Stop skadelike en obsessiewe rassewette nóú, hoor VN

Anton van der Bijl (links) en Dirk Hermann by die Verenigde Nasies (Foto: Solidariteit/Twitter)

Solidariteit het vandag in ʼn voorlegging aan die Verenigde Nasies (VN) gevra dat rassewette in Suid-Afrika tot ʼn einde moet kom.

Volgens Solidariteit het rassewette genoeg skade in Suid-Afrika aangerig en het die land nie meer die luukse om poste op grond van ras te vul nie.

Die voorlegging is aan die VN se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) gedoen. Die Suid-Afrikaanse regering gaan Dinsdag voor dieselfde komitee verskyn.

Volgens Solidariteit bepaal die VN se konvensie wat oor die uitskakeling van alle vorme van rassediskriminasie (ICERD) handel, en die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) dat rasseprogramme tydelik van aard moet wees. Die onlangse skikking tussen Solidariteit en die regering het dit bevestig.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die regering se obsessie met rasseverteenwoordiging veroorsaak dat Suid-Afrika se rasprogram permanent is. In ʼn bevolking wat demografies vinnig verander, sal die najaag van rasseverteenwoordiging permanent wees.

Die tyd van wette wat die rassesamestelling van maatskappye wil manipuleer, is verby.

“Eskom is ʼn uitstekende voorbeeld van wat gebeur weens rassewetgewing: ʼn obsessie met ras oor ʼn lang tyd het daartoe gelei dat vaardighede en institusionele kennis verlore gegaan het. Dit het letterlik ons ligte afgesit. Die staat plof op verskeie plekke in en groot krake is in die privaat sektor te bespeur,” sê Hermann.

Die fokus moet verskuif van uitsetprogramme (rassekwotas) na insetprogramme (opleiding en ontwikkeling). Opleiding en ontwikkeling mag permanent wees.

Die stryd tussen Solidariteit en die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies duur al sedert 2016. Solidariteit het toe reeds aangevoer dat die regering dié VN-konvensie oortree. Ná ʼn petisie van Solidariteit het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in ʼn verslag bevind Suid-Afrika oortree die betrokke konvensie. Die Suid-Afrikaanse regering moet Dinsdag aantoon waarom hy nie die konvensie oortree nie.

Sien Solidariteit se verslag aan CERD hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Rocco ·

Mooi so. Hoop dis ‘n suksesvolle sending met voordele vir alle Suid Afrikaners.

Althes ·

Jul is in ons gebede Solidariteit. Dankie dat jul nooit opgee teenoor die mense van Suid-Afrika nie.

annie ·

Presies die teenoorgestelde gaan gebeur. Daar gaan meer druk op Afrikaners en wittes geplaas word vir meer veranderinge en nog vergrype. Ons weet dit tog. Rassisme word deesdae aan die groot klok gehang ook in Israel. Maar as die ooms negstiewe shine wou vang. Het hulle.

hpven ·

Annie, die druk wat ons tans ondervind is deur die NP, wat destyds die meerderheid verteenwoordig het, veroorsaak toe hulle swak onderhandelaars die land sonder enige waarborge letterlik weggegee het.
Solidariteit doen darem iets en ons dank hulle daarvoor. Wat stel jy voor?

Republikein in die Wes Kaap ·

Geen probleem met die besoeke aan die VN nie. Maar werk ook altyd aan alternatiewe planne. Hou die opsies oop. Flip se ankerdorp planne het potensiaal gehad, maar misluk nou as gevolg van dorpe en stede wat verval. Selfregering werk dalk in stede en dorpe waar die DA in beheer is. Maar Afrikaners se tradisionele vestings word nou oorgeneem deur nie-Afrikaners. Dis wel ook middelklas mense, maar hulle deel nou nie juis Afrikaners se probleme en ideale nie.

JohanR ·

Dink net wat se lekker tyd die ANC kon gehad het oor 30 jaar, as daar nie ‘n Solidaritet of AfriForum was nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.