Rentekoers bly onveranderd

Lesetja Kganyago, president van die SA Reserwebank (Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Suid-Afrikaners kan ’n effense sug van verligting slaak nadat Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, Donderdag aangekondig het dat die rentekoers onveranderd op 8,25% bly.

Dit is skrale troos vir diegene wat op ʼn daling gehoop het en steeds onder die huidige hoë koers steier. Die rentekoers het sedert November 2021 met 475 basispunte gestyg. Dit is nou die vierde agtereenvolgende keer wat die rentekoers onveranderd bly.

Kganyago sê die monetêre beleidskomitee het eenparig gestem om die rentekoers onveranderd te laat. Dr. David Fowkes is as nuwe lid van dié komitee verwelkom. Hy vervang Kuben Naidoo wat in Desember by die Reserwebank bedank het. Fowkes is egter nie as adjunk- direkteur-generaal aangestel nie, maar adviseur. Meer besonderhede oor sy posisie sal later bekend gemaak word.

Die prima uitleenkoers bly op 11,75%.

Die besluit om die rentekoers onveranderd te hou kom ondanks die daling in die inflasiekoers in Desember met 0,4 persentasiepunte, wat dié koers op 5,1% te staan gebring het. Dit is nóg laer as die maandelikse inflasiekoers van 5,5% in November en 5,9% in Oktober verlede jaar.

Ekonome het vandeesweek aan Maroela Media gesê dat die rentekoers heel waarskynlik dieselfde sal bly – tog het talle Suid-Afrikaners waarskynlik aan die klein moontlikheid geklou dat dit wel verlaag sou word.

Verskeie ekonome verwag wel ʼn verlaging teen die middel van die jaar.

Kganyago het verder gesê die onlangse verhoging in eier- en aartappelpryse dien as ʼn herinnering dat kosprysinflasie hoog en onvoorspelbaar bly.

Kragpryse, sowel as die spoor- en haweuitdagings in die land, is ook ernstige risiko’s wat tot hoër inflasie kan lei. Beurtkrag, die swak rand en wisselvallige brandstofpryse is ook faktore wat ekonomiese groei kan beperk.

Die Reserwebank verwag wel dat kragvoorsiening in die land geleidelik sal verbeter.

Die bank verwag ʼn laer ekonomiese groei van 0,6% in 2023, teenoor November se verwagting van 0,8%. Die voorspelling vir 2024 bly op 1,2%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

koos10 ·

4 redes wat hy hier meld is ‘n direkte gevolg van ANC regering. 2 redes as gevolg van die natuur. Dit is net ‘n verdere aanduiding dat die ANC dubbel en meer skade aanrig as moeder natuur.

Papsak ·

Het julle klomp anc en Ramaphosa nog nie genoeg skade aan gerig nie nou wil julle so voort gaan sies man pluk by julle sakke mos vol en julle pense ook so flip ander

Papsak ·

Verkeerde President vir Reservebank sy gesig lyk onooslik daarom bly alles onveranderd kan nie dink nie !!!!!!!!

WonderSaam ·

Ons moet die reserwebank ten alle koste onafhanklik hou. Dit is bekwame, ingeligte mense wat die fundametele beginsels van ekonomie goed verstaan. Die feit dat ons regerende party hulle lewe onnodig moeilik maak, is ongelukkig ook waar…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.