Wenkbroue lig oor Reserwebank se Phala Phala-bevinding

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) se bevinding dat nie pres. Cyril Ramaphosa óf sy maatskappy die valutabeheerregulasies oortree het toe derduisende dollar op ʼn plaas in Limpopo gebuit is nie, het Maandag die wenkbroue laat lig.

Die SARB se bevinding berus daarop dat hy “geen bewyse van ʼn werklike transaksie” met betrekking tot die verkoop van beeste op die president se wildsplaas Phala Phala kon vind nie.

ActionSA sê hulle is in gesprek met hul regsverteenwoordigers oor verdere stappe wat gedoen kan word. “Ons is oortuig daarvan dat die SARB se ondersoek nog ʼn poging is om president Ramaphosa se betrokkenheid by die diefstal te verbloem. Hoe is dit moontlik dat $580 000 in ʼn rusbank versteek is sonder dat ons finansiële instellings daarvan bewus is?”

Die party is ook teleurgesteld met die Reserwebank se besluit om nie die volledige verslag na hul ondersoek bekend te maak nie. “Indien die president niks het om weg te steek nie, hoekom die verslag geheim hou?”

Een van die buffels wat te koop is op pres. Cyril Ramaphosa se wildsplaas. (Foto: Facebook/ Phala Phala Wildlife)

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die verslag laat nog meer vrae ontstaan oor die hele aangeleentheid en die president se betrokkenheid daarby. “As daar dan geen bewyse van transaksies is nie, hoe het hierdie geld in die land ingekom? Die Reserwebank se bevindings bewys net dat die VF Plus reg was dat die verslag van die onafhanklike komitee (artikel 89-paneel) destyds verder gevoer moes word en dat die ANC misbruik gemaak het van sy mag in die parlement om te verhinder dat die parlement ʼn behoorlike ondersoek na die aangeleentheid doen.”

Die EFF het ook die SARB se bevindings verwerp en sê deur Ramaphosa op dié manier van alle blaam te onthef, bevestig die bank bloot wat die EFF al lank vermoed, naamlik dat daar in die eerste plek geen transaksie vir die verkoop van die buffels was nie en dat die “transaksie” bloot geldwassery was.

“Ramaphosa het self die ontvangs van die geld erken. Geld wat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) geen rekord van het nie. Dit is opsigself ʼn bewys van kriminele optrede wat na Ramaphosa wys,” lui die EFF se verklaring.

Die party sê die SARB se mandaat is nie om te verseker dat transaksies wel plaasgevind het en of goedere na afloop daarvan gelewer word of nie. “Die verslag is daarom ʼn power poging van die Reserwebank om te verseker dat Ramaphosa nie verantwoordelik gehou word vir die oortreding van valutabeheerregulasies nie.”

Die EFF vra ook die vraag dat, indien daar geen transaksie was nie, soos die SARB beweer, hoekom is dit as sodanig in Ntaba Nyoni Estates CC se boeke geregistreer en hoekom was daar $580 000 op die plaas versteek?

Groenewald sê die verslag bevestig ook dat daar wel aangeleenthede is waaroor Ramaphosa antwoorde moet verskaf en indien hy dit nié doen nie, moet die parlement genader  word om te bepaal of daar weer ʼn komitee aangestel moet word om die president behoorlik te ondersoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

George ·

Wat ons mense nie besef nie is dat alles in ons land wat skoon …rein en eerlik was is deesdae gekaap is om die ANC te beskerm…tot die hoogste gesag in ons howe is al gekaap…solank as wat die ANC aan bewind gaan bly , solank sal SA se demokrasie en konstitusie gekaap bly

Johann ·

Als deel van kader status. Onverandwoordbaar en onaantasbaar. Skaamtelose misbruik van elke moontlike instelling om hul en hul kamerade te beskerm. Klug!

domheks ·

Geld word onderduims betaal. Die geld is NIE vir ‘n transaksie nie. Die buitelander het saam gelieg! Hoe sal jy soveel betaal en NIKS daarvoor in ruil kry nie? Hy/hulle dink ons is onnosel.

Republikein in die Wes Kaap ·

En dan sê die regime die land maak vordering om van die gryslys verwyder te word.

KB ·

Waar ʼn rokie is, is ʼn vuurtjie. Die SARB raak nou soos onse SAPD, Eskom, howe en derglike ander SOE’s, nè. Lekker ou BEE-/kader-aanstellings!

efjy ·

Ons werk en betaal vir ‘n mafia staat belasting. Wanneer gaan iemand halt roep en weier om verder belasting te betaal. Belasting kan in ‘n trust fonds betaal word en aangewend word vir die regte doeleindes. Tans word dit deur ‘n mafia organisasie verkwis en gebruik om misdaad te pleeg. Skrik wakker RSA.

Papsak ·

Almal van hulle korrup en onderduims skelms tyd hulle moet gaan klaar

Spookasem ·

Rama is korrup. Ons regering, die Reserve Bank en ons howe is korrup. SA is ‘n grap-land, maar dis net die korrupte spul wat lag. Ek dink ek moet nou plan maak dat iemand vir my ‘n spul dollars die land inbring. En dan gaan ek ook niks forex koste betaal nie, geen belasting betaal nie, want daar was geen besigheids transaksie nie. Hulle het nou ‘n lekker deur oopgemaak vir ‘wettige’ geldwassery!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.