SA countrysanger sterf

Jason Bradley (Foto: Facebook)

Medelye stroom in vir die Suid-Afrikaanse countrysanger Jason Bradley nadat hy Dinsdag oorlede is ná ʼn lang siekte.

Maroela Media het voorheen berig dat hy in ʼn hospitaal in Heidelberg in Gauteng behandel is nadat ʼn groot ystertekort en lae bloedtelling by hom gediagnoseer is.

Tina Botha, Jason se vrou, het toe gesê haar man sukkel die afgelope paar jaar met ʼn lewerprobleem en lae ystervlakke.

Dit is egter nie bekend wat presies tot sy dood gelei het nie.

Mara van den Bergh, ʼn musiekagent en bekende in countrymusiek-kringe, het die nuus van Jason (39) se afsterwe op haar sosiale media bevestig.

“Tyd om afskeid te neem van ʼn wonderlike, talentvolle kunstenaar,” het Van den Bergh op Facebook geskryf.

“Jy het werklik jou stempel in Suid-Afrika en die VSA afgedruk. Ons het jou geken as ʼn liefdevolle pa, seun en man vir Tina. Dit was ʼn eer om saam met jou te werk. Jy was so ʼn talentvolle en nederige kunstenaar.”

Jason Bradley. (Foto: Facebook)

Luidens Van den Bergh se inskrywing het Jason vreedsaam gesterf. “Ons diepste simpatie aan Tina en die familie. Mag hy in vrede rus.”

Musikante soos Lee Vaughn, Rinel Day, Jeanette Pretorius en Granville Michaels het hul medelye op Facebook uitgespreek.

“My liewe vriend Jason Bradley. Ek het nie woorde nie. Ek is geskok. Dankie vir jou vriendskap oor die paar jaar wat ons mekaar kon ken. Rus sag, vriend,” het Michaels geskryf.

“Watter hartseer nuus is dít nie. Jason was ʼn vegter, ongelooflike musikant en baie goeie vriend. Tina, ons gebede is met jou en die kinders. Dit was ʼn voorreg om Jason te kon ken,” het Pretorius gesê.

Jason laat sy vrou, Tina, en drie kinders, Jasmine, Keagan en Owen, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

ronel ·

Jason was een van die talentvolste kunstenaars ek ooit geken het, hy was altyd bereid om sy hand uit te steek na sy medemens en het altyd n glimlag gehad vir almal, hy en Tina albei was altyd daar vir die wereld om hulle. Jason se plek gaan ongelooflik leeg wees in ons musiek wereld!

Skappie ·

Baie sterkte aan sy gesin en vriende kring. Mag onse Liewe Heer julle almal deur hierdie moeilike tyd dra en julle styf in Sy arms vashou.

Nie Verbaas ·

“Dit is egter nie bekend wat presies tot sy dood gelei het nie.” Dit is nie aanvaarbaar nie. Rus in vrede.

Antoinette ·

miskien moet jy die berig weer lees.
Daar is gese “hy is n paar jaar gelede met groot yster te kort en lae bloedtelling”
“Sukkel afgelope paar jaar met lewer probleem en lae ystervlakke”

Nou wat nou ·

Dit is aanvaarbaar in my opinie – niemand behalwe sy naaste familie en vriende hoef die redes te weet nie, ons as publiek is verseker NIE geregtig daarop om dit te weet nie. Wat maak dit in elke geval saak hoe die persoon oorlede is. Sterkte aan al die geliefdes in die moeilike tyd

Scholtz ·

Die redes vir en omstandighede rondom Ge Korsten se dood is tot vandag in geheimenis gehul.

Scholtz ·

Wat die mees tragiese hier is, is dat nie enkele mede-Christen geloofsgenesing aan hierdie Christen kon bedien nie. Dit is ‘n slegte advertensie vir die Christelike geloof.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.