SA aan VN: ‘Apartheid-ongelykheid noodsaak raswette’ 

(Argieffoto)

Die afbreek van apartheid behels veel meer as die herroeping van apartheidswetgewing en die vervang daarvan met wetgewing gegrond op gelykheid en die oppergesag van die reg. Daarom benodig Suid-Afrika steeds rasgebaseerde beleid om die voortslepende ongelykhede en onregte van die verlede reg te stel.

Dít was die strekking van die Suid-Afrikaanse regering se aanbieding en verslag voor die Verenigde Nasies (VN) se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) se 111de sitting. Dié sitting vind vanaf 20 November tot 8 Desember in Genève, Switserland, plaas.

Die regering het Maandag by monde van Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, verslag gedoen oor ʼn verskeidenheid kwessies, waaronder die stand van rassediskriminasie in die land.

Plaasmoorde

In die vraag-en-antwoordsessie is Lamola uitgevra oor plaasmoorde in Suid-Afrika. In reaksie hierop het Lamola opgemerk dat Suid-Afrika ʼn geweldsmisdaadprobleem het wat alle burgers teiken en benadeel.

“Daar is geen spesifieke groep in Suid-Afrika wat op grond van hul ras of etnisiteit geteiken word nie, […] almal word deur geweldsmisdaad geteiken.”

Apartheidsongelykheid duur voort

As onderstekenaars van die VN se konvensie oor die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (ICERD) moet die Suid-Afrikaanse regering periodiek verslag doen oor die stand van rassediskriminasie in Suid-Afrika asook die stappe wat die regering doen om dié diskriminasie te verminder.

Solidariteit het reeds in 2016 voor CERD aangevoer die Suid-Afrikaanse regering oortree ICERD met sy “drakoniese en oneindige rasgebaseerde beleid”. Solidariteit het Maandag sy eie skaduverslag aan die komitee voorgelê waarin hulle pleit dat rasgebaseerde beleid óf oombliklik moet eindig óf ʼn einddatum kry.

In sy aanbieding het Lamola daarop gewys dat swart mense in sosio-ekonomiese welstandsmaatstawwe soos armoede, werkloosheid en ongelykheid disproporsioneel agtergeblewe bly.

Daarom moet sogenaamde spesiale maatreëls soos rasgebaseerde beleid wat agtergeblewenes bevoordeel steeds toegepas word, lui die regering se verslag.

Volgens die verslag is hierdie maatreëls nié strydig met die grondwetlike beginsel van niediskriminasie nie, maar eerder ʼn voorwaarde vir die ware verwesenliking daarvan. Totdat gelykheid nié bereik is nie, moet hierdie spesiale maatreëls dus toegepas word.

“Daar is geen uitdruklike ‘sonsondergangklousule’ in enige van die wetgewende bepalings nie, en dit sal dus van krag bly tot tyd en wyl die regering se beleid bepaal hierdie maatreëls is nie meer nodig nie.”

Rassewetgewing ‘nog noodsaaklik’

In sy aanbieding en verslag voer die Suid-Afrikaanse regering aan dat breëbasis‑ swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en ander rasgebaseerde beleid in ooreenstemming met die Grondwet en steeds noodsaaklik is.

“Die toepassing van diensbillikheid en verwante praktyke is daarop gemik om die strukturele ongelykhede wat uit apartheid geërf is, reg te stel,” lui die verslag.

Hierdie praktyke is vandag steeds regverdigbaar omdat “transformasie ʼn deurlopende proses is” wat gegewe voortslepende ongelykheid steeds noodsaaklik is.

Omdat hierdie “spesiale [rasgebaseerde] maatreëls” se onderskeid tussen verskillende rassegroepe ten doel het om die “gelyke geniet van fundamentele menseregte” te verseker, kom dit nie neer op diskriminasie nie. Dus is hierdie rasgebaseerde beleid nié strydig met ICERD nie.

Ekonomiese ongelykheid

Volgens die verslag het werkloosheid hoofsaaklik nog ʼn swart gesig. Verder vind werkplektransformasie net so stadig plaas, met veral die boonste vier posvlakke wat deur wit werknemers oorheers word.

So ook is armoede en ongelykheid nog rasgebaseerd en regstellende maatreëls dus nodig, lui die verslag.

“Die jaarlikse mediaanuitgawes vir wit mense was [tussen 2006 en 2015] meer as tien keer hoër as dié van swart mense. Die wit bevolkingsgroep het meer as nege keer die jaarlikse gemiddelde besteding van swart mense gehad in 2006; hoewel hierdie verhouding in 2015 tot meer as sewe keer gedaal het.”

Teendiskriminasiebeleid

In die verslag beklemtoon die regering sy toegewydheid tot die uitskakeling van rassediskriminasie, xenofobie en onverdraagsaamheid op ʼn beleidsvlak.

In 2019 het die parlement die nasionale aksieplan om rassisme, rassediskriminasie, xenofobie en verwante onverdraagsaamhede te bekamp (NAP) goedgekeur. Hierdie omvattende aksieplan stel die nodige raamwerk daar waardeur en waarlangs diskriminasie, hoofsaaklik rassisme, in die land bekamp, beveg en opgeteken word.

Volgens Lamola het die regering met hulp van die NAP reeds groot vordering gemaak in die uitwissing van rassisme en xenofobie.

