Roemeense leeus kry nuwe tuiste in SA

Roman, Vincent, Dolf, Ellie en Geena in Nederland. (Foto: Four Paws/Facebook)

Vyf leeus wat van ʼn droewige lewe in Roemenië gered is, het Woensdagmiddag op die OR Tambo Internasionale Lughawe geland in afwagting van ʼn nuwe lewe op die Vrystaatse vlaktes.

Die sibbe is verlede jaar na ʼn toevlugsoord in Nederland geneem nadat die internasionale dierewelsynsorganisasie Four Paws hulle van ʼn Roemeense leeuteler gered het.

Roman, Vincent, Dolf, Ellie en Geena het Donderdag vir die eerste keer kennis gemaak met hul nuwe tuiste by die Lionsrock Big Cat Sanctuary buite Bethlehem.

Elize Parker, woordvoerder van Four Paws, het aan Maroela Media gesê die twee wyfies is eerste vrygelaat en dat alles goed verloop het.

“Hulle is kalm en gelukkig,” sê sy.

“Ellie was eerste uit en so eie aan ʼn kat het sy vir ʼn oomblik op die drumpel getwyfel, heen en weer gekyk en versigtig uit haar krat gekom om die kamp te verken. Geena het volgende uitgekom en hulle het mekaar gegroet. Hulle het op die platforms in die kamp gespring en vir die eerste keer die Vrystaatse vlaktes bekyk.”

Dié twee se broers het ook Donderdagoggend die reusagtige kamp, wat so groot soos twee rugbyvelde is, betree.

Lang reis na die Vrystaat

Die sibbe het Woensdag in Suid-Afrika geland. (Foto: Four Paws/Facebook)

Four Paws het verlede jaar van die driejarige leeus te hore gekom nadat owerhede in Roemenië die organisasie meegedeel het dat ʼn leeuteler ʼn klomp Afrika-leeus in ʼn klein fasiliteit aanhou. Four Paws is na die fasiliteit om die saak te ondersoek.

Die organisasie het die private eienaar genader, maar hy was aanvanklik nie bereid om van hulle te skei nie. Onderhandelinge het egter begin en ʼn ooreenkoms is bereik om sewe leeus aan Four Paws te oorhandig.

Roemenië is een van die min lande wat inwoners toelaat om groot katte soos leeus in private besit aan te hou, mits die betrokke persone ʼn spesiale permit het. Die land het egter reeds in 2017 die aanhou van groot katte en ander wilde dierespesies in sirkusse verbied.

Die geredde leeus is kort daarna na die Felida Big Cat Sanctuary in Amsterdam geneem, wat dien as ʼn tussensentrum vir beseerde leeus voordat hulle na Suid-Afrika gebring is. Die leeus wat daar gehuisves word, benodig intensiewe sorg omdat hulle dikwels uit haglike omstandighede kom en ʼn tragiese verlede het.

Roman, Vincent, Dolf, Ellie en Geena is maande lank by die fasiliteit gerehabiliteer en versorg.

“Hulle het naderhand te lewendig en robuus geword. Die leeus het van die bome begin breek, so dit was tyd om hulle Suid-Afrika toe te bring,” sê Parker.

Die ander twee leeus wat ook van die fasiliteit in Roemenië gered is, kon egter nie na Suid-Afrika toe reis nie omdat hulle verdere sorg nodig het voordat hulle sterk genoeg is om die reis te onderneem.

Lank voordat reëlings getref is om die vyf sibbe na Suid-Afrika te bring, is hulle geleer hoe om self by ʼn krat in te stap.

“Die span by Felida het onverpoos gewerk om die leeus op te lei en Dinsdag het hulle die toets volkome geslaag. Hulle het die kratte betree en is op ʼn groot vragmotor gelaai op pad na een van die besigste lughawens in Nederland.”

Die leeus het om 18:00 van Schipol-lughawe in Amsterdam vertrek en die volgende dag, kort voor 13:00, in Suid-Afrika geland.

Ná deeglike mediese ondersoeke deur plaaslike veeartse is die leeus weer op ʼn vragmotor gelaai op pad Vrystaat toe.

“Hulle het die N3 baie dapper aangedurf en hulle toestand is deurlopend gemonitor. Die leeus het gisteraand kort voor 20:00 gesond, tog uitgeput, by Lionsrock aangekom,” sê Parker.

Lionsrock huisves meer as 80 leeus, 23 tiere en drie luiperds en beskik oor ʼn kliniek wat dié diere, wat dikwels ʼn onbekende mediese geskiedenis het, gesond kan hou.

Volgens Parker is die sibbe uiters opgewonde oor hul nuwe tuiste saam met ander leeus.

“Lionsrock is die perfekte plek vir besige katte, so ons is vol vertroue dat hulle goed gaan aanpas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Bjorn ·

Moet asb tog net nie laat die leeus in die pretoria dieretuin op eindig nie. Die diere daar word nie na gekyk nie en mens mag niks se nie want dan is dit blykbaar rasse diskriminasie. So die diere gaan maar daar dood want mense se gevoelens is belangriker

domheks ·

As jy te sleg is om na diere om te sien, moet jy liewer ver weg bly maar in SA is die ‘pay’ tjek baie goed!

Sandra ·

Tog so bly hulle is gered en gaan nou in ‘n ordentlike plek bly.

Prikkie ·

Hulle het nou genoeg ruimte om die “Leeuloop” te kan doen!

Baie bly vir hierdie diere en skink vir elkeen wat gehelp het om hulle hier te kry ‘n dubbel Bells!

Danny ·

Ironies dat ons nuus kry van oorsese Leeus wat gered word via SA, maar ons lees amper nerens van die Leeus wat hier vrek weens wanvoeding/ verhongering nie. Dit omdat ingeperkte Leeueienaars nie meer kans sien, hetsy fiansiëel of nie, om na hulle om te sien nie.

Jasmyn ·

Sjoe, maar hulle is van die mooiste wat ek nog gesien het. Hoop hulle is nou in goeie hande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.