Reserwebank hou rentekoers onveranderd

(Argieffoto: Maroela Media)

Die rentekoers is vir ʼn tweede agtereenvolgende keer onveranderd gehou op 8,25%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê drie van die vyf lede van die monetêre beleidskomitee het ten gunste daarvan gestem om die rentekoers onveranderd te laat, terwyl die ander twee lede die rentekoers met 25 basispunte wou verhoog.

Volgens Kganyago het inflasie deur die loop van die jaar afgeneem, maar ʼn verdere verlangsaming in inflasie lyk minder seker. “Groeivoorspellings bly gedemp. Die ekonomiese vooruitsigte op langer termyn word egter vertroebel deur aanhoudende risiko’s vir die inflasietrajek, die negatiewe uitwerking van klimaatsverandering en voortdurende geopolitieke spanning.”

Inflasieverwagtinge vir 2023 is tot 5,9% verlaag, teenoor die 6% wat in Julie voorspel is. Vir 2024 word die inflasieverwagting tot 5,1% verhoog teenoor die 5% wat in Julie voorspel is. Daar word verwag dat dit in 2025 op 4,5% sal stabiliseer.

Ondanks aansienlike beurtkragverligting in die wintermaande, het dit weer toegeneem en pryse vir kommoditeitsuitvoer verswak steeds. Op kort termyn bedreig sterker El Niño-toestande die landbouvooruitsigte, terwyl wêreldwye klimaatsgebeure bykomende risiko’s inhou. Energie- en logistieke beperkings bly groeivooruitsigte strem, wat ekonomiese aktiwiteit beperk en koste verhoog.

Die Reserwebank se verwagting rakende ekonomiese groei is van die 0,4% wat in Julie voorspel is, na 0,7% aangepas. Die groeiverwagting vir 2024 en 2025 is onveranderd op onderskeidelik 1% en 1,1% gehou.

Oliepryse het die afgelope maande gestyg en kommoditeitsuitvoerpryse het verder gemodereer. Die rand het die afgelope jaar verswak, en vir die jaar tot dusver met sowat 10% in waarde verminder teenoor die Amerikaanse dollar.

“Ons verwag dat voedselprysinflasie in die nabye termyn verder gaan verlangsaam, maar met ʼn hoë risiko dat dit later in 2024 sal optel. In die afwesigheid van volgehoue verhogings in energievoorsiening hou elektrisiteitspryse steeds duidelike inflasierisiko’s in. Beurtkrag en logistieke beperkings kan ook ʼn wyer uitwerking hê op die koste om sake te doen én lewenskoste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.