Die verslag lig ook uit hoedat die regering groot moeite doen om met die burgerlike samelewing en internasionale liggame saam te werk in die uitwissing van rassesegregasie en apartheidspraktyke.

Ander kwessies

Buiten die kwessies van rassediskriminasie en gelykheid, het die regering in sy verslag ook ander menseregtekwessies hanteer.

Die verslag dui daarop dat toegang tot onderwys en opleiding sedert 1994 saam met geletterdheidsvlakke goed gestyg het. So ook het die regering tot en met 2020 meer as vyf miljoen formele behuisingseenhede aan voorheen benadeeldes verskaf. Waar mense nog in informele behuising woon, poog die regering voorts om dienslewering in daardie gebiede te verbeter.

Volgens die regering het vroueregte ook sedert 1994 groot vooruitgang geniet met vroue wat nou meer verteenwoordiging in verskeie samelewingsektore geniet.

Ander kwessies soos haatspraakwetgewing, toegang tot geregtigheid, LGBTQ-regte, albinisme, die regte van buitelanders en die definiëring van inheemse groepe het ook aandag in die verslag gekry.

Verrigtinge voor die komitee duur Dinsdag voort. Lees die regering se volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Dup ·

Die wette sal op die wetboek bly totdat alle vlakke van die samelewing die meerderheid bevolking weerspieël.Daarna sal alle vlakke van SA se infrastruktuur reeds vernietig wees.

Hans ·

Appels by Appels.
Wat het al die res van die regte met rassediskriminerende wetgewing uit te waai?

George ·

Regtig? Intelligente mense weet dit het meer met weerwraak en onregverdige bevoordeling en blatante rassisme te doen as enige iets anders. Hulle dink seker daai mense is so onnosel soos hulle kiesers wat al hulle snert soos soetkoek opeet?

John ·

Werkloosheid gaan altyd ‘n swart gesig hê in Suid Afrika. Hulle is 80% van die bevolking.

Met ons huidige werkloosheid syfers beteken dit selfs al het nie een van die ander groepe’ n werk in die land nie, sal daar steeds meer swart werkloses wees as al die ander groepe saam.

Of is ek optimisties as ek hoop iemand by die VN gaan die sommetjie doen?

Schalk ·

Ek wil net weet as jy nie kan presteer nie en nie wil presteer nie hoekom deur ‘n wet moet jy bevoordeel word?

Johann ·

Kan net hoop en glo dat díe blatante LEUNS feitelik weerlê word en dat die ANC vir eens in die bek geruk word. Soveel van banale onwaarheid en self waan verheerliking is sprekend van aan die ANC se weergawe van wat WERKLIK in SA elke dag gebeur.

Eclectus ·

Daar is baie lande wat regstellende aksie op die wetboeke het, maar die verskil is dat SA die enigste land is wat regstellende aksie het vir die MEERDERHEID, elders is dit vir minderhede. ‘n Jong swart vrou word bo my, ‘n ou wit man, verkies omdat sy die “regte” kwalifikasies het. Verlede week vra sy my hoeveel persent is een derde. Toe ek haar daarop wys dat sy ‘n diploma in meganiese ingenieurswese het, sê sy sy het vergeet hoeveel dit is. Einstein het gesê onderwys is om die verstand te leer dink, nie die aanleer van feite nie. Duidelik is net die nodigste feite geleer om ‘n eksamen te slaag. En dit, liewe broers en sisters, is wat in ons kabinet, parlement en staatsdiens werksaam is. O ja, ek het geweier om haar te antwoord.

Althes ·

Die deuntjie wat die regering sing is vals. Almal weet dat niks onder hul werk nie. Die gewone burger in SA kom sleg 2de.

Frank ·

Selfs na duisende jare het hulle nog steeds nie eens die basiese wiel ontdek nie so na nog 1000 jaar sal hulle nog steeds nie gelyk kan wees nie bloot omdat die regering hulle met lepel wil voer en blykbaar opsetlik ongeletterd wil hou

Bolandse Nooi ·

Wat soek nat-agter-die-ore Ronald (Donald Duck) Lamola daar – hy is Minister van Justisie en het sweet buggerall te doen met arbeidsake – hoekom is Thulas Nxesi, as Minister van Arbeidsake nie daar om die “Suid-Afrikaanse Regering” se saak te stel nie?

Man, kom ek vertel julle … hierdie mense sal nooit oor Apartheid kom nie, OMDAT HULLE NIE WIL NIE. Ons sal almal al lankal-al wit bene lê, dan karring hulle nog oor Dawid Stuurman die dag, doer in die 1800’s op sy dinges gekry het toe hy Grahamstad aangeval het en die Britte van hom en sy maters kanonvoer gemaak het.

Andre ·

…vergeet maar om die A en C te probeer verkla!
Of jy stig die Wes-Kaap af, of jy soek jou paspoort!

Tubac ·

Arrogansie het nie brieke nie. Blatant dat hulle nie gaan doen nie. Kom ons kyk of die VN tande het.

Hendrik ·

Hul het net nagelaat om te stel dat in hd sg gelykmakingsproses strek dit vir hul veel verder as maar net diskriminasie. Dit gee hul die reg tot kaderontplooiing sonder kennis en kundigheid. Ook sluit dit in hul reg om die belastingbetaler te verarm tot gelykheid deur hom op alle rerreine denkbaar met miljarde te beroof en te bestel. n korrupte regstelse is dus in hd proses ook noodsaaklik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.