Reserwebank moet ‘oordeelkundig wees met verhogings’

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank. (Argieffoto: ANA)

Solidariteit het ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gedoen om oordeelkundig op te tree wanneer die sentrale bank Donderdag sy jongste bepaling van die rentekoers bekendmaak.

Verskeie ekonome het vroeër aangedui dat nóg ʼn rentekoersskok dalk op pad is, en moontlik met 75 basispunte verhoog kan word.

Solidariteit voer aan dat hoewel inflasie teen ʼn koers van 7,6% steeds buite die Reserwebank se teikenband van tussen 3% en 6% is, dit geen rede vir skerp rentekoersstygings bied nie.

“ʼn Hoër rentekoers sal die verbruiker onder nog groter druk plaas en enige kans op ekonomiese groei in Suid-Afrika kniehalter. Die ekonomie het reeds in die vorige kwartaal gekrimp en met voortdurende beurtkrag is dit amper ʼn gegewe dat ekonomiese groei in hierdie kwartaal ook onwaarskynlik sal wees. Die SARB kan nie bekostig om nog kapitaal uit die reeds sukkelende mark te onttrek nie,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Volgens Solidariteit moet die SARB ernstig besin oor die gevolge wat hoër rentekoerse vir die reeds beleërde Suid-Afrikaanse verbruikers inhou.

“Ons verstaan dat daar teen verdere inflasie en randverswakking beskerm moet word, maar ten koste waarvan? Die Suid-Afrikaanse verbruiker gaan reeds gebuk onder ʼn groot skuldlas, tesame met hemelhoë inflasie. ʼn Drastiese rentekoersverhoging sal dit alles vererger.”

Solidariteit meen dat die huidige inflasie hoofsaaklik toegeskryf kan word aan aanbodfaktore en dat verhoogde rentekoerse Suid-Afrikaners bloot sal verarm sonder om ʼn wesenlike invloed op die verbruikersprysindeks (VPI) te hê.

“Mens kan gewoon nie ʼn tekort aan goedere soos olie en graan regtoor deur met rentekoerse ʼn tekort aan geld mee te bring nie. Die grootste faktor in die huidige inflasiesiklus is internasionale tendense, soos die olieprys wat byvoorbeeld die huidige brandstofprysinflasiesyfer van 43,2% tot gevolg het.”

Du Buisson sê ʼn oordrewe drang na rentekoersverhogings sal min bydra om dit te verlig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SwartBees ·

Hierdie goewerment voel n veer vir ons. Al die staats instansies is leeg getap en ons is volgende in die visier.

VaalDonkie ·

My maandelikse huispaaiement is alreeds amper R4000 meer as toe ek die huis in November 2021 gekoop het. Dis absoluut belaglik om die rentekoers so vinnig opwaarts aan te pas. Ek het darem slim genoeg gewees om my bekostigbaarheid sommetjies teen ‘n rentekoers van 12% te maak, eerder as die 8% wat dit nou vir my is. Maar ek wou graag skuld klaar betaal en geldjies spaar vir die volgende ramp.

Stefani ·

Alhoewel ek simpatie het met persone wat huislenings en ander skuld het, wil ek net die vraag vra. Wat van pensioenarisse wat op hul rente leef? Daar was n tyd toe rentekoerse op huislenings 25% was. So in werklikheid is die huidige rentekoerse gemeet aan vorige jare nog nie hoog nie.

VaalDonkie ·

Wat julle nie verstaan nie, is dat as die rentekoers opgaan, die dingetjies wat jy wil koop OOK duurder word. En dus koop daai ekstra geldjie dieselfde, of selfs minder. Soos ek wat ‘n 6% verhoging in my salaris gekry het, maar slegter daaraan toe is hierdie jaar oor my huispaaiement met meer gegroei het as wat ek ekstra verdien. En dieselfde gaan met die oumense gebeur. En ek is nie baie in my noppies daaroor nie want daar woon DRIE bejaardes by my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.