Riah Phiyega se skorsing verwelkom

Riah Phiyega. Foto: GCIS

Riah Phiyega. Foto: GCIS

Talle partye het die skorsing van Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, verwelkom.

Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê Phiyega kon nie tydens haar ampstydperk met ʼn werkbare plan teen misdaad vorendag kom nie. “Daarbenewens het Phiyega Solidariteit voortdurend in die openbaar gekritiseer omdat ons onbillike diskriminasie in die polisie, waarin sy ʼn direkte aandeel het, wou beveg,” sê Kruger.

Solidariteit, wat tans 12 hangende hofsake teen die SAPD voer, het ʼn beroep op die regering gedoen om toe te sien dat Phiyega se opvolger beter daartoe in staat sal wees om die SAPD te lei en landsburgers se veiligheid te verseker.

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het intussen ook Phiyega se skorsing verwelkom. “Ons vra reeds ʼn geruime tyd dat daar van Phiyega, wat duidelik onbevoeg vir haar posisie én ʼn politieke aanstelling is, ontslae geraak moet word.

“Haar optrede was by verskeie geleenthede ʼn skande en ʼn klap in die gesig van eerbare, toegewyde polisielede. Sy het by verskeie geleenthede getoon dat sy oor geen leierskapeienskappe vir haar pos beskik nie,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.

AfriForum het gesê hy betreur die feit dat Phiyega met volle salaris geskors is hangende die ondersoek teen haar. “Die polisie het iemand met ʼn polisie-agtergrond nodig om die leiding te neem. Dit is al wat ʼn einde sal bring aan die onderlinge wantroue en struwelinge in die SAPD,” meen Cameron.

Volgens die Vryheidsfront Plus het pres. Jacob Zuma het ten einde laaste die korrekte besluit geneem om Phiyega te skors. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie, het gesê Zuma is egter ook aandadig aan die fiasko rondom Phiyega aangesien hy haar om politieke redes aangestel het, eerder as om ʼn bevoegde kommissaris van polisie op meriete aan te stel.

“In afwagting van die bevinding van die kommissie van ondersoek wat die VF Plus dink haar as onbevoeg gaan verklaar om as kommissaris aan te bly, dring die VF Plus daarop aan dat pres. Zuma nou ʼn bevoegde en ervare persoon aanstel wat uit die geledere van die polisiediens self kom,” het Groenewald gesê.

Klik hier vir alle vorige berigte oor Riah Phiyega op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Francois ·

Wat het SY gedink gaan gebeur omdat sy nie haar verpligtinge nakom nie…Die soustrein ry net so ver…dan nog so bietjie verder vir die “golden handshake”, dan’s dit K L A A R!

Hendrik Nel ·

Die einde van ‘n arrogante soustrein operateur! Die geld wat jy “verdien” het gaan nou omswaai en jou aan die agterstewe byt!

Johann Marx ·

WIE het haar aangestel? Hoekom? Hoe kan jy iemand aanstel, en dan skors terwyl jy ‘n ondersoek doen oor so ‘n persoon se bevoegdheid? Moes dit nie tydens die keuringsproses na vore gekom het nie? Ek wil ook aangestel word in ‘n pos ver bo my vuurmaakplek, met ‘n multi-miljoen Rand salaris en byvoordele, PLUS nog ‘n paar miljoen om my te laat loop as dit duidelik word dat ek nie die mas opkom nie!!

Ketje ·

Sy het dit verdien en dus het die “bly” oorgeswaai na “gly”. n Goeie ene, die!!!!
Nou het haar “soustrein” se dae gestop MAAR gaan sy can “cope” sonder die miljoene en talle voordele. Nou haar probleem en bakhand-staan moet fyn dopgehou word. n Mens moet werk vir sy geld. Niks in die wêreld is verniet nie!!

Belinda ·

Dis darem maar baie lekker as mens geskors word teen volle betaling

Gravy Train ·

Lekker tye, die ondersoek sal seker so 1 – 2 jaar aanhou.! Teen volle vergoeding as SAPD hoof sal ek ook nie omgee om geskors te word en waarskynlik n goue handdruk te kry nie. By my werk is dit n kwessie van doen jou werk, doen dit reg of pak jou lappies!

Blondie ·

Nou gaan sy n goue handdruk kry. ……en weer in n ander pos aangestel word. …wat se ons nou.

Riaan ·

DIE SAUK SOEK N OPVOLGER VIR HULLE BEDRYFSHOOF WAT OOK GESKORS GAAN WORD!!!! SY IS DIE REGTE EEN VIE DAAI POS OF HOE?

Cheryl Mostert ·

Des moontlik is dit nie die regte rubriek om my misnoeë uit te spreek nie, maar dalk tog…. rakende ons Polisie wat JMPD insluit. ‘n Veldtog is 2dae gelede geloods en op TV was n onderhoud gevoer met die Adjunkhoof van JMPD. Haar uitspraak was ferm en beslis! Hoe regverdig is dit dat ons ter alle tye wetsgehoorsame burgers moet wees, padreëls moet gehoorsaam en eerbiedig, maar sommige lede van die Polisie maak soos hul smaak. Weereens eergister namiddag op pad huistoe na werk, mag ‘n polisiemotor sonder flikkerlig, in reguit linkerbaan, regs draai in draaibaan, voor my in? Baie ander motorryers doen op daaglikse basis presies dieselfde by presies dieselfde robot, polisie ook in die verkeer wat dit waarneem, maar niks doen nie. Watter voorbeeld is dit….?

Pieter dp ·

Dis goed en wel dat sy geskors is maar wie het haar aangestel. Ek dink daai persoon moet ook maar pak kry.

Rynhardt ·

Al waarvoor Phiyega goed was,was om haar maag vol kos te stop en te sorg dat haar bankrekening uit sy nate bars!Al die partye steun nou haar skorsing,maar hullehet transfornasie van pilisiemag geondersteun.Wat het hul verwag,bekwames gaan in rye staan?

REGINA ·

Nou wag daar eers n lekker hoogs betaalde “joppie” op Riah! Dis mos nou n baie “gelukkige toeval” dat die SAUK se Bedryfshoof ook sy “ou werkie” kwyt is? En Riah is nou dalk net die “bevoegde” een as sy “volwaardige, gekwalifiseerde” opvolger, of hoe? Ek stel myself ook “beskikbaar”, ten minste is ek verseker van n stewige salaris en n groot moontlikheid van n verdere verhoginkie van n miljoen of twee, en as hul reken ek kan nie die werk “reg” doen nie, dan is n goue handdruk ook nie te versmaaie nie, dan nie? Dis die trant waarop mense deesdae aangestel word in hoe posisies, en die publiek word vir die gek gehou! Hoevele SAUK-, SAL- en Polisie hoofde gaan daar nog aangestel word, dis al n groot grap, nie een van hul kon “die pyp rook” nie, maar kos ons belastingbetalers miljoene, terwyl dienslewering erg verval! Solank jy n “lojale ANC-lid is aan Zuma, word jy aangestel, kwalifikasies is “onbelangrik”. Kyk die voorbeeld van Joemat-Petterson, sy is nie bevoegd nie, maar haar oorlede man was n “lojale” vertroueling van die ANC en het na bewering R52 m nagelaat aan die ANC, nou KAN hul haar mos nie uitskop nie! Sy is net “herontplooi”! Daar is n bitter groot skroef los in hoe die “aanstellers” se koppe werk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.