Rentekoers weer onveranderd gelaat

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Sincerely Media/Unsplash)

Die Reserwebank se monetêre beleidskomitee het Donderdag op sy laaste vergadering van die jaar eenparig besluit om die rentekoers onveranderd op 8,25% te hou.

Dit is die derde agtereenvolgende keer vanjaar dat die rentekoers onveranderd bly.

Die prima uitleenkoers bly dus op 11,75%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het vanmiddag gesê al vyf lede van die monetêre beleidskomitee het ten gunste daarvan gestem om die rentekoers onveranderd te laat.

Die private beleggings- en welvaartbestuursmaatskappy Everest Wealth sê egter die Reserwebank het sy kans verspeel aangesien ʼn onveranderde rentekoers verbruikersbesteding net verder gaan inperk.

Thys van Zyl, uitvoerende hoof van Everest Wealth, sê ʼn verlaging in die rentekoers sou meer voordelig vir die ekonomie gewees het aangesien dit verbruikersbesteding en huishoudings se vermoë om hul skuld te diens sou aanhelp in die komende feestyd.

“Die rentekoers is sedert November 2021 al tien keer met altesame 4,75 persentasiepunte verhoog, en om dit net dieselfde te hou sal verbruikersbesteding verder inperk.”

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, sê weer die besluit om die rentekoers onveranderd te laat is goeie nuus vir die ekonomie en eiendomsmark.

“Hoewel ons ʼn klein rentekoersverlaging sou verkies het as ʼn hupstoot in die aanloop tot ʼn besige seisoen vir kleinhandel en eiendom, is ons nietemin tevrede met die bank se besluit – veral gegewe die inflasionêre druk.”

Seeff wys ook daarop dat ander sentrale banke soos die Amerikaanse Federale Reserweraad, die Europese Sentrale Bank en die Bank van Engeland ook besluit het om hul rentekoerse onveranderd te laat.

Kganyago het vanmiddag gesê beter maandelikse uitkomste het die Reserwebank in staat gestel om inflasieverwagtinge vir vanjaar marginaal na 4,8% in 2023 en 4,6% vir 2024 te verlaag.

Daar word steeds verwag dat dit in 2025 op 4,5% sal stabiliseer.

Hooflyn-inflasie vir 2023 is ook effens verlaag – na 5,8%. Die verwagting vir hooflyn-inflasie vir volgende jaar is 5% voordat dit na verwagting op 4,5% in 2025 en 2026 sal stabiliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hans ·

Hoër rentekoerse behoort gewone mense aan te moedig om te spaar. Mense moet leer om met begroting te leef, minder wegneemetes te koop en minder onnodige goed oral aanlyn te koop, wat eintlik nie noodsaaklik is nie.

SwartBees ·

@Hans,

Jammer om jou bubble te bars, maar wanneer laas was jy by n winkel, is jy bewus van alles wat omtrent 100% duurder geword het agv beurt krag, unies, stakings, ens…. Uiteet en weg neem etes is taboe en deesdae rerig NET vir die rykes bedoed. Behalwe drank en sigarette, dis al wat jy nog teen ‘n winskoop kan koop.

Mariëtte ·

@Hans
Dis maklik om te praat as jy nie in dieselfde posisie is ander wat volgens ‘n begroting lewe en nogsteeds nie kan spaar nie. En dit is nie agv wegneem etes en des meer nie maar agv die feit dat nie almal hoë salarisse kry of ekstra inkomste daarby nie. Ek is een van die wat nie wegneem etes of uiteet kan bekostig nie. Met al die kostes wat orals opgaan is dit onmoontlik om altyd te spaar. So moenie mond uitspoel as jy nog nie in so persoon se skoene gestaan het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.