Roux doen ná 12 jaar afstand van toprugbypos

Jurie Roux. Foto: AFP.

Jurie Roux het ná 12 jaar sy kantoor as SA Rugby (Saru) se uitvoerende hoof ontruim. Die nasionale rugbybeheerliggaam het vandag die nuus amptelik bevestig.

Volgens Mark Alexander is daar reeds verlede jaar onderling oor die besluit ooreengekom nadat daar al vir ʼn ruk oor Roux se toekoms in die media bespiegel is.

“Jurie Roux wil in die beste belang van Saru optree, terwyl hy ook deurgaans sy lojaliteit jeens die organisasie beklemtoon het,” het SA Rugby se president gesê.

“Ek het nog nooit oor sy toewyding getwyfel nie. Hierdie besluit was hoegenaamd nie ʼn maklike een vir enigiemand wat al langer as ʼn dekade saam met hom gewerk het nie – plaaslik óf oorsee.”

Roux het gereeld die koerantopskrifte gehaal nadat hy in 2021 aangesê is om meer as R37 miljoen aan die Universiteit Stellenbosch (US) te betaal ná sy mislukte appèl teen ʼn arbitrasietoekenning wat vroeër gemaak is.

Luidens ʼn 2016-verslag deur KPMG het die rugbyadministrateur ongemagtigde oorplasings van die US se reserwefonds aan Maties Rugby gedoen terwyl hy in diens van die universiteit was.

Hy was vóór sy Saru-aanstelling die US se senior direkteur van finansies en batebestuur.

Alexander meen dat Roux homself uitstekend in sy pos as uitvoerende hoof bekwaam het en dat hy, in samewerking met Saru se uitvoerende raad, aansienlike waarde tot die organisasie toegevoeg het.

Die Springbokke het onder meer in 2019 die Webb Ellis-trofee omhoog gehou.  Foto: Eugene Hoshiko/AP.

Die rugbyadministrateur het onder meer die rugbyleisels tydens die moeilike Covid-19-tydperk vasgehou, terwyl hy ook in 2016 staande gebly het te midde van die sportministerie se vrae oor die pas van transformasie in Suid-Afrikaanse rugby.

“Ondanks die onlangse druk van buite het Jurie steeds met topdiens vorendag gekom. Dit verg spesiale vaardighede om aan die stuur van ʼn organisasie soos dié te wees en dit sal moeilik wees om hom te vervang. Dit is vir my uiters moeilik om hierdie aankondiging te maak,” het Alexander gesê.

Volgens Roux was dit ʼn voorreg om deel van SA Rugby te wees.

“Die spelers sê gereeld dat hulle die trui in ʼn beter toestand wil agterlaat as toe hulle dit vir die eerste keer ontvang het en ek hoop dat mense dieselfde oor my bydrae sal sê. Dit was ʼn tydperk van groot uitdagings en ʼn paar geskiedkundige oomblikke en ek wil graag my plaaslike en internasionale kollegas vir hul ondersteuning bedank.

“Ek het op ʼn daaglikse grondslag saam met ʼn fantastiese groep mense gewerk en saam het ons iets ongeloofliks gebou wat nie net ons land verenig nie, maar hopelik ook inspireer,” het Roux afgesluit.

Die proses om ʼn geskikte plaasvervanger aan te stel is van stapel gestuur en ʼn tydelike uitvoerende hoof behoort teen die einde van die maand aangewys te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Volgens berigte het hy ongemagtigde sagteware op Stellenbosch se stelsel geplaas om die geld se ouditspoor uit te wis. Dit was verseker krimineel in die ou SA.

Milestone ·

Kan nie help om te vra wat nou nie? Kry die persoon uit die pos uit en nou moet iemand dit maak werk…….sukses en vooruitgang kom nie pasella nie. Ek neem aan tyd sal leer.

Conraad ·

Groot probleem. Hierdie man het baie bereik in 12 jaar (insluitend – maar definitief nie net – aanstelling van Rassie Erasmus).
Hier kom ‘n BBEE aanstelling… en binnekort lyk die Springbokke net so verwelk soos die Krieket Proteas en Bafana en al die ander sporte.

Delia ·

Kriminele aktiwiteite bly wat dit is…krimineel. maar ja hy moet gaan. Wat van al die kriminele in dir regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.