Rowers jaag weg met polisievoertuig

Die polisievoertuig is later verlate in ‘n woud in die Oos-Kaap gevind. (Foto: Twitter)

’n Oos-Kaapse polisiebeampte is Saterdag in die vroeë oggendure deur gewapende verdagtes uit ’n polisievoertuig geboender voordat die verdagtes met die staatsvoertuig weggejaag het.

Die polisievoertuig is intussen verlate in ’n nabygeleë beboste gebied gevind.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê ’n polisiebeampte aan diens het op ’n klag van verkragting gereageer. Op pad terug van die hospitaal waar hy die verkragtingslagoffer gaan aflaai het, het twee verdagtes hom omstreeks 01:00 in die omgewing van Engcobo voorgekeer.

Die verdagtes het vuurwapens op die polisiebeampte gerig en hom uit die polisievoertuig getrek voordat hulle in die voertuig op die vlug geslaan het.

Die polisiebeampte is nie tydens die voorval beseer nie en het hulp van sy polisiestasie ontbied.

Die polisievoertuig is sedertdien verlate in die nabygeleë beboste gebied bekend as Sigidi gevind en ’n saak van gewapende roof is aanhangig gemaak.

Kinana sê polisiebeamptes soek tans in en om plaaslike nedersettings na die verdagtes. Geen inhegtenisnemings is tot dusver gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.