Rykmansbuurte skuld Tshwane miljoene

Die Tshwane-metro het Donderdag onthul dat van die duurste woonbuurte in Pretoria miljoene se agterstallige elektrisiteitskuld het (Foto: @Cilliers Brink/x/Twitter)

Die Tshwane-metro het Donderdag onthul dat van die duurste woonbuurte in Pretoria miljoene se agterstallige elektrisiteitskuld het.

Dit sluit Waterkloof en Monumentpark in, waar net sowat die helfte (53%) van inwoners hul rekeninge betaal, en Silver Lakes en Boschkop, waar 60% van inwoners agterstallige munisipale skuld het. Dié woonbuurte skuld onderskeidelik R756 miljoen en R726 miljoen aan die Tshwane-metro.

Ander woonbuurte waar Tshwane sukkel om skuld in te vorder is Queenswood, Kilnerpark en Mamelodi-Wes, waar minder as ʼn derde van inwoners (29%) hul rekeninge betaal. Dié woonbuurte skuld saam meer as R1 miljard aan die stadsraad.

Hierteenoor het wyk 69, wat Centurion insluit, die hoogste betalingskoers, met amper 70% van inwoners wat getrou hul munisipale rekening betaal.

Tshwane Ya Tima implementeer elektrisiteitsontkoppelings en waterverminderings ten bedrae van sowat R66 miljoen op een dag (Foto: @Cilliers Brink/x/Twitter)

Die metro het ook Dinsdag opnuut ʼn waarskuwing aan wanbetalende kliënte gestuur, deur elektrisiteitsontkoppelings ten bedrae van R53,1 miljoen en waterverminderings van R13,2 miljoen in verskeie gebiede in die metro te implementeer.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, sê in baie gevalle peuter inwoners met elektrisiteitsmeters of koppel krag onwettig in ʼn poging om betaling te ontduik.

Twee ondernemings in Pretoria-Wes wat met hul meters gepeuter het en die stad saam R6,3 miljoen skuld, se krag is ook ontkoppel.

Brink sê die stadsraad sal aanhou om hierdie gebiede te monitor om te verseker krag word nie weer onwettig gekoppel nie. Hy het oortreders gewaarsku dat die onwettige koppeling van krag ʼn kriminele oortreding is en dat diegene wat hulle hieraan skuldig maak, vervolg sal word.

“Dis nodig dat ons die kultuur van wanbetaling stopsit. Die metro het die geld nodig om dienste te lewer en sy verpligtinge aan diensverskaffers soos Eskom en Rand Water na te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Anel ·

Nou hoekom is die krag nie al na die eerste maand afgesny nie? As ek R100.00 te min betaal word ek ‘n aanmaning gestuur en binne eeek as ek nie betaal het nie, word my krag gesny! So hoe is dit dat daar miljoene geskuld kan word?

madels ·

Ja die regering sal nou sien dat sekere mense nie gewoond daaraan is om enige elektrisiteit te betaal nie. Alles moet mos verniet wees, al kry jy miljoene rande in salarisse

Aai ·

Maak hulle betaal van die rykes teer op die aremes en die wat betaal.

Luckykat ·

Gaan die buurte agterkom hul krag word afgesny en water verminder? Dit gebeur elk dag!

Papsak ·

Ja nee kyk maar wie bly in die rykmans gebiede dan kan jy verstaan baie geld maar wil niks betaal nie wil verniet gebruik sny af asb wys hulle !!!!!

George ·

nogsteeds minder as Soweto en die gebiede. Of moet die buurte hulle nogsteeds dra?

Fran ·

ANC kaders en tenderpreneurs wat deesdae in hierdie buurtes bly. Hulle ry ook met Mazeratis en Porches rond. Ryk menere.

Dieter ·

Dit sal interessant wees as ons kan sien watter kultuurgroepe onder nie nie betalers sit.
Daa sit heelwat Diplomate in van hierdie gebiede.
Tshwane moet duidelik maak hoeveel huishoudings, Kultuurgroepe en tipe huise dit is:
Besighede, Diplomatiese wonings, Amps Wonings, Privaat wonings.
Dan Praat ons weer!!!

Zandra ·

ag dan hoekom word ander se krag en water toevoer gestop?
maar die rykes kry mos lekker
sit vir almal pre-paid meters in
dan as jy nie betaal of dit water of krag is dan het jy niks
vir wat word hulle voorgetrek
sny asb dit af

Pim ·

Ons bly in daai ‘ryk’ woonbuurt. Ons het prepaid meters en as ons erfbelasting en water nie betaal is nie dan word dit afgesny. In hierdie selfde woonbuurte is daar baie ambassades en ministers, betaal hulle hul rekeninge? Daar is ook heelwat kantoorgeboue wat in die ‘ward’ val. Hoe op datum is hulle? Dan praat ek nie eers van die huise wat ge’hijack’ is nie waar die water en elektrisiteit nie veronderstel is om meer aan te wees nie, maar dit is. So ek dink voor die Metro so vinnig vinger wys moet hulle dalk hulle eie huis in orde kry. Die gewone mense wat hier bly betaal hulle rekeninge. Ek sal ook graag wil weet wat skuld Militere Intelligensie wat op Klapperkop sit. Hulle kan nie eers hulle sypaadjie skoonmaak nadat hulle ‘n muur gebou het nie.

Di ·

Wat van die miljoene in nedersettings wat NIKS betaal en duisende onwettige verbindings het wat die grootste oorsaak is van krag onderbekings???

Thelsa ·

Hierdie gepratery deur die Burgemeester en die LUK Finansies is hol en leë woorde. Talle gevalle met fotobewyse is al aan Tshwane, Eskom en die DA gegee van sulke voorvalle. Niks gebeur nie. Verkiesingsfoefies

Gert ·

Inwoners gaan nie omgee as Eishkom afgesny word nie…rykes het byna almal sonpanele!
Die wat sal sukkel is plakkers in “plastic valley” wat onwettig krag van pale en bokse aansluit. Ontkoppel hulle sommer eerste!

Martie ·

Ja daar word gou vinger gewys na gegoede gebiede as daar wanbetaler is maar wat van al die plakkerskampe wat nooit ‘n sent betaal nie. En glo my daar woon ook rykes.

Ore ·

Ek is een van die wat “skuld” Vir meer as 10 maande probeer ek my rekening uitgesorteer kry sonder enige sukses. Al wat mens kry is ‘n verwysingsnommer. Die betalings wat ek maak word op my vorige adres gekrediteer en verstaan geen amptenaar wat die oorsaak is en hoe dit reggestel kan word nie. Het al die bewys van betalings verskaf sonder sukses. Die aangeleentheid is na ‘n DA raadslid verwys en ook hy skitter in sy afwesigheid en stilswye. So, versigtig voor vinger gewys word. Dalk moet Carte Blance ‘n draai kom maak

Mike Pretoria ·

Groot bydrae is die Tshwane Munic wie se diens pateties is & hulle elektroniese stelsels of te moeilik is om in te kom of “out dated” is. Probeer nou al maande om ‘n rekening vir my erfbelasting oop te maak & selfs na ‘n brief aan die DA raadslid, word daar niks aan gedoen nie. DA is net so pateties !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.