Resultate vir ‘belowende’ Covid-19-entstof dán verwag 

(Foto: Virginia Mayo/AP)

Daar behoort in die eerste kwartaal van 2021 al resultate te wees vir een van die drie belowendste koronavirus-entstowwe wat tans onder meer in Suid-Afrika getoets te word.

Proewe vir dié entstof, ChAdOx1 nCoV-19, is verlede week hervat nadat dit tydelik gestaak is toe ʼn deelnemer van Engeland siek geword het. Dit word ook in Brasilië en Amerika getoets.

Die entstof is deur die Oxford-universiteit in die Verenigde Koninkryk ontwikkel en word tans op sewe terreine in Suid-Afrika getoets, sê dr. Shaun Barnabas van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.  Barnabas staan aan die hoof van die Tygerberg-proefterrein in Kaapstad.

Volgens Barnabas is die fakulteit betrokke die ewekansige, plasebo-beheerde fase I/II-proef. “Die entstof is op ʼn sjimpansee-adenovirus gebaseer. Dít en die feit dat die virus homself nie kan repliseer nie, behoort die veiligheidsprofiel te verhoog.”

Sowat 1 000 vrywilligers het reeds die toetsentstof in die VK ontvang en belowende aanvanklike resultate is in The Lancet gepubliseer. In Suid-Afrika sal sowat 2 000 vrywilligers landwyd aan die proewe deelneem en die Tygerberg-terrein het tot dusver sowat 150 van ʼn beoogde 200 vrywilligers geregistreer.

“Dis ʼn mengsel van mense en werwing was eenvoudig. Ons soek mense wat die algemene bevolking verteenwoordig, gesond is en nie onderliggende siektes het nie,” sê Barnabas.

Foto: Wits

Deelnemers word vir teenliggaampies gesif en ʼn nasale monster word ook geneem om vir aktiewe siekte te toets. Barnabas verduidelik dat ʼn vorige Covid-19-infeksie nie deelnemers uitsluit nie omdat goeie data nog nie bestaan oor of ʼn vorige infeksie werklik beskerming bied nie.

Vrywilligers word ook vir onderliggende siektes getoets – veral hepatitis B, diabetes en MIV – en gevra om ander toestande soos hipertensie of asma aan te dui.

Die studie behels dat twee dosisse van die toetsentstof ʼn maand uitmekaar toegedien word. Daar word gehoop dat registrasie teen middel Oktober afgehandel sal wees. Immunologie-toetsing sal ná die toediening van die tweede dosis in die VK gedoen word.

“Ons behoort in die eerste kwartaal van 2021 van die resultate te hê,” sê Barnabas.

Weens die dringendheid om ʼn entstof te vind word die meeste studies teen ʼn redelik vinnige tempo gedoen, maar dit beteken nie veiligheid kan in die gedrang gebring word nie.

“Duisende mense registreer vir hierdie studies, derhalwe is die moontlikheid relatief hoog dat iemand iets heeltemal toevallig ontwikkel,” verduidelik Barnabas. “Enige ongunstige gebeurtenis lei tot ʼn globale onderbreking. Daar is ʼn enorme klem op veiligheid en monitering vind op ʼn baie hoё vlak plaas. Daar is ook goeie kommunikasie tussen die terreine.”

(Foto: Unsplash)

In Suid-Afrika word die studie baie noukeurig deur die Suid-Afrikaanse Beheerraad vir Gesondheidsprodukte, die Dataveiligheid-en-moniteringsraad, ander beheerowerhede en institusionele etiekkomitees gemoniteer.

“Suid-Afrika is ʼn navorsingsintensiewe land as dit by aansteeklike siektes en entstowwe kom,” sê Barnabas. “Ek dink ons betrokkenheid by hierdie proewe sal ons kanse verbeter om toegang tot ʼn suksesvolle entstof te bekom wanneer dit beskikbaar word. Ek glo ons moet ons uitstekende hulpbronne gebruik om tot die ontwikkeling van ʼn entstof teen Covid-19 by te dra. Dit gaan daaroor om ʼn goeie globale burger te wees.

“’n Entstof is die beste manier om die pandemie te bowe te kom en die hervatting van ʼn normale lewe moontlik te maak.”

Die studie word deur die Bill & Melinda Gates-stigting gefinansier en is in Suid-Afrika onder die leiding van prof. Shabir Madhi van die Universiteit van die Witwatersrand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Persheks Adri ·

Hou jou entstof dankie! Julle kan iemand anders gebruik as proef konyne nie my gesin nie. Nie eers free, gratis of verniet nie

Zombie ·

Niemand word gedwing om die entstof te neem nie. Almal is vrywilligers. Die tirade is dus vreemd.

Stefaan ·

Jip. Sien moeilikheid kom as die regering dit wetlik wil toepas. GROOOOT moeilikheid

Tania ·

Hoe vinniger ons ‘n entsof kry hoe vinner gaan alles na normaal terugkeer. As julle dink die ding is oor, gaan loer wat gaan in die ander lande aan. As mens na pandemies kyk is die 2de jaar se golf die ergste, ek sal verkieslik ‘n entstof wil he voor dan en ek dink hulle sal dit moet verpligtend maak. Gaan dalk baie mense gekant wees daarteen.

JohanR ·

Ek wil uit die selfde flessie gespuit word as Bill Gates en sy kinders. Dan wag ons 48 uur en spiut my in. Ek sal daai flessie onder slot en grendel hou.

Anel ·

Nee dankie. Nie eens vir al die geld in die wêreld nie. En ek gaan sit eerder in die trink as om deur hulke onbekende goed gespuit te word. Kry maar vir julle.

Cheryl ·

Enige iets wat van die Bills foundation kom is ‘n definitiewe groot NEE! Dan praat ek nie eers van dit waaruit die entstof bestaan nie.

Dries ·

Maar dit is lekker en okay om Bill Gates se sagteware te gebruik? Hoe weet jy dat Microsoft nie op jou spioeneer deur jou rekenaar nie?

Cheryl ·

Nee Dries ek gebruik nie Microsoft nie. Het darem meer breins as dit.

Charles ·

Ek soek geen entstof in my liggaam, hulle kan my maar martel of doodmaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.