oor die algemeen sal ʼn verhoging van 25 basispunte waarskynlik die meer redelike pad wees om in hierdie stadium te volg, veral as die uitwerking op die wisselkoers weens die beweerde Russiese wapentransaksie kortstondig is.

“Trouens, in die afwesigheid van enige nuwe groot inflasionêre kragte, kan hierdie maand se verhoging die laaste vir ʼn rukkie wees, met die volgende aanpassing – ʼn afwaartse een – iewers in die eerste kwartaal van volgende jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Aai ·

In die 80’s was die rentekoers 25% baie mense het hulle huise verloor my ouers het gesukkel.Ons is nog jonk maar het 15 jaar terug besluit ons betaal ons huis af op 7 jaar van die 20 geleer deur ons ouers.As ons nie daai tyd die besluit gemaak het sou ons vandag sonder huis gesit het want nou is alles buitensporig duur.Sterkte vir die wat nog ‘n pad het om te loop en jy nie vasgeteken op rentekoerse.

Blomkind ·

Goed en wel jou huis is kla betaal…Maar kos en maandelikse uitgawes gaan ook op…

De Bok ·

Toe hierdie rentekoerse eers begin kom het, het ek gedoen wat ek kan om my huis vinngier af te betaal. Die verskil is nou nie wat wonders nie, maar darm is my paaiemente al +- R500 laer as wat dit sou wees, as ek nie laasjaar begin het om elke ekstra sentjie in te betaal nie.

CHRISTINE ·

DIT IS SUPER INFLASIE. NIEMAND KAN DIT BEKOSTIG NIE EN HOE WORD DIT REGVERDIG. DIE BEREKENINGSMODEL MOET VERANDER SOOS OOK MET BEREKENING VAN DIE SUPER INFLATED PETROL EN KOSPRYSE.
DIE BEREKENING IS NET SO OUTDATED SOOS DIE REGERENDE PARTY.

henndrik ·

Ek reken verband rentekoerse, op primere woning, moet nooit meer as 2% meer word as wat die oorspronklike rentekoers was nie

Fluisterwind ·

Kry die wat geld in die bank het dan nie meer rente nie? Hoe kanselleer die rente verdien nie die rente op skuld uit nie? Miskien verstaan ek net glad nie rente koerse.

De Bok ·

Die rente op spaargeld is aansienlik minder as die rente op skuld. Daar is ook aansienlik meer skuld as spaargeld.

So ‘n rentekoers verhoging haal letterlik geld uit die ekonomie uit, om sodoende inflasie in toom te probeer hou.

Dit werk nie, want die ANC is op ‘n oorlogspad teen die ekonomie, so alles word inelkgeval duurder.

annie ·

Om rykes ryker te maak en armes armers is die in ding wêreldwyd. Dit gaan glo help. Ekonome wonder nog net hoe, maar hulle begin sommer dan is dit gedoen. As dit nie werk nie en dit loop uiteindelik uit in ‘n depressie sal hul wel iets of iemand die skuld gee, net nie hulself nie. Al gehoor van ‘n ekonoom wat erken hy was verkeerd?

kaplyn ·

Ekonome verhoog of verlaag nie die rentekoers nie maar wel die reserwebank. So ek verstgaan nie jou redenasie nie????

Sanet ·

Die president en sy maatjies lag al die pad bank toe, want hulle betaal in elk geval niks nie!!!! Die belastingbetalers betaal vir hulle luukshede terwyl ons moet sukkel om kos op die tafel te sit!!!!! SKANDE

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.