Goeie nuus vir verbruikers: Inflasie daal weer

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) het Woensdag bekend gemaak dat die inflasiekoers in Desember met 0,4 persentasiepunte gedaal en op 5,1% te staan gekom het – nóg laer as die maandelikse inflasiekoers van 5,5% in November en 5,9% in Oktober verlede jaar.

Die ekonoom Dawie Roodt sê dít is goeie nuus.

Roodt sê die jongste maandelikse inflasiekoers van 5,1% is ’n “fraksie laer” as wat die mark verwag het.

“Dit is dus ’n goeie syfer.”

StatsSA het verder bekend gemaak dat die gemiddelde inflasiekoers vir 2023 op 6% te staan gekom het. Inflasie het in 2023 dus byna ’n persentasiepunt teruggesak vergeleke met 2022 (6,9%).

Die verbruikersprysindeks (maand tot maand) het in Desember onveranderd gebly.

“Inflasie is steeds aan die hoë kant, maar daar is ’n onderliggende tendens van ’n geleidelike daling in die inflasiekoers. Dit is sekerlik positief,” sê Roodt in reaksie op die jongste en laaste inflasiesyfer van die 2023-boekjaar.

Volgens StatsSA se syfers was inflasie relatief hoog gedurende die eerste vyf maande van 2023 (Januarie tot Mei). Die wesenskoers het konsekwent bo 6% gebly.

Inflasie het egter vir die oorblywende sewe maande van die jaar tot onder hierdie vlak afgeneem. Die hoogste lesing in 2023 was 7,1% in Maart en die laagste was 4,7%, wat in Julie aangeteken is.

Die jongste syfers toon voorts dat inflasie in Desember verlangsaam het wat brood en graan, olies en vette, suiker, lekkers en nageregte, groente en ook warm drankies betref.

Die brood- en graanprysindeks het tussen November en Desember met 0,2% gedaal, wat die jaarlikse inflasiekoers vir hierdie kategorie tot 7,5% verlaag het. Mieliemeelpryse het oor dieselfde tydperk met 0,9% verlaag, met die gemiddelde prys van ’n sak mieliemeel (2,5 kg) wat vanaf R37,04 in November tot R36,64 in Desember gedaal het.

Inflasie vir olies en vette het gedurende Desember in die deflasionêre gebied gebly en ’n jaarlikse verandering van -5,9% aangeteken. Kookoliepryse het tussen November en Desember met 1,6% gedaal.

Die gemiddelde prys vir ’n bottel sonneblomolie (750 ml) was R35,82 in Desember, laer as die R37,47 van Februarie 2023 en heelwat laer as die R45,33 wat in Julie 2022 vir die prys van sonneblomolie aangeteken is.

Die prys van vleis, melk, eiers, kaas, vis en vrugte het egter in Desember gestyg.

Jaarlikse vleisinflasie het in Desember tot 3,9% gestyg vergeleke met 3,5% in November.

Pluimveeprodukte het ook skerp jaarlikse prysstygings beleef: die prys van hoenderborsies het met 18,5% gestyg, terwyl die prys van vars hoenderporsies met 14,6% opgegaan het. Ander stygings sluit in ’n styging van 8,8% in die prys van hoenderstukke wat nie kitsbevrore is nie, heel hoenders (+8,4%) en kitsbevrore (IQF) hoenderporsies (+ 6,4%).

Die melk-, eier- en kaasprysindeks het in die 12 maande tot Desember met 14,5% gestyg, hoër as November se koers van 13,9%. Die 12-maande-styging in eierpryse was 38%, effens laer as November se druk van 39,9%.

Hoewel die kategorie suiker, lekkers en nageregte in die geheel ’n laer jaarlikse koers in Desember aangeteken het, het suikerpryse verlede jaar oor die algemeen aanhou styg. Witsuiker is 20,1% en bruinsuiker 24,6% duurder as ’n jaar gelede.

Die vervoerindeks het in die 12 maande tot Desember 2023 met 2,6% gestyg – heelwat laer as die jaarlikse koers van 13,9% wat in Desember 2022 aangeteken is. Die verlangsaming is hoofsaaklik die gevolg van laer brandstofpryse wat gedaal het met 2,5% oor die vorige 12 maande, en met 2,7% tussen November en Desember.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Ore ·

Wonder in watter winkels het die pryse van voedsel gedaal……tussen die drie groot kettingwikels in my buurt was daar skynbaar ‘n kompetisie wie die duurste was. Ek het strokies om te bewys dat alles duurder geword het,veral groente en vrugte

Manie ·

@Ore, ek stem volkome saam met jou. My beskeie kosmandjie het in 2023 met 18% gestyg, so ek weet nie waar die syfers vandaan kom nie.

Johan ·

Akkoord met julle. Ek koop by verskeie winkels en het nêrens die afgelope 2 maande laer pryse gesien nie. Ekt baie respek vir Dawie Roodt, maar hierdie inflasie syfers, persentasies & faktore maak nie vir die gewone persoon op straat sin nie… ook nie altyd vir my nie.

Jean ·

Laer inflasie beteken nie laer pryse.
Dit beteken die pryse sal stadiger styg, van af wat hulle nou is.
Slegs as jy ‘n negatiewe inflasie syfer het, kan pryse daal.

anna2023 ·

As mens kyk na basiese goedere op die winkel rakke vertel dit ‘n ander storie. Pryse styg met baie meer as hierdie persentasies wat hulle uitwerk.

Andre ·

…Dawie Roodt probeer sy beste om die lig aan die einde van die tonnel te laat brand .
Al gehoor van die stem in die woestyn?

Zonnebloem ·

Eintlik glad nie goeie nuus nie!!! Pryse hou aan styg en styg en daal nie wanneer inflasie daal nie. Plus werkgewers gebruik dit as verskoning om laer verhogingsteken te gee. As die rentekoers daal dan sal dit so klein bietjie help

Papsak ·

Ek hoop die winkels bring nou bietjie die kos pryse ook af kyk waar staan tamaties uie aartappels se pryse is n skande regtig inflasie koers kom af masr ek sien geen laer pryse in winkels nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.