Reserwebank ‘ontwykend’ oor Phala Phala; regsaksie beplan

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (Foto; Thobile Mathonsi/African News Agency/ANA)

Die DA en EFF beplan regsaksie oor die Reserwebank se verslag oor sy ondersoek na die Phala Phala-sage, terwyl die UDM ook ʼn aansoek wil bring om die verslag openbaar gemaak te kry.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het Woensdag aan die parlement se staande komitee oor finansies (Skoor) gesê hy is tevrede met die bank se ondersoek na die aangeleentheid. Die Reserwebank het ná ʼn jaar lange ondersoek bevind nóg pres. Cyril Ramaphosa nóg enigiemand op sy plaas het enige valutabeheerregulasies oortree nadat duisende dollar voete gekry het. Die Reserwebank het besluit om nie die verslag volledig bekend te maak nie.

Dr. Dion George, DA-woordvoerder oor finansies, het gesê ten spyte van die DA se pogings om die verslag te bekom, bly die Reserwebank standvastig in sy onwilligheid om die dokument of voldoende inligting bekend te maak “om te verseker dat die integriteit van die Reserwebank nie gekompromitteer is nie”.

Volgens George het hy tydens die Skoor-vergadering verskeie vrae aan Kganyago gestel, maar sy  antwoorde was “ontwykend, onvolledig en onoortuigend”.

“Hy het egter erken dat die Reserwebank geen kontrak, buiten ’n faktuur, gesien het wat die voorwaardes van die betrokke transaksie uiteensit nie, wat twyfel laat ontstaan oor die integriteit van die ondersoek. Boonop het hy geen insig gegee in enige presedente wat deur vorige ondersoeke geskep is nie.”

Die DA sal hom nou tot die hof wend om die Reserwebank se besluit om die verslag nie volledig bekend te maak nie, te laat hersien.

“Die DA sal nie hierdie saak laat rus nie. Suid-Afrikaners het die reg om te weet wat werklik by Phala Phala gebeur het en dit sluit in om te weet of die president enige finansiële wet wat hy toevertrou is om te handhaaf, oortree het.”

Die EFF het ook vroeër gesê hy gaan die hof nader om die Reserwebank se verslag oor die sogenaamde Phala Phala-dollars te laat hersien.

Julius Malema, leier van die EFF, het gesê die verslag is “duidelik ʼn poging om die misdade by Phala Phala weg te steek” terwyl “staatsinstellings misbruik word om die president van Suid-Afrika te beskerm”.

Die UDM wil ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om toegang te bekom tot die Reserwebank se Phala Phala-verslag.

ActionSA en die DA het reeds aansoeke in die verband ingedien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Andre ·

Dis n jammerte as die enigste entiteit wat nog geloofwaardig was, dinge moontlik begin wegsteek. Die reserwebank is veronderstel om nie polities te wees nie. Hierdie aangeleentheid laat dit nie so lyk nie.

SjN ·

Waar is die wetgewing wat ingestel is deur die Financial Service Board, hoekom word dit nie nou toegepas nie?

Amelia ·

volgens my mag daar net n sekere bedrag die land in en uit Is daarbelasting betaal of die dollars Ek glo gald nie die storie nie wonder wat se gunsies was dit werd

Andries ·

$10 000 is al wat my seun van Amerika mag inbring. Daarna is daar groot probleme. Hierdie karakter het sommer honderde duisend $’s gehad.

Samuel ·

Het enigiemand gedink die Phala Phala gemors sal op ‘n eerlike manier afgehandel word??? Is daar enigsins ‘n eerlike ANC kader??

annie ·

Baie snaakse storie wat totaal ongeloofwaardig is. Veral die ryk man wat oor Kerstyd wild dringend benodig en met ‘n sak vol dollars rondry. En toe vertrek hy sonder die buffel en is toe nie meer haastig nie. Hoe kry mens so ‘n klomp geld voor Kersfees by ‘n bank sonder vrae? Is dit nie ‘n bietjie baie geld vir net een dier nie. Dat hy ook nie geweet het dit is Cyril se plaas nie. Aikonna!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.