Rover ‘herstel fantasties’; tienerseun glo steeds soek

Rover op Kersvader se skoot. Foto: Verskaf

Die hondjie van Bloemfontein wat gered is nadat sy poot deur ʼn tienerseun gebreek is, herstel beter as verwag en kan dalk binnekort ʼn nuwe permanente tuiste in Pretoria kry.

“Hy herstel fantasties en hardloop al rond,” het Duan Matthee, ʼn inspekteur by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Bloemfontein, gesê.

Rover, ʼn terriërkruising, word nog op die DBV se perseel in Bloemfontein gehou nadat hy verlede Sondag gered is. “Hy is ook nie meer so bang en skaam nie.”

Volgens Matthee is daar intussen ʼn proses aan die gang om Rover te laat aanneem en ʼn vrou van Pretoria is die gunstelingkandidaat. “Die vrou het gesê sy sal hom Onderstepoort toe vat sodat hy ʼn kunsbeen kan kry.”

Rover het oor die naweek op Kersvader se skoot gesit tydens die liggiesfees by die DBV. “Ons probeer hom net gelukkig maak en hy het ook ʼn hele paar bederfhappies gekry.”

Die tienerseun wat Rover se agterpoot gebreek het, het intussen glo verdwyn.

Volgens Matthee was dit nuus vir hulle om te hoor dat die verdagte nie vir sy hofverskyning opgedaag het nie nadat die DBV aanklagte van dieremishandeling aanhangig gemaak het. Hulle wag op terugvoer van die polisie.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, het bevestig die 17-jarige seun is nog nie deur die polisie gevind nie. Daar is egter nog nie ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik nie.

Die DBV is verlede Sondag na ʼn huis in die stad ontbied waar ʼn hond onophoudelik getjank het. Daar het hulle die hond in ʼn plas bloed aangetref. Die dier kon glad nie beweeg nie.

Die hond se 17-jarige eienaar het inspekteurs van die DBV probeer weghou en die polisie is ontbied om in te gryp. Volgens die DBV het die seun gesê hy oefen graag in die gimnasium en gebruik aanvullings om sy spiere te bou.

Hy het glo op sosiale media gesien hoe mense swaar voorwerpe optel om hul krag te toets. Hy het dieselfde gedoen en selfs ʼn besemstok gebreek. Hy het daarna inligting op die internet opgesoek oor hoe sterk bene is en watter mate van krag dit verg om ʼn been te breek.

Hy het sy hond, Rover, nader geroep en op sy poot begin druk tot dit eindelik gebreek het. Dit het só sleg gebreek dat die been deur die vel gesteek het.

Rover het verlede Maandag reeds ʼn operasie ondergaan en weens die aard van die fraktuur moes sy linkeragterpoot noodgedwonge afgesit word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.