SA banke ál meer mededingend, deursigtig – verslag

Argieffoto bloot ter illustrasie (Foto: Eduardo Soares/Unsplash)

Suid-Afrikaanse banke raak ál meer mededingend en deursigtig, aldus die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se jongste bankkosteverslag.

Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die SNI, sê vanjaar se verslag – wat suiwer op bankkoste ingestel is – toon ʼn aansienlike toename in deursigtigheid rakende bankkoste onder die groot banke in Suid-Afrika.

Die banke waarop daar in die verslag gefokus word, sluit in Absa, FNB, Standard Bank, Nedbank en Capitec, TymeBank en Bank Zero word ook in die aanlyn kategorie ingesluit.

Die belangrikheid van ʼn goeie, gebruikersvriendelike tariefblad word in vanjaar se verslag vlugtig bespreek.

“Nedbank het hul tariefstruktuur baie vereenvoudig en die uitleg van hul blad is ook nou maklik verstaanbaar. Dit is vanjaar moeiliker as in die verlede om FNB en Absa se tariefblaaie uit te pluis vanweë ʼn uitleg wat ʼn mens dwing om rond te blaai tussen spesifieke tariewe en ingeslote tariewe, veral in hul bondelrekeninge,” sê Du Buisson.

Nog ʼn bevinding van die verslag is dat kliënte wat geen behoefte aan takke en uitgebreide bankdienste het nie, verreweg die beste waarde by die aanlyn banke soos TymeBank en Bank Zero kry.

“Om die 14 transaksies in ons mandjie by hierdie banke te doen, kos onderskeidelik R14 en R17, terwyl dit by die naaste mededinger onder die tradisionele banke R41,25 sou kos.

(Grafika verskaf deur die Solidariteit Navorsingsinstituut)

Vir verbruikers met basiese bankbehoeftes kraai FNB se Easy PAYU-rekening vanjaar weer koning in die 12- sowel as 17-transaksiemandjie.

“Hulle sluit eenvoudig meer gratis transaksies as enige van hul mededingers in. Waar dit lyk of ander banke besluit het om nie meer so aggressief aan die lae-inkomstemarksegment te bemark nie, staan FNB duidelik steeds reg om rekeninge aan almal te bied,” sê Du Buisson.

(Grafika verskaf deur die Solidariteit Navorsingsinstituut)

(Grafika verskaf deur die Solidariteit Navorsingsinstituut)

Ook in die middelinkomsteprofiel, met ʼn mandjie van 25 transaksies, is FNB se Fusion Aspire-rekening die wenner. Die maandelikse tarief van R99 sluit al die transaksies in ons mandjie, buiten die aankoop van elektrisiteit, in. Capitec is in die tweede plek, maar kan nie werklik in hierdie kategorie meeding nie omdat dit nie noemenswaardige bykomende waarde soos ʼn uitgebreide beloningsprogram bied nie. As Capitec buite rekening gelaat word, is Nedbank in die tweede plek, veral omdat alle transaksies in ons mandjie by hul maandelikse bedrag van R109 ingesluit word.

Vir verbruikers met gesofistikeerde bankbehoeftes is Nedbank se MiGoals Premium-rekening die goedkoopste, met ʼn totale koste van R240 teenoor FNB se Fusion Premier-rekening wat R247 per maand sou kos vir die 30 transaksies in ons mandjie.

“Nedbank het duidelik geleer uit FNB se wen in 2023 deurdat hulle vanjaar die meeste gratis transaksies by die maandelikse tarief insluit. So kon hulle vanjaar die goedkoopste in hierdie kategorie wees, en ook uiters mededingend wees in die kategorie vir middelklasinkomsterekeninge, en dit terwyl hulle verlede jaar die heel duurste was.

“Vernuwing in die bankwese is dus moontlik,” sê Du Buisson.

Hy sê hoewel daar nog geheimsinnigheid kan wees wat beloningsprogramme betref, het al die banke waarmee Solidariteit kontak gehad het, ingestem dat meer deursigtigheid daaroor ook nodig is.

“ ʼn Mens sien dit reeds by die meeste banke en ons sal beloningsprogramme beslis weer in volgende jaar se verslag ontleed.

“Terwyl verbruikers steier onder die druk van verhoogde rentekoerse en inflasie, word banke jaar na jaar meer mededingend. Hoewel die aanlyn banke vir die meeste verbruikers verreweg die goedkoopste is, moet ʼn mens tog in ag neem dat die tradisionele banke se beloningsprogramme jou darem toelaat om iets terug te kry ook. Ons hoop om volgende jaar die nuwe programme wat banke beloof te ontleed.”

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

domheks ·

ABSA moet hull skaam! Hulle diens is uiters swak en dan nog ten duurste!

Dries ·

Domheks, stem saam. Ek is n klient van Absa, sal my opsies moet oorweeg.

Karen ·

Ek stem nie saam nie. Absa is NIE deursigtig met kostes nie. Geld verdwyn uit my rekening sonder dat ek kan sien waarvoor dit is. Rente is astronomies. Jy kan jou lewe lank by hulle bank en hulle sal nie bv. n huislening goedkeur nie. Ek dink dit is omdat hulle dan 11,75% rente moet vra teenoor amper 24% op persoonlike lenings. Ek verpes Absa bank met n passie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.