Reto, Lawrence laat Suid-Afrikaanse vlag wapper

Paula Reto (Foto: Vaughn Ridley/Getty Images/AFP)

Suid-Afrika se Paula Reto het Sondag die eerste titel van haar nege jaar lange LPGA-loopbaan ingepalm toe sy die Kanadese Ope vir vroue gewen het.

Die 32-jarige van Kaapstad het vyf voëltjies aangeteken om die laaste ronde in 67 houe, vier onder baansyfer, te voltooi en om op 265, 19 houe minder as baansyfer, vir die toernooi te eindig.

“Dit is vir seker ’n droom wat waar word,” het Reto gesê. “Ek is regtig gelukkig want dit het so lank gevat. Ek het altyd gehoop ek sal eendag wen, en dit het waar geword. Ek is regtig so opgewonde.”

Haar oorwinning het vir haar by die R5 miljoen se prysgeld in die sak gebring.

Reto het Donderdag ook ’n baanrekord op die Ottawa-jag-en-gholfklub opgestel met 62 houe, nege onder baansyfer. Sy het in Februarie die eerste titel van haar loopbaan gewen tydens die Sonskynreeks.

Thriston Lawrence (Foto: GABRIEL MONNET/AFP)

Intussen het Suid-Afrika se Thriston Lawrence Sondag die Europese Meesters in Switserland gewen.

Lawrence het Matt Wallace op die eerste uitspeelputjie verslaan nadat albei op 18 houe minder as die baansyfer geëindig het.

“Hierdie byeenkoms is so ryk aan geskiedenis, so ek kan nie wag om my hande daarop te kry nie,” het Lawrence gesê.

Dit is Lawrence se tweede oorwinning in die DP World-reeks nadat hy in November die Joburg Ope-gholftoernooi gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

B-Man ·

Darem goeie sportuitslae ook vir die naweek… gelukkig is gholf nie ‘n spansport nie, dan het ons dit ook verloor.

Mrs H ·

So trots op hulle! Wys jou net, waar politiek nie betrokke is nie, vaar ons SA’ners altyd goed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.