Rentekoersdalings nodig om ekonomie hupstoot te gee

Samuel Seeff (Foto verskaf)

Kenners in die eiendomsmark sê die aankondiging deur Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, dat die rentekoers onveranderd op 8,25% bly, was te wagte.

Samuel Seeff, voorsitter van die Seeff-eiendomsgroep, verwelkom die besluit deur die Reserwebank, maar sê dit is ʼn geleentheid wat gebruik kon word om die ekonomie en eiendomsmark ʼn hupstoot te gee.

Volgens Seeff was daar die geleentheid om ʼn daling van 25 basispunte te oorweeg, gegewe die feit dat inflasie op die laagste vlak in maande staan.

“Ons sal graag ʼn daling in Maart wil sien, eerder as later in die jaar.”

Hy sê ʼn sterk eiendomsmark is die fondasie van ʼn sterk ekonomie, en die land kan nie verder bekostig om sonder ernstige ekonomiese ingryping te bly dryf nie.

Minder kopers in die mark beteken egter ook minder kompetisie, en kopers het meer mag om sterk te onderhandel, sê Seeff.

Onveranderde rentekoers dui op groter stabiliteit

Chris Tyson, stigter en uitvoerende hoof van Tyson Properties, verwelkom ook die aankondiging. Hy is optimisties dat dit ʼn periode van groter stabiliteit inlui vir die Suid-Afrikaanse eiendomsmark. “Dit is goeie nuus vir kopers en verkopers.”

Hy verwag ʼn daling in die rentekoers in die tweede helfte van die jaar.

“Dit behoort ʼn balans te skep vir die verdere skommeling wat in 2024 verwag word, veral in aanloop tot die Staatsrede en begrotingstoespraak in Februarie wat waarskynlik tot verhoogde persoonlike belasting en eiendomsbelasting kan lei.”

Volgens hom is die onveranderde rentekoers ʼn verligting vir veerkragtige Suid-Afrikaners. Hy sê groter optimisme in die mark was einde verlede jaar duidelik met die getal navrae wat Tyson Properties in sy sleutelmarkte gekry het, tesame met die getal eerste kopers. Daar is ook hernude positiwiteit in die Johannesburg-mark en KwaZulu-Natal vaar ook goed. Die Kaapstad-mark, wat op ʼn voortgesette opwaartse kurwe is, bly lewendig.

Geen verrassing nie

Yael Geffen (Foto verskaf)

Yael Geffen, uitvoerende hoof van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, het gesê die besluit was te wagte, maar ʼn teleurstelling.

“Verbruikers het ʼn breek nodig. Daar is geen ruimte in huishoudelike begrotings nie – wat hoofsaaklik vir die delging van skuld aangewend word.”

Geffen sê die aankondiging kan met die VPI-syfers van vandeesweek vergelyk word. “Ons is dankbaar dit is onveranderd, maar dit is ʼn 14 jaar-rekordhoogtepunt en duur al sedert vroeg verlede jaar voort.

“Om dankbaar te wees dat die repokoers onveranderd bly of dat die VPI nie hoër is as 6% nie, is die ekonomiese ekwivalent om deur ʼn grypdief aangerand te word, en na die tyd is jy vrolik, want jy is nie dood nie – eerder as om ontsteld te wees dat jy in die eerste plek deur ʼn grypdief aangerand is.”

Geffen sê salarisse het met nagenoeg 7% gedaal in vergelyking met huishoudelike inkomste voor die pandemie in 2019. “As jy vir Suid-Afrika se oorbelaste verbruikers vra wat ʼn Desember-VPI van 5,1% of ʼn onveranderde repokoers vir hulle beteken, is die antwoord waarskynlik ‘niks nie’. Die realiteit is dat huishoudings verdrink in verbandbetalings, vrees om die supermark se kasregister te bereik en meen om vir brandstof te betaal is ʼn goeie rede vir ʼn paniekaanval.”

Totdat die rentekoers nie daal nie, sal dit waarskynlik baie moeilik wees vir eerste kopers om die eiendomsmark te betree, meen Geffen.

“Huiseienaars het tans net een keuse – spaar waar jy kan, en stoot alle ekstra kontant in jou verbandlening in.”

Sy verwag ook ʼn daling in die rentekoers teen die middel van die jaar.

Greg Dart (Foto verskaf)

Greg Dart, direkteur van High Street Auctions, sê ook die aankondiging is geen verrassing nie.

“Die inflasienaald moet baie verder daal voordat enige werklike impak gevoel sal word. Desember se laer VPI van 5,1% was welkome nuus, maar nie genoeg nie.”

Dart sê die aankondiging is egter nie goeie nuus vir beleggersvertroue of om die ekonomie weer ʼn hupstoot te gee nie.

Benoude skuld

Frans Cloete, uitvoerende hoof van Skuldhulp, het intussen gesê die uitgerekte siklus van skerp rentekoerse wat leenkoste tot hul hoogste vlak in meer as ‘n dekade geneem het, het die lewens van Suid-Afrikaners vernietig.

“Verbruikers het hulle tot skuld gewend om óf hul maandelikse betalings te maak óf bestaande skuld af te betaal. Hierdie soort benoude skuld is ‘n aanduiding van ‘n nasie in diep moeilikheid, aangesien dit mense in ‘n bose kringloop vasvang om hul skuld met meer skuld af te betaal. My bekommernis is dat, wanneer die koersverlaging uiteindelik kom, diegene wat kredietwaardig is bloot meer skuld sal aangaan, aangesien die rente op hul bestaande skuld sal daal. Dit is ’n baie gevaarlike neiging,” waarsku hy. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Die SA-banke tap lekker uit inwoners se noustrop-bestaan. Rentekoerse is uiters hoog maar die Reserwebank speel grootmeneer in donker en droewige Afrika en kompeteer met ryk lande in die Weste. Die ANC hoop seker om voor die verkiesing met allerhande toertjies voor ‘n dag te kom om kiesers te paai. Nzimande probeer juis nou uit die tronk bly met miljarde se NSFAS-pamperlangetjies en vir ANC-stemme van studente.

Grassie ·

Bejaardes wat van rente op beleggings leef het die afgelope paar jaar darem so ‘n meevallertjie gekry maar as die rentekoers verlaag sal hulle weer die gordel moet stywer trek. Toe die regering die rentekoerse destyds drasties verlaag het, het die eiendomsmakelaars die prys van eiendomme kunsmatig opgejaag vir meer kommissie. Geen wonder hulle glimlag nou so mooi nie – laer rente beteken meer kommissie in die sak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.