Reuseskenking voed duisende, skep werksgeleenthede

‘n Onlangse uitdeelaksie in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand en die ondersteuningsentrum Moeggesukkel kan te danke aan ʼn anonieme skenker sorg dat nagenoeg 150 000 etes onder behoeftiges versprei word.

Anton Smith, voorsitter van Helpende Hand se Centurion-tak, het die skenking in ontvangs geneem wat dié ondersteuningsentrum sal bemagtig om ʼn voedsame en bekostigbare voedselaanleg by hul perseel in Centurion op te rig.

Met dié aanleg en te danke aan die skenking kon nagenoeg 25 000 pakke kos versprei word. Dit is nagenoeg 150 000 etes. Oor werkskepping sê Smith die kosaanleg verseker tans 30 werksgeleenthede.

“Nie net kan ons nou sorg vir goedkoper en gesonde kos nie, maar skep ons ook werk. Die produk, VeggieMeat, word beskryf as ʼn voedsame oplossing om behoeftiges mee te voed,” sê Smith.

Moeggesukkel verander sedert sy stigting in 2011 die lewens van hawelose en dwelmverslaafde mans.

“Ons werk ook sedert ons stigting nou saam met Helpende Hand aangesien albei instansies glo aan die konsep om mense op die regte manier en volhoubaar te help,” sê Jacques Papenfus, stigter van Moeggesukkel.

Dié twee instansies het vroeër saam die #GeeReg-inisiatief van stapel gestuur wat die publiek aanmoedig om meer verantwoordelik te gee wanneer hulle haweloses en behoeftige mense wil help.

“Om reg te gee is nie die R20 wat jy by die venster uitdruk vir iemand by ’n verkeerslig nie; dit is om onverantwoordelik te gee. #GeeReg is daar om seker te maak dat wat jy gee reg aangewend word en werklik iemand ophef en dat jy nie net die persoon se bestaande nood of verslawing onderhou nie,” verduidelik Papenfus.

Hy sê Moeggesukkel kan met dié skenking volhou om VeggieMeat, wat uit 100% plantegebaseerde proteïene bestaan, te vervaardig.

“Nie net is dit voedsaam en heerlik nie, maar ʼn mens kan elke dag van die week ʼn ander gereg daarvan maak. Die produk bestaan meestal uit gedroogte soja met ʼn poeier propvol vitamiene. Een pak kos R20 en kan ses volwassenes of tien kinders voed. Dit is ook veganis-vriendelik en ʼn mens kan disse soos kerrie en rys, breyani, pasta, allerlei soppe en selfs bobotie maak,” voeg Papenfus by.

Die VeggieMeat-produk. (Foto: Verskaf)

Smith sê soja word aangekoop en by Moeggesukkel se aanleg verwerk en verpak voordat dit landswyd deur Helpende Hand se strukture versprei en uitgedeel word.

“Vir ons is kos se voedingswaarde baie belangrik en nie noodwendig die prys daarvan nie. So dit is ’n seëning dat die produk en Moeggesukkel oor ons pad gekom het.”

Helpende Hand se Centurion-tak het uit die skenking ook die toerusting aangekoop om die soja te gebruik om verwerkte vleis soos Weense worsies, polonie en salami te maak. Hierdie uitbreiding het ʼn verdere tien werksgeleenthede geskep.

Moeggesukkel het uit ʼn gebaar van dankbaarheid verlede week ʼn Renault Kwid-voertuig aan Helpende Hand geskenk wat deur sy maatskaplike werkers aangewend gaan word wanneer hulle die land plat reis om assesserings te doen om gesinne in nood by te staan.

“Dit is vir ons ʼn wen-wen samewerking. Ons glo in die konsep om reg te gee en ook ons ondersteuners die gemoedsrus te gee dat hulle skenkings reg aangewend word om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom. Die voertuig is vir Helpende Hand ʼn geweldige bate om maatskaplike werkers te help doen wat hulle moet doen,” sê Hannes Noëth, direkteur van Helpende Hand.

  • Die publiek kan dié twee instansies help deur om VeggieMeat vir hulself aan te koop. Hulle kan ook geldelike bydraes maak, waarmee die produk aangekoop en onder behoeftiges versprei sal word. Vir meer inligting besoek moeggesukkel.co.za.
  • Die publiek kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds om hierdie projek te ondersteun by helpendehand.co.za of by www.krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

mag wit mense dan nou ook kospakkies kry? Daar was al soveel drama daaroor. Die polisie het tot sekere sentrums wat kos aan wit mense uitdeel, dopgehou om te keer dat hulle kos uitdeel. Ek gee niks meer nie, want ek weet nie of dit by arm behoeftige mense gaan uitkom nie,
Daars twee stele reels vir so baie goed in SA. Eks al amper skaam dat ek wit is. Dis seker ook n oortreding.

Die Wolf ·

Ou grote, Sit eerder maar jou rekenaar af. Eerlikwaar wat dink jy doen Solidariteit ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.