Reserwebank interpreteer mandaat ‘te eng’

SA Reserwebank (Foto: ANA)

Kenners beskryf die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se verslag oor die Phala Phala-skandaal as “minder bevredigend”, maar meen nog steeds nie dié instelling se bevindings is ʼn teken van politieke inmenging binne die bank nie.

Dit lyk wel asof die SARB sy mandaat in die ondersoek hopeloos te eng geïnterpreteer het en só heelwat meer vrae as antwoorde geskep het.

Die Reserwebank het Maandag, ná ʼn jaar lange ondersoek, bevind nóg Ramaphosa nóg enigiemand op sy plaas het enige valutabeheerregulasies oortree nadat duisende dollars voete gekry het.

“Gegrond op die feite tot sy beskikking, kon die SARB geen bewyse van ʼn transaksie vind nie, en kon hy dus nie tot die gevolgtrekking kom dat enige valutabeheerregulasies deur Ntaba Nyoni Estates óf die president oortree is nie,” het die bank gesê.

Die Reserwebank het dit ook duidelik gestel dat sy volledige verslag nie bekend gemaak word nie weens “wetlike vereistes en beperkings”.

Karam Singh, uitvoerende direkteur van Corruption Watch, meen die bevindings is nie noodwendig ʼn aanduiding dat die Reserwebank gekaap is nie.

Hy sal wel graag die bank se geheimhoudingsbepalings onder die loep wil neem. “Dit is veral ʼn probleem wanneer dit kom by openbare figure soos die president. Totdat ons die verslag sien, laat hul stellings baie vrae onbeantwoord.”

Argieffoto van Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank. (Foto: GCIS)

Roland Henwood, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, beaam dit.

“Die Reserwebank het ʼn baie goeie rekord. Die bank is ook nie ʼn ondersoekende entiteit nie en het binne sy mandaat opgetree. Hy het wel die mandaat baie eng geïnterpreteer. Dit is hoekom daar nou vrae gevra word,” sê Henwood.

Dr. Dion George, die DA se woordvoerder oor finansies, sê die “eng fokus van die sentrale bank se ondersoek wek ook kommer oor die deeglikheid daarvan en of enige politieke oorwegings ontstaan het”.

Verskeie politieke partye het Maandag in reaksie op die bevindings gesê die feit dat geen bewyse van ʼn werklike transaksie gevind kon word nie, laat nou net nog meer vrae ontstaan oor hoe die geld in die eerste plek in die rusbank beland het.

Singh sê mense se vrae is geregverdig en kan toegeskryf word aan die Reserwebank se “minder bevredigende” bevinding en versuim om duidelikheid te gee oor presies wat hy ʼn jaar lank ondersoek het.

Die Reserwebank het aangedui dat sy mandaat in die ondersoek slegs was om te bepaal of daar oortreding van valutabeheerregulasies was met betrekking tot die geld wat gesteel is, en dat enige ander beweerde oortredings deur die toepaslike wetstoepassingsowerhede ondersoek moet word.

“As die reguleerder van geldeenheid binne en oor ons grense is die integriteit en onafhanklikheid van die Reserwebank uiters belangrik,” sê George. “Dit is noodsaaklik vir ons demokrasie en die finansiële stabiliteit van Suid-Afrika, veral met inagneming van ons onlangse gryslys-plasing deur die FATF, dat die Reserwebank sy ondersoeke met die grootste sorg en sonder enige vrees, guns of vooroordeel uitvoer.”

Henwood meen ook dit lyk asof die Reserwebank Ramaphosa sagkens hanteer het. “Ramaphosa is as president beslis op ʼn ander manier hanteer.”

Ondersoek die bron

Henwood vermoed ook Ramaphosa kán nie lede van die publiek se vrae beantwoord nie al wou hy, aangesien hy nie op die plaas teenwoordig was toe die geld voete gekry het nie.

Henwood meen daar behoort ook ondersoek ingestel te word na die bron van die oorspronklike bewerings aangesien die bewerings tot op hede nie bewys kon word nie.

Hy meen die bewerings kom ook nie juis van ʼn betroubare bron (Arthur Fraser) nie.

“Dit is veral noemenswaardig dat, sover dit die Konstitusionele Hof, die hoogste hof van appèl in Bloemfontein én die Pretoriase hooggeregshof aangaan, Fraser verkeerdelik opgetree het toe hy Jacob Zuma op mediese parool vrygelaat het.

“Fraser tree nie in Suid-Afrika se belange op nie. Hy tree op in sy eie en sy elite-groepering se belange. Dit is vir my baie vreemd dat die aandag op Ramaphosa bly en niemand vra vrae oor Fraser en wat hy hierdeur wou bereik nie.”

Singh stem saam die bewerings kom van ʼn verdagte bron. “Dit kom van ʼn geïmpliseerde persoon. Ek dink óók daar moet ʼn ondersoek na Fraser kom.”

“Dit is egter nie die een óf die ander nie.

“Daar behoort ʼn ondersoek vir albei kante vereis te word.”

Ramaphosa kan nog nie rus

Singh meen dit sal voortydig wees van Ramaphosa om te dink dat hy die gewraakte Phala Phala-skandaal agter hom geplaas het, aangesien die Valke nog ʼn ondersoek na die skandaal moet afhandel.

Henwood sê egter die kans dat Ramaphosa strafregtelik aangekla word, is baie skraal.

“Hy gaan hierdie ding polities oorleef, maar dit gaan altyd aan hom bly klou – soos Marikana. Hy gaan altyd daarmee verbind word aangesien daar geen klinkklare antwoorde is nie. Dit gaan dalk oorwaai, maar dit gaan nie vergete wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

domheks ·

cr verhewe bo die wet! Pleks hy die miljarde gebruik om honger mense te voed.

Daisy ·

My vorige kommentaar het verdwyn – ek se weer so my Amerikaanse Dollars onder my bed is veilig, ek hoef dit nie te verklaar nie, ek hoef nie te se waar dit vandaan kom en hoe dit daar beland het nie, en ook nie wat ek beplan om daarmee te doen nie – reg so?

marius ·

Daar is ‘n presedent geskep en hulle gaan dit voel . Wat goed is vir die een is goed vir die ander. Polities gemotiveerd .

efjy ·

Frazer het vir Zuma op mediese parool geplaas. CR. het Zuma sommer totaal van sy straf kwytgesteld. Frazer hoef nie by die berig betrek te word nie. Dit het niks met die saak te doen nie en CR het nooit Frazer se aantuigings betwis nie. Frazer het op daardie stadium heel betroubaar voorgekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.