Rower klap glo baba wat tydens aanval huil

(Foto: Verskaf)

Vyf gewapende mans het Woensdag op ʼn huis in Parkgate in Verulam, KwaZulu-Natal, toegesak en ʼn tien maande oue baba glo geklap omdat die kind begin huil het terwyl hulle die huis geplunder het.

Luidens ʼn verklaring van Reaction Unit South Africa (Rusa) het ʼn polisieman wat nie aan diens was nie, Rusa omstreeks 12:00 ontbied nadat hy ʼn wit Suzuki-motor teen ʼn hoë spoed van ʼn nabygeleë eiendom sien wegjaag het.

Hy het ook gehoor hoe sy bure om hulp roep.

“Die polisiebeampte het na bewering daarna probeer om die verdagtes vas te trek, maar hulle het inhegtenisneming ontduik,” lui die verklaring.

Reaksiebeamptes is oomblikke later uitgestuur om te gaan help. ​​

Daar is by Rusa se aankoms op die toneel bevestig dat vyf gewapende mans die huis binnegegaan het. Vier volwassenes en ʼn tien maande oue baba is daar aangehou.

“Hulle het die baba geklap toe hy begin huil het,” lui die verklaring.

“Die rowers het huishoudelike items en juweliersware gesteel.” Rusa sê ʼn grootskerm-TV is ook langs die pad gelaat omdat die wegkommotor glo te vol was.

(Foto: Verskaf)

Volgens ʼn getuie het ʼn vrou dié voertuig bestuur, maar dit kon nog nie bevestig word nie.

Reaksiebeamptes het ʼn soektog na die aanvallers van stapel gestuur, maar geen inhegtenisnemings is nog gedoen nie.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Hulle doen wat die wetstoepassing hulle toelaat om te doen ,kry regte polisie en misdaad stop.

De Bok ·

Wat het met die baba gebeur? Was die klap hard genoeg vir ernstige skade?

Winnie ·

Hoe laag en gemeen is dit nie. Is die baba ok? Ek wil sommer huil as ek dit lees.

Tokkel ·

Hulle het nie respek vir hulself, hoekom sal hulle respek hê vir ander weerlose mense.

Nettie ·

Onmenslik. Dis monsters wat so iets doen. Sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